
Die ou vissersboot by die hoofstrand van Jeffreysbaai, die Geelstert, is sommer weer blinklyf nadat dit opgeknap is. Die Dorp van Dromers se span het hom weer die kenmerkende geel geverf, nadat wind en weer verwering meegebring het. Dis die tweede keer dat hulle die Geelstert opdollie.
Die boot het nou al ’n bekende baken in die dorp geword en is ’n simbool van die eerstydse aktiewe visvangbedryf hier. Dit dateer uit die sestigerjare. Geelstert is een van die laaste sowat twintig vissersbote wat by Jeffreysbaai werksaam was.
Die Geelstert het al oor die jare verskeie eienaars gehad, en so ook van naam verander. Dit is al “Barnie” en “Noutoenou” gedoop, en uiteindelik “Geelstert”.
Die eerste eienaar was Ben Hugo wat die boot in Knysna laat bou het. Na vele diepsee vaarte en blinklywe uittrek, het die boot hoog en droog op die strand bly lê.
In 1972 het Danie Baard navrae gedoen by die polisie oor die verlate wrak en eienaarskap geneem. Hy het dit opgeknap en geel geverf, en van toe af is dit bekend as die Geelstert.
Dail Titus was toe die kaptein van dié boot. Titus was die laaste eienaar nadat hy dit in 1975 by Baard gekoop het.
Nadat die boot se enjin onklaar geraak het, het dit weer vir baie jare eenkant gelê. ’n Groep inwoners het al in 1994, in samewerking met die munisipaliteit, begin beplan aan die wrak se restourasie. Dit was ’n groot feesviering toe ’n klompie ou vissermanne die opgeknapte vissersboot in 2000 strandlangs gesleep het tot waar dit nou is. Dit is opnuut die Geelstert gedoop.
Titus, wat al oorlede is, se weduwee Daphne, was al by die Geelstert waar dit ’n ereplek in die dorp aan die strandfront het. Sy was baie ingenome en het selfs foto’s gewys van haar man destyds by die boot, wat hulle lewensaar was.