
Die Penne en Steke Engeltjies, ’n plaaslike groep van dames wat weekliks bymekaar kom vir hekel en kuier, gaan deelneem aan ’n nasionale marathon aangebied deur die ATKV op 26 en 27 Mei, waar hulle, saam met hekelgroepe van regoor die land in 87 verskillende lokale, vir 30 ure lank gaan hekel.
Hierdie safari-marathon word landswyd gehou en deelnemers kan bymekaar kom via “YouTube livestream” om deel te wees van die pret.
Die Penne en Steke Engeltjies gaan by een van die dames se woning bymekaar kom vir die twee dae en 30 ure se hekel en brei, waar hulle in skofte van drie tot vier ure gaan hekel en me- kaar aflos sodat daar gedurende die 30 uur ten minste twee dames is wat heeltyd hekel.
Die klub is gestig op 3 November 2021 deur Annemarie Rabie en Christa Pretorius, waar hulle van toe af elke Woensdag vanaf 9:00 tot 13:00 bymekaar kom.
Hulle het self in dié tyd wol deur middel van skenkings van regoor Suid-Afrika en die wêreld vir hierdie marathon ontvang.
Finansiële steun vir wol-aankope van familie en vriende in die VK, Ierland, Rusland, Kanada en Dubai is ook ontvang.
“Ons wil graag die volgende dames bedank wat help met die hekel van blokke: Lora, Joey, Charmaine, Joan, Susan, Theresa-Anna en Marinda asook Linda, Ronel, Lea, Hester en Rita van Jeffreysbaai en Gqeberha en Magda van Ellisras,” het Christa gesê.
Inwoners van die Edenglen tehuis vir bejaardes is ook fluks aan die werk met blokke hekel en aanmekaar werk.
Annemarie het bygevoeg dat hulle baie dankbaar is vir die besighede wat wol en finansies geskenk het vir die marathon, onder andere Leon Bouwer van E & E Tuindienste asook Pitouts.
Die groep verwelkom en enige verdere skenkings van wol.
- Vir meer inligting oor die projek, of om ’n skenking te maak, kontak vir Annemarie op 083 483 3526.