
Voortdurende water- en rioollekke, asook ’n algemene gebrek aan behoorlike instandhouding en herstel van pad-oppervlakke, benadeel al hoe meer nasionale en deurgangsroetes in en om die hoofstad van die Noord-Kaap.
“Miljoene is reeds tevergeefs bestee, terwyl voortdurend gesê word daar is nie geld nie,” sê Cilliers Brink, LP en nasionale woordvoerder van die DA.
Op die vooraand van nog ’n vierdag-wateronderbreking, wat van Donderdag (12/05) tot Sondag (15/05) vir Kimberley beplan word om stukkende watertoevoerpype te herstel wat verlede jaar ook herstel is, het die DA ’n oorsigbesoek aan twee punte gebring waar water- en rioollekke die struktuur van paaie bedreig.
Tydens die oorsigbesoek wat Dinsdag (10/05) deur onder andere Brink, Delmaine Christians, DA-lid van die Nasionale Raad van Provinsies, en Harold McGluwa, DA-leier in die Noord-Kaap, uitgevoer is, het Brink gesê Kimberley oorstroom as’t ware weens die Sol Plaatje-munisipaliteit se voortgesette onverskilligheid teenoor die onderhoud van infrastruktuur.
Provinsiale departemente se vermoë om sekere take uit te voer is ook bevraagteken.
’n Deel van die R31-pad, wat onder meer ’n verbindingsroete tussen talle Noord-Kaapse myne en hawens is, is gesluit om die padoppervlak wat deur die berugte “riooldam” oorstroom is, met 1,5 m te lig.
Volgens Brink is dit nog R32 miljoen wat tevergeefs deur die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke bestee word. Weens voortdurende lekke uit varswater- én rioolpype styg die vlak van dié massiewe dam glo elke dag met 40 mm.
“Die werklike oorsaak van die stygende watervlak moet aangepak word. Ons voorstel is om ‘n span kundiges te kry wat die kwessie behoorlik kan ondersoek en ’n skadebepaling kan doen,” sê Brink, ook die DA se skaduminister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede.
“Dit gaan nie help om net geld in te pomp nie.”
Die oorsigbesoek het op die R31-pad by die Barklypad-kruising plaasgevind, waar die pad toegemaak is, omdat die party en die media toegang tot die herstelwerk geweier is. Hier het Brink genoem dat die Sol Plaatje-munisipaliteit tot 64% van vars water weens lekke verloor.
Volgens Christians is die verbrokkeling van die R31-pad nie ’n verrassing nie.
“Dit het reeds in 2004 begin lek, en sedertdien is die kwessie telkens aangeroer en talle ingrypings probeer,” sê sy.
Volgens haar sal die hele stelsel by Riverton, en ook by Goggapomp, oorgedoen moet word.
“Hierdie naweek is die stad se watertoevoer weer vir vier dae af sodat daar aan presies dieselfde probleem gewerk word.”
Intussen dreig ’n soortgelyke situasie langs ’n deel van die N12 – die hoofroete na die Wes-Kaap – indien daar nie daadwerklik opgetree word nie.
“Ons wil nasionale aandag daarop vestig dat hierdie deel van die N12 ook geraak kan word indien die Sol Plaatje-munisipaliteit se water- en rioolinfrastruktuur nie dringend herstel word nie,” sê Brink. Riool vloei reeds geruime tyd vrylik in die omgewing van die Elizabeth Conradie-skool langs die N12. Weens dié lekplekke is ’n deel van die sportterrein van die skool reeds afgesper. Die riool oorstroom ’n pad in die Southridge-woonbuurt en druk onderdeur die N12-pad in stormwaterpype in die rigting van die Minerva-aftreeoord.
Christians meen die situasie by die N12 kan nog beheer word as die oorsaak daarvan nou hanteer en opgelos word. Oor ’n paar jaar is dit te laat.
Volgens Marie Beylefeld, DA-raadslid, is ’n deel van die onbeboude terrein in Southridge, wat gereeld deur riool oorstroom word, vir behuising geoormerk.
Harold McGluwa, provinsiale DA-leier, sê albei kwessies hou geweldige gesondheidsrisiko’s in. Boonop is die alternatiewe roetes, wat weens die sluit van die R31-pad onder meer verkeersdruk is, reeds beskadig.
Die party versoek dat die nasionale regering onverwyld intree.