.

Derde groot ongeluk in NK binne 2 maande

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Altesaam 24 mense het binne die afgelope twee maande in drie afsonderlike gru-ongelukke hul lewe op Noord-Kaapse hoofpaaie verloor.

Die mees onlangse voorval, waarin ses mense dood is, het Saterdag (29/10) omstreeks 19:45 op die N18-roete tussen Hartswater en Jan Kempdorp plaasgevind toe ’n Polo- en Hyundai-voertuig reg van voor gebots het.

Op 24 September is sewe mense in ’n gru-botsing op die R31-roete tussen Kuruman en Daniëlskuil dood, en op 4 September is 11 dood in ’n botsing op die N14 sowat 21 km buite Kuruman.

Lt.kol. Sergio Kock, polisie­woordvoerder, sê in Saterdag se ongeluk is drie meisies dood wat in ’n Polo-voertuig gereis het, asook ’n man en twee vroue wat in die Hyundai-voertuig was.

Die oorlede meisies is die Coetzer-sussies Janke (19) en Lize (16) van Jan Kempdorp; ook Odine Swanepoel (19), ’n goeie vriendin van Polokwane uit hul skooldae. ’n Vrou en ’n man wat saam met hulle in die voertuig was, Martine Degenaar (19) en Albie Schutte (19), is vir behandeling na ’n hospitaal gehaas.

Janke en Liza Coetzer is noodlottig in die ongeluk beseer.
Odine Swanepoel by haar ouers, Jacques en Lena-Marie Swanepoel.

Sipho Vuma (45), Sindiwa Vuma (49) en Barrel Makhowa (59), wat in die Hyundai-voertuig was, is op slag dood.

Die Coetzer-sussies was Johan en Louisa Coetzer se enigste kinders. Odine (19) word deur haar ouers Jacques en Lena-Marie, en Xander (22), haar ouer broer, van Polokwane oorleef.

Die sussies se troosdiens is Donderdag (03/11) om 16:00 in die NG kerk Jan Kempdorp, en Swanepoel se troosdiens Saterdag (05/11) om 11:00 in die NG kerk Noord in Polokwane.

Albie, ’n nefie van die Coetzer-sussies, is in ’n kritieke toestand. Hy word in die waakeenheid van die Lenmed-hospitaal in Kimberley verpleeg. Hy het swelling op die brein en is aan masjiene gekoppel, en sy bo- en bekkenbeen is onder meer gebreek.

Martine, wat intermediêre-fase-onderwys aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom studeer, is in ’n stabiele toestand nadat sy met gebreekte ribbes in dieselfde hospitaal in Kimberley opgeneem is. Haar een long is raakgesteek en ook haar lewer is beskadig.

Die oorlede meisies ken mekaar van die Hoërskool Pietersburg in Polokwane, waar die Coetzer-sussies ’n tydperk skoolgegaan het voordat hulle saam met hul ouers na Jan Kempdorp teruggekeer het.

Dié skool sê in ’n verklaring sy “gemeenskap betreur die afsterwe van drie pragtige jong lewens. Ons dink aan elke familielid, vriend en vriendin van hierdie jongmeisies. Ons bid dat die Here hul sal toevou in Sy liefde en sal vertroos. Rus sag by Jesus se voete.”

Janke en Odine was eerstejaarstudente aan die NWU, maar het in verskillende koshuise gewoon. Janke het hoërskool­onderwys en Odine BCom-ondernemingsbestuur studeer. Lize, wat in gr. 10 was, het in die koshuis van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley gebly. Al drie was kranige netbalspelers.

Die Coetzer-egpaar het Maandag die lyke van hul kinders in Kimberley uitgeken en Lize se koshuiskamer opgeruim, sê ds. Diederich Kleynhans van die NG kerk in Jan Kempdorp, wat die ouerpaar, familielede en vriende van die sussies bystaan. Hy was Maandag by die skool waar hy die ouers en leerlinge met berading bygestaan het.

’n Bewoë Yolande Roelofze van Jan Kempdorp, ’n tannie van die twee Coetzer-sussies, sê hul dood is ’n geweldige skok vir die familie.

“Ons het nie woorde nie.”

Magda Myburgh, ’n netbalafrigter, sê op Facebook haar hart is stukkend oor die Coetzer-sussies: “Janke en Lize julle sal altyd in my hart bly. Dankie dat ek vir vier jaar deel van jul lewe kon wees, julle twee het die mooiste harte en julle twee was die talentvolste sussies wat ek geken het. Rus sag julle twee, tot ons weer ontmoet. En Johan my hart gaan uit na julle. Mag Jesus jul styf vashou in hierdie onverklaarbare moeilike tyd. Net Hy sal vertroosting kan bring, klou vas aan Hom ons Vader.”

Odine Swanepoel en Janke Coetzer was goeie vriendinne uit hul hoërskooldae in Polokwane, al het hulle later as teenstanders teen mekaar vir hul provinsiale netbalspanne gespeel nadat Janke saam met haar gesin na die Noord-Kaap verhuis het.

Elmari Craig, skakelbeampte van die Hoërskool Pietersburg, was Odine se netbalafrigter. Sy is ook ’n vriendin wat die Swanepoel-gesin ondersteun.

“Odine was die spankaptein van die Limpopo-skolenetbalspan wat in 2021 die goue medalje in die Telkom-kampioenskap verower het. Odine was ’n fyn meisie, liefdevol en borrelend van lewe. Sy was gewild en geliefd en almal in haar graad het van haar gehou.

“Sy en Janke was beste vriendinne toe hulle saam hier op skool was en in die netbalspan gespeel het. Janke se gesin het later na die Noord-Kaap teruggetrek nadat haar tannie oorlede is.”

Pleidooi: Doen iets aan paaie se toestand

Intussen sê Theo Joubert, VF Plus-raadslid, in ’n mediaverklaring dat die afsterwe van ses mense in hierdie ongeluk die gebrekkige toestand van die betrokke pad op tragiese wyse onderstreep. Die pad moet nou opgeknap word, sê hy.

Die pad is deel van die N18, wat Warrenton (aan die N12 tussen Johannesburg en Kaapstad oor Kimberley) met die Ramatlabana-grenspos en Botswana verbind. Dit is deel van die Trans-Afrika-hoofweg, wat Kaapstad en Kaïro verbind.

Buiten ’n roete vir langafstandverkeer, is hierdie roete die hoofslagaar van die Vaalharts-besproeiingskema, een van die grootste en mees gekonsentreerde skemas in Suid-Afrika.

Vragmotors wat stadig beweeg en sigbaarheid beperk, deel die pad met passasiersvoertuie wat vinniger beweeg, sê hy.

Op enkele aansluitings na, bestaan die pad uit een baan in elke rigting, sonder ’n noodbaan links van die geel streep. Die afwesigheid van sigbare wetstoepassing deur die Phokwane-verkeersafdeling vererger die situasie.

Dit is duidelik dat beplanners besef het dat verkeersdrukte ’n breër pad sou noodsaak. Die padreserwe en konstruksie van brûe bewys dat ’n dubbelpad in elke rigting beplan was. Tot dusver het dit nog nie werklikheid geword nie.

Die Hartsvallei is een van die swaartepunte van die Noord-Kaapse ekonomie en regverdig ’n belegging in infrastruktuur. Die vraag is hoeveel sterftes nodig is om die owerheid daarvan te oortuig, vra Joubert.

'n Tydelike gedenkmuur is teen die Vergeet My Nie-koshuis by die Noordwes-Universiteit vir Odine aangebring.

Janke Coetzer en Odine Swanepoel het beste vriende gebly, al het hulle later as teenstanders vir die Noord-Kaapse en Limpopo provinsiale skolenetbalspanne teen mekaar gespeel.

Rand - Dollar
17.21
-0.1%
Rand - Pond
21.32
+0.1%
Rand - Euro
18.70
+0.1%
Rand - Aus dollar
12.24
-0.0%
Rand - Jen
0.13
-0.4%
Platinum
1,016.00
+1.2%
Palladium
1,617.34
-3.0%
Goud
1,929.54
+0.0%
Silwer
23.58
-1.4%
Brent-ruolie
87.47
+1.5%
Top-40
74,766
+0.4%
Alle aandele
80,791
+0.4%
Hulpbronne 10
77,871
-0.4%
Industriële 25
103,872
+0.7%
Finansiële 15
16,281
+0.6%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos