
Die Ripple Hill Hotel op Patensie het die afgelope ses weke gesorg vir groot vermaak met ’n hengelkompetisie wat deur hulle aangebied is. Mans, vroue en kinders het aan dié jaarlikse kompetisie deelgeneem, wat ten doel het om bewustheid vir die bewaring van kwynende visbronne te skep.
Daar was 16 junior en 36 senior inskrywings en ’n totaal van 54 visse is ingeweeg en suksesvol vrygelaat.
Die vang-en-vrylaatreël beteken dat geen vis vir dié kompetisie ingeweeg mag word indien die vis se suksesvolle vrylating nie op video vasgelê word nie.
John Moore, eienaar van die Ripple Hill Hotel sê, “Wanneer ’n hengelaar ’n vis vang en wil inweeg, moet ’n video geneem word van die vis se lengte en hoe die vis daarna suksesvol vrygelaat word.
“Daar is ’n WhatsApp-groep waarop hierdie video’s gedeel word.
“Dié formaat maak die kompetisie spesiaal want ’n mens voel deel van mede-hengelaars se ondervindings.”
Die prysuitdeling is Saterdag, 14 Januarie by die Ripple Hill Hotel gehou. Daar was ook ’n spitbraai wat deur al die deelnemers en hul families bygewoon is.
Die algehele wenner vir die jaar se kompetisie was Deon van Jaarsveld (junior) met ’n spog-kabeljou wat 39kg geweeg het voordat dit suksesvol vrygelaat is.
Die organiseerders bedank die borge: Kwaggaskloof Sitrus, Ripple Hill Hotel, Commercial Marine, Angling Marine, Waldo Kleyn, Gustav Bell, Coastal Netting, Donkin Financial Services, FRB Concrete en Jbay Planthire.