Tussen die warboel van verskeie ekonomiese uitdagings, bly Moedersdag ’n belangrike deel van die Suid-Afrikaanse Meimaand-kalender.
Hoewel dit eintlik elke dag moet gebeur, het Suid-Afrikaners die kans om amptelik op 8 Mei ‘dankie’ te sê en eer te betoon aan al die moederfigure in hulle lewe. Hoeveel te meer om hulle ook by te staan sodat hulle een aspek van hulle daaglikse aktiwiteite, naamlik geldsake, kan makliker maak in die proses. Selfs, al lyk dinge deurmekaar en finansies trek swaar.
Ma’s word daagliks gekonfronteer met uitdagings soos om duur lewenskostes aan te pak (soos die brandstof- en inkopiepryse) en om seker te maak die begrotings klop elke maand. Dit is duidelik dat Suid-Afrikaanse ma’s alle ondersteuning (en advies) nodig het om hulle finansiële laste stelselmatig te help aanpak.
Volgens Carla Oberholzer, woordvoerder en skuldadviseur by DebtSafe, is daar ’n hele paar uitdagings wat moeders se finansiële situasies kan belemmer.
Die volgende voorbeelde is slegs ’n druppel in die emmer, maar kan wel help om ’n beter realiteitsprentjie te skep oor ma’s se moontlike struikelblokke:
- Kruideniersware-kostes, hoë brandstofpryse, skoolgelde en verskeie ander krisisse of verpligtinge dra by om lewenskostes by die dag duurder te maak.
- Werk is ook skaars en deesdae ontmoet ’n ma se inkomste nie noodwendig al haar uitgawes (of selfs skuldverpligtinge) nie.
- Huishoudelike situasies kan ook ma’s se geldsake kniehalter. Volgens kundiges dra die sogenaamde versuim-om-te-begin sindroom by dat jong volwassenes steeds by hulle ouers bly of die realiteit van ’n toebroodjie-generasie neem oor – waar werkende Suid-Afrikaners (insluitend ma’s) ondersteuning aan ’n geliefde (soos ’n broer, suster of ouer) dikwels moet bied.
So, wat nou gemaak indien een van, of al die bogenoemde realiteite tans moeders se werklikheid of geldsituasies weerspieël? Ma’s is uithouers asook aanhouers en moet daarom konstant seker maak dat hulle hul geldsake effektief bestuur.
Hier is ’n paar wenke wat kan help om dit te doen:
- Eksterne faktore (die duur kospryse, buitelandse sake/gebeurtenisse, oliepryse, rentekoerse of randwaardes) wat die ekonomie beinvloed is buite ma’s se beheer. Moeders moet, of kan, dit raaksien vir wat dit is EN moet nie so hard op hulself wees en dink dat dit hulle skuld is nie.
- Ma’s moet hulle eie ‘mini-ekonomie’ vir hulself opbou en kyk waar hulle moontlik iets soos ’n ekstra inkomste kan genereer. Hulle kan werk met wat hulle het, en veral in ’n tyd soos dié, kreatief raak en addisionele klasse aanbied, begin bak en brou, of iets doen wat natuurlik kom en só meer geld tot die huishouding (dalk nie vandag nie, maar môre) by-voeg.
- Dit is belangrik om by ’n maandelikse begroting te bly en ook een dadelik te begin opstel indien dit nog nie tans aangewend word nie. Onthou: ’n ma moet met ’n basiese begroting begin – inkomste minus uitgawes. Bemoedig haar om ook daardie bankstate te bekyk en help haar om ontslae te raak van al die onnodige ‘spanderingslekkasies’/‘geldjakkalse’ of luukshede (soos byvoorbeeld ’n gymnasiumkontrak wat nie tans benut word nie, of die tipe TV-pakket wat nie regtig gebruik word nie).
Dit is tyd om moeders te eer vir alles wat hulle doen. Deel daarom die bogenoemde finansiële wenke met hulle en help hulle om solank een aspek in hulle lewe so bietjie makliker te maak.
Daar is verskeie uitdagings waarmee ma’s gekonfronteer word deesdae, maar as daar iemand is wat bo haar omstandighede kan uitstyg, is dit ’n MA. Al die ma’s daar buite word ’n bemoedigende en gelukkige Moedersdag (8 Mei) toegewens.
– UITGEREIK DEUR DEBTSAFE