.

‘Bewerings van knoeiery’ omgeef hoë

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, moet die omstrede sekuriteitskontrak van R384 miljoen van die departement van gesondheid en die Defensor-sekuriteitsmaatskappy deur middel van ‘n hofaansoek ongeldig laat verklaar en een van sy senior amptenare skors. 

So sê Pakes Dikgetsi, nasionale komiteelid van Cope, en Harold McGluwa, Noord-Kaapse DA-leier.

Dit volg ná die inhegtenisname van Steven Jonkers, adjunk-direkteur-generaal in die premier se kantoor verlede week saam met twee direkteure van Defensor-sekuriteitsmaatskappy wat van onder meer bedrog van R384 miljoen in Kimberley aangekla is.

Bronwyn Thomas-Abrahams, woordvoerder van die premier, sê hulle is besig om die klagstaat te bestudeer. Geen besluite is oor Jonkers se toekoms by die kantoor van die premier geneem nie.

Die saak hou verband met ‘n tydperk toe Jonkers as die hoof van die departement van gesondheid tussen 2017 en 2018 die tender goedgekeur het waarin die Defensor-sekuriteitsmaatskappy by hospitale en ander geboue aangewys is. Die bewering is dat Defensor met die hoogste bod vervalste dokumente ingedien het wat hulle ‘n onregverdige voordeel bo die ander bieër gegee het. Die waarde van die kontrak wat aanvanklik R224 miljoen was, het later tot meer as R384 miljoen toegeneem.

Lt.kol. Philani Nkwalase, Valke-woordvoerder, sê Gert Renier van Rooyen (62), Claudius Gerald Peterson (57), ’n entiteit wat hulle verteenwoordig, en Jonkers (55) word van bedrog en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële bestuur aangekla. Jonkers, ‘n voormalige polisielid, sou in 2017 in sy destydse hoedanigheid as departementshoof van die departement van gesondheid ’n tender op onbehoorlike wyse aan Defensor toegeken het om sekuriteitsdienste te lewer. 

Steven Jonkers, Claudius Gerald Peterson en Gert Renier van Rooyen stap uit die hofselle nadat hulle saam sowat R250 000 betaal het om op borgtog vrygelaat te word. Foto: Charné Kemp

Steffen Cornelius, leier van die vakbond Nehawu, het in September 2019 gesê personeel is ontevrede oor personeeltekorte, swak betaling en werksomstandighede. 

“Die premier moet Jonkers afdank, want terwyl hy duur sekuriteitskontrakte aangaan, krepeer personeel.” Pasiënte het destyds ook gekla oor swak diens.

Jonkers is in 2016 onskuldig bevind op aanklagte van korrupsie en die oortredings van die Wet op Openbare Finansiële bestuur, wat te make gehad het met die toekenning van tenders vir skoolbusdienste toe hy die departementshoof van die departement van vervoer en veiligheidskakeling was.

Daarna is Jonkers vergoed na ‘n suksesvolle arbeidsgeskil teen die departement nadat sy kontrak nie hernu is nie. Hy het nie teruggekeer nie, maar is as die administreerder van die departement van gesondheid aangestel en kort daarna as die departementshoof.

Opposisiepartye het hierteen geskop en bewerings van knoeiery gemaak, veral toe die Defensor-tender toegeken is. Dr. Isak Fritz, DA-LW, het toe beweer Jonkers is onbevoeg weens sy geskiedenis by die departement van vervoer en veiligheidskakeling. Fritz het verwys na die duur huurbedrag wat die departement aan Ocean Echo Properties vir ‘n kantoorgebou betaal het in weerwil van Pravin Gordhan, die destydse minister van finansies, se besware.

Jonkers was so seker van sy politieke onaantasbaarheid dat hy arrogant opgetree het.
Pakes Dikgetsi

Luidens die departement se 2019-‘20 jaarverslag is R9 miljoen vir dié geldjaar vir die huur begroot, sowat R730 000 per maand. Die kontrak was toe nog vyf jaar geldig. Dikgetsi sê beweringe van wanbestuur en korrupsie het oor die afgelope jare oor Jonkers gehang, “veral omdat hy met John Block, ‘n veroordeelde misdadiger, vereenselwig word. Block, ‘n voormalige provinsiale ANC-leier en LUR, dien ‘n vonnis van 15 jaar vir korrupsie uit.”

Martha Bartlett, latere LUR vir vervoer en veiligheidskakeling, het in 2016 op ‘n nuuskonferensie bevestig dat die Valke die huurkontrak met Ocean Echo Properties en die Wilcovert-kontrak vir padveiligheidsveldtogte ondersoek. Luidens die 2019-’20-jaarverslag van die departement het die portefeuljekomitee in Augustus 2019 ‘n forensiese verslag oor die Wilcovert-kontrak bespreek wat met behulp van die tesourie opgestel is. Daarvolgens het die padverkeersbestuurskorporasie in 2014 sowat R62 miljoen aan die departement vir padveiligheidsveldtogte gegee. Die departement het R42 miljoen aan Wilcovert betaal om dié projek te behartig. 

Later is bevind dat van die geld opgeraak het en sekere projekte nie voltooi is nie. Die bevindinge van die forensiese verslag was dat die departement klagtes by die Valke moet indien, die departement die verlore geld moet terugeis en tugstappe teen die voormalige departementshoof en finansiële hoof instel. Die finansiële hoof is aan ‘n tugproses onderwerp.

Bartlett het destyds ook die Phakalane-lugdiens bespreek, wat vir twee jaar met geldelike hulp van die departement tussen Kimberley, Upington en Springbok gevlieg het. Bartlett het gesê teen die tyd dat die lugdiens gestaak is, het die departement reeds R34 miljoen daarvoor betaal.

McGluwa het vandeesweek gesê die onlangse inhegtenisname van ‘n aantal senior amptenare in die departemente van gesondheid en ekonomiese ontwikkeling op aanklagte wat onder meer bedrog insluit, is verblydend.

“Dr. Saul moet ook geen tyd mors om sy personeel te ondersoek of te skors nie. Jonkers is een van die mees senior adviseurs wat met baie groot ekonomiese projekte gewerk het. Die ontplooiing van kaders in sy eie kantoor moet stopgesit word, sodat die regering sy integriteit en bankbalans herbou en dienslewering voortsit.”

  • Jonkers is na sy hofverskyning verlede week op borgtog van R50 000, en Van Rooyen en Peterson op R100 000 elk vrygelaat. Hul volgende verskyning is op 10 November.
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
15.06
-0.1%
Rand - Pond
20.68
-0.1%
Rand - Euro
17.47
-0.1%
Rand - Aus dollar
11.30
+0.1%
Rand - Jen
0.13
-0.3%
Goud
1,798.87
+0.1%
Silwer
24.03
-0.2%
Palladium
1,972.00
+0.6%
Platinum
1,014.01
+0.2%
Brent-ruolie
84.58
-2.1%
Top-40
60,874
0.0%
Alle aandele
67,475
0.0%
Hulpbronne 10
63,082
0.0%
Industriële 25
87,253
0.0%
Finansiële 15
14,054
0.0%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos