.

Boek laat lig van waarheid skyn

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Moord
Die boek, Moord op Pofadder, is pas vrygestel.

Die treurspel en invloed van ’n huurmoord in ’n plattelandse gemeenskap is met die skryf van dié boek vertel – al sal sommige vrae in die moordsaak van Leon Brits van Pofadder waarskynlik onbeantwoord bly. Elkeen wat dit lees, kan daaruit leer. 

“Moenie dink jy gaan sommer met moord wegkom nie,” sê Charné Kemp, skrywer van die nuwe boek Moord op Pofadder. Volgens Kemp, ’n ervare ondersoekende joernalis met jare se hofervaring, sal drie onweerlegbare getuienisse – DNS, selfoonrekords en kringtelevisiekameras – meebring dat ’n skuldige die een of ander tyd vasgetrek word. 

Moord op Pofadder vertel die voorafgaande gebeure tot die huurmoord op die 41-jarige Leon, ’n bekende hotelier, sakeman en boer van dié Noord-Kaapse dorp; en die ondersoek daarna wat tot die inhegtenisneming, skuldigbevinding en tronkstraf van Suretha Brits, Leon se vrou, en drie ander gelei het.   

“Die slagoffer is dood. Hy kan nie sy storie vertel nie,” sê Kemp. Tog gee dié boek hom as’t ware ’n stem.

Maar met die lees daarvan word dit duidelik dat die vermoorde nie die enigste slagoffer was nie. Dit is ook nie net sy kinders, familielede en vriende wat deur sy moord geraak is nie; sy moord het wyd in die gemeenskap uitgekring en indirek talle ander ook slagoffers gemaak. Soos die 11 kinders van dié wat skuldig bevind is, wat nou sonder een of albei ouers moet grootword.

 ‘Onskuld’ verrassend

Vir Kemp, wat met hierdie boek haar derde in die nie-fiksie misdaadgenre geskryf en publiseer het, was dit verrassend dat Suretha so ver sou gaan om haar onskuld voor te hou. Op ’n manier was Suretha ook naïef; sy het lank vasgehou aan die oortuiging dat haar minderjarige kinders rede genoeg sou wees dat sy nie in hegtenis geneem sal word nie. 

Die gebeure rondom die “selfoon tussen die twee bra’s” – ook die naam van ’n hoofstuk in die boek – wys Suretha was nie bang om iets te doen om haar sin te kry nie. 

“Sy was bereid om tot die uiterste vir haar onskuld te veg,” vertel Kemp, wat maande lank deur hope dokumente, persoonlike onderhoude, stemboodskappe, verklarings en opnames van hofverrigtinge gewerk het. 

“Die onderhoude, opnames en stemboodskappe is presies getranskribeer. Dit het my ook gehelp om die tipiese Afrikaans van daardie streek vas te vang en karakterisering te doen.

Alles wat ek geskryf het, kom uit onderhoude, gesprekke, hofverskynings en verklarings. Dit is hoekom kruisondervraging tydens ’n verhoor so belangrik is. Daar kom baie besonderhede uit.
Charné Kemp

Die kenmerkende manier hoe mense van die streek – en veral Suretha – Afrikaans praat, het die aanvanklike styl van die boek verander en toe aangevoer.  

Kort ná die moord op 7 Oktober 2020 het mense vir Kemp vanuit die Boesmanland gebel en gesê “vreemde dinge word vertel”; hulle hoor stories van diamante, Krugermunte, geld, verhoudings?.?.?.

“Vriende in die ondersoek het ook voorgestel ek skryf ’n boek.” Kemp het toe geweet “iets is op pad” en solank nommers, name en agtergrondinligting versamel en vir ’n inhegtenisneming gewag. Sy het ook geskryf oor dit wat toe reeds bekend was. 

“Teen Augustus 2021 het ek 30 000 woorde geskryf. Ek het die boek anders benader; byna akademies.” 

Teen daardie tyd was die 30-jarige Suretha reeds in aanhouding nadat sy op 29 Maart 2021 in hegtenis geneem is. 

Die middelman in die huurmoord, Jacques van Vuuren (toe 37), het toe reeds gebieg, ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en ’n effektiewe vonnis van 20 jaar gevangenisstraf ontvang. Hy is op 15 Oktober 2020 in Piketberg by ’n bushalte in hegtenis geneem kort nadat hy besluit het om homself aan die polisie oor te gee. Ook die name van die ander twee beskuldigdes was bekend nadat hulle in Kathu in hegtenis geneem is.

Enrich Williams (toe 34) is op dieselfde dag as Van Vuuren in hegtenis geneem, en Amantle Bareki (toe 24) net meer as ’n week later op 23 Oktober. 

“Die boek het struktuur begin kry toe Van Vuuren in November 2021 in die verhoor van die ander twee getuig het,” vertel Kemp. “Toe het ek die begin van die boek gesien. Vandaar het die struktuur in plek geval.” 

Die boek begin in ’n donker voertuig waar Van Vuuren, Williams en Bareki deur die nag van Kathu na Pofadder ry met ’n duidelike opdrag: Maak vir Leon dood.

‘Waarom het ek begin?’

Kemp, wat saam met haar tandartsman Attie en hul drie honde in Kimberley bly, moes deeglik beplan aan die tyd wat sy in Pofadder en later Upington deurgebring het. Tussen die Noord-Kaapse hoofstad en Pofadder strek meer as 600 km se pad, terwyl dit net meer as 400 km tot in Upington is.

“Ek moes my tyd daar goed benut, juis omdat dit so ver is. Ek het elke keer met mense gepraat, kontakte opgebou, die omgewing leer ken, die agtergrond nagevors.”

Aanvanklik het die inwoners van Pofadder, Marchand en Kakamas, asook mense uit die omgewing, nie maklik met Kemp as ’n vreemdeling en buitestander gepraat nie. 

“Hulle was baie versigtig. Maar ook, baie van hulle was staatsgetuies en mag nie met die media gepraat het nie.“

Eers toe Suretha skuld erken het, het die inwoners begin praat. Dit was asof hulle verlig was om te praat.
Charné Kemp

“Ek sou nog met Suretha wou praat, maar my versoek is glad nie beantwoord nie.”

Kemp se grootste uitdaging was om teen tyd te werk.  

“Altesaam het ek so vyf, ses maande aan die boek gewerk. In November, Desember, Januarie en Februarie was ek van 05:00 tot 22:00 voor die rekenaar. 

“Baie kere het ek gewonder waarom ek dit begin het.”

Sy het haar skryfwerk in drie dele gedeel: dit wat klaar is, dit waarmee sy besig is, en dit wat sy nog wil skryf. Dan was daar ook die voortdurende terugvoering van haar redakteur Dolf Els by Tafelberg-uitgewers, en sy voorstelle waaraan sy aandag moes gee.  

Moord in Pofadder neem die trant van skeppende nie-fiksie in, en word uit verskillende karakters se oogpunt vertel. Elk van die 46 hoofstukke, wat kort is en maklik lees, begin met ’n prikkelende opskrif.

In die tydperk van die moord op Leon was Kemp met haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) besig. 

“Ek is oneindig bly oor my meestersgraad-manuskrip,” merk Kemp op. ”Terugskouend besef ek dat die manuskrip, wat fiksie is, dieselfde struktuur of agtergrond as die werklike moordsaak het – minnaars, ‘n vrou, ’n kwesbare man en ’n huurmoord. Die manuskrip, en dit wat ek tydens my meestersgraad geleer het, het my geweldig gehelp.”

Wat haar ook in die skryfproses help, is roetine.

“Terwyl ek werk, moet ek tee drink. En my drie honde moet op hul beddens in my studeerkamer wees. Daar sal ook ligte klassieke musiek in die agtergrond wees; niks waarin iemand iets sing nie.” 

Kemp, reeds 12 jaar in Kimberley, is oorspronklik van Florida in Gauteng en het aan die UV studeer. Sy en haar man het ook ’n paar jaar in Londen gewoon en gewerk; en daarna in Kuruman, vanwaar hulle na Kimberley verhuis het. 

Al drie haar boeke, ook die meestersgraad-manuskrip wat nog nie gepubliseer is nie, is in en deur die Noord-Kaap geïnspireer. Sy beskou die Noord-Kaapse ooptes, vlaktes, berge en dale as bekoorlik; en sy en haar man is gaande oor die geskiedenis van die Anglo-Boere-oorlog wat hulle hier leer ken het.

Wonder oor lig en donker

“Ek was nog altyd in die makabere geïnteresseerd,” vertel Kemp. Sy was daardie skoolkind met ’n uitveër en skerpmaker wat soos ’n kopbeen lyk. Sy was gek daaroor om opstelle te skryf.

Sy hou ook daarvan om begraafplase te besoek, en wonder altyd oor die lig en donker wat in elke mens is.

 “Tydens my hofverslaggewing het ek deur genoeg lêers en dokumente gelees, en die foto’s van die slagoffers het my nie afgeskrik nie.”

As ’n junior joernalis by Beeld het sy haar eerste hofsaak in die Johannesburg-landdroshof bygewoon. Sy kan nie die saak onthou nie, maar wel haar eerste storie op Beeld se voorblad.  

Ná ’n dag in die hof met nie veel opspraakwekkende sake nie, het sy deur die hofregister geblaai en die inligting vir haar eerste “scoop” en voorbladstorie raakgesien: Die sanger André Schwartz wat ‘n verkeersboete van R50 gekry het. Sy het die storie geskryf en Beeld het dit op die voorblad gebruik.

Jare later in Kimberley, toe Deon, Christel en Marthella Steenkamp op Goeie Vrydag van 2012 op die gesinsplaas buite Griekwastad vermoor is, het Kemp geweet: Dit is ’n storie wat vertel moet word. Haar eerste boek, Moord op Griekwastad, is geskryf.

Haar tweede boek, Bloed, dunner as water, handel oor gesinsmoorde. 

Oor kritiek op die bevoegdheid van polisielede en die doeltreffendheid van die regstelsel, sê Kemp daar is uitstekende én lui polisielede, en swak ondersoeke gebeur ongelukkig.

“ ’n Mens hoop daar is nog genoeg jong polisielede wat werklik ’n verskil deur hul loopbaan wil maak. Betreffende die regstelsel; soos wat ek dit in howe beleef, kan ek net komplimente gee. Dit is egter so dat ’n staatsaanklaer op die polisie-ondersoek aangewese is.”

In die Brits-moordsaak was uitstekende polisie-ondersoek betrokke, wat daartoe meegebring het dat Suretha op 29 November 2021 in die hof in Upington getuig het dat die huurmoord die “swakste besluit” van haar lewe was. 

In Kemp se joernalistieke loopbaan – wat selfs artikels vir vroue- en landboutydskrifte insluit – het sy in soveel hofsake gesien dat spyt te laat kom.

“Om soos Suretha tronk toe te gaan en jou familie agter te los is erger hel as om deur ’n egskeiding te gaan,” merk sy op.  

Benewens harde banke en strak prosedures is krakende deure vir haar so kenmerkend van hofsale. Ook die geklingel van sleutels wat deur polisielede gedra word om die selle by die hofgebou oop en toe te sluit wanneer die beskuldigdes na die hofsaal gebring word. 

Maar ’n hofsaal se atmosfeer hang van jou eie gemoedstoestand af, sê Kemp.“En wanneer die waarheid seëvier, is dit asof die lig helderder skyn.” 

moord
Die inwoners van Pofadder, 'n rustige Noord-Kaapse dorp, is aanvanklik verdeeld gelaat ná die moord op Leon Brits, bekende inwoner.
moord
Die moord op Leon Brits van Pofadder het skokgolwe deur dié plattelandse gemeenskap gestuur.
Charné
Charné Kemp

besig om te laai... Regstreeks
United States of America 310/5
Scotland 206/10
Rand - Dollar
15.57
+1.0%
Rand - Pond
19.66
+0.2%
Rand - Euro
16.71
+0.1%
Rand - Aus dollar
11.15
+0.1%
Rand - Jen
0.12
+0.2%
Goud
1,853.66
0.0%
Silwer
22.12
0.0%
Palladium
2,076.50
0.0%
Platinum
956.50
0.0%
Brent-ruolie
119.43
+1.7%
Top-40
63,883
+1.4%
Alle aandele
70,486
+1.4%
Hulpbronne 10
76,948
+0.6%
Industriële 25
76,115
+1.3%
Finansiële 15
16,257
+2.5%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos