
Met sy woestynlandskappe en kontrasterende dele wat die Groen Kalahari genoem word, en ook uitgestrekte vlaktes en rots- en bergagtige dele, is die Noord-Kaap al meer die gekose bestemming vir ekstreme sportsoorte en avontuurbelewenisse.
Van die eerste ekstreme sportsoorte wat hier op die internasionale kalender aangebied is, die Kalahari Augrabies Extreme Marathon (KAEM), het onlangs vir die 21ste keer plaasgevind.
Op Vrydag 14 Oktober het tientalle deelnemers ná byna 250 km die eindstreep oorgesteek. Weens uiterse hoë dagtemperature wat op veral dag drie en dag vier beleef is, is die aanvanklike afstand ietwat verkort.
Die Suid-Afrikaans gebore en oud-Upingtonner, Ettienne Coetzer, was eerste oor die eindstreep. Die 39-jarige Coetzer, ’n oud-leerling van die Hoërskool Duineveld, is nou ’n vlieënier in die Britse weermag.
Hy vertel hoewel hulle as kinders die Augrabieswaterval besoek het, het hulle nooit die staproetes daar gedoen nie. Tog glo hy omdat hy die tipiese terrein geken het, dit hom in sy voorbereiding gehelp het. Coetzer het nog nooit voorheen ’n veldwedloop of ’n wedloop oor skofte aangepak nie.
Wat vir hom egter uitstaan, is die ongelooflike mense wat saam met hom deelgeneem het.
“Jy kan nie met daardie omgewing baklei nie; dit is nie daar om jou te kry nie.”
So vertel die Suid-Afrikaner, die 53-jarige Riana Henning, wat die eerste vrou oor die eindstreep was. Dit was dié arbeidsterapeut van Pretoria se eerste deelname aan die KAEM.
Sy sê sy het die afgelope sewe jaar “weer ernstig begin hardloop” en dat sy nog altyd daarna gehunker het om ’n woestynwedloop te doen.
“Dit het absoluut my verwagtinge oortref. Ek het gegaan met die idee om te kyk hoe dit is en voor die tyd het ek oor baie aspekte gewonder soos my swaar rugsak.
“Maar ek het met vreugde gehardloop; vry, en sonder laste.”
Sy het baie gefokus en berekenend gehardloop, maar haarself nooit gedruk nie.
Die “brutal beauty” van die omgewing en die groot hoeveelheid voëls was van die aspekte wat tot haar besondere spirituele ervaring bygedra het.
“Gee jou oor aan die omgewing; word een met dit waarmee jy besig is,” is Henning, wat al ’n paar 100 Milers op haar kerfstok het, se raad.
Sielsverrykende avontuur
Die KAEM is fisies en geestelik uitdagend en verg behoorlike voorbereiding. Maar dit word tog as ’n sielsverrykende avontuur beskryf.
“A test of mental and physical strength with copious amounts of soul searching throughout seven days. The discovery of the human body’s ability to adapt to the extreme conditions within a very limited time frame and continually adapt is profound!” So skryf die 51-jarige radiopersoonlikheid Gavin Buckle wat ook vanjaar sy eerste KAEM voltooi het, op KAEM se Facebook-blad.
Die KAEM-roete strek deur dele van die Augrabieswaterval- Nasionale Park en oor aangrensende plase. Die terrein wissel van rotsagtige dele, sanderige rivierbeddings, koppies met groot rotse en uitgestrekte grasvlaktes.
Die roete is vir ervare atlete van 21 jaar en ouer geskik, maar ook vir stadiger deelnemers en rugsakstappers. Deelnemers moet vooraf ’n mediese ondersoek slaag.
Simoné Basson, deel van die KAEM-bestuurspan, vertel dat dit meestal ouer persone is wat hieraan deelneem.
“Hierdie is nie ’n ‘bucket-list’-geleentheid nie. Dit mag dalk so begin, maar tydens die wedloop kom fisiese en geestelike uitdagings na vore. Meteens is jy deel van ’n nuwe familie met kameraderie wat ongelooflik is,” vertel sy.
Elke deelnemer moet sy of haar eie voorraad vir die duur van die wedloop saamdra, en die roete met behulp van ’n handboek en kaarte volg. Die roete word ook duidelik met gekleurde band, en glimmerkers vir die nag, gemerk. Water word langs die roete verskaf, maar deelnemers moet steeds ’n paar liter water saamdra.
In die nag slaap deelnemers onder tentafdakke, met geen luukses soos stortgeriewe nie.
’n Mediese span is voortdurend op bystand en in samewerking met die wedloopdirekteur kan ’n deelnemer versoek word om te onttrek indien dit duidelik is dat die persoon nie in die ekstreme omstandighede verder met die wedloop moet aangaan nie.
Die afstande wat per dag afgelê word, wissel van 23 km tot 40 km. Die langste skof is 70 km lank, en ’n deel daarvan word in die nag gedoen waarvoor deelnemers met koplampe moet hardloop.
KAEM is in 2000 deur Estienne Arndt, Nadia Arndt en Simon Kelly begin. Dit word nou deur die KAEM-bestuurspan as Augrabies Extreme Marathons CC bedryf. Basson vertel dat die wedloop gewoonlik in Oktober aangebied word – ná die ergste koue verby is en voor die ergste hitte begin.
Die stand van die maan moet ook in ag geneem word omdat die geleentheid nie tydens donkermaan kan plaasvind nie.
Inskrywings vir 2023 binnekort oop
Die uitslae van die vyf topposisies is soos volg:
Mans:
1. Ettienne Coetzer: 28:37
2. Andy Williams (Verenigde Koninkryk): 30:22
3. Nicolas Creoff (Frankryk): 34:51
4. Christoph Bunse (Duitsland): 35:27
5. Niel Stander (Suid-Afrika): 35:58
Vroue:
1. Riana Henning: 36:37 (sy neem ook die sewende algehele plek in)
2. Este Bezuidenhout (Suid-Afrika): 39:13
3. Daniela Ziegler (Switzerland): 42:03
4. Annie Dougall (Verenigde Koninkryk): 48:52
5. Julia Boyd (Italië): 50:40
- Inskrywings vir volgende jaar se KAEM behoort eersdaags oop te maak. Vir meer inligting, hou die webwerf kaem.co.za dop.
- Alle foto's is deur Hermien Webb van Hermien Webb Photography geneem.