.

Ekspedisie bring vreugde, nostalgie

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
By die eindpunt te Karoopoort. Van links is, voor: Small Mafa Botsani en Kantoor Mohapi (die agterryers); agter: Raymond Gibson (’n agterkleinseun van een van die Gibson-broers), Klasie Lombard, Shattie van Huyssteen, Gerhard Bosch en Piet Coetzer. Regs: ’n Spesiale geskenk van die Togryersmuseum in Ceres: ’n swingel met ’n koperplaatjie. Foto’s: Verskaf
By die eindpunt te Karoopoort. Van links is, voor: Small Mafa Botsani en Kantoor Mohapi (die agterryers); agter: Raymond Gibson (’n agterkleinseun van een van die Gibson-broers), Klasie Lombard, Shattie van Huyssteen, Gerhard Bosch en Piet Coetzer. Regs: ’n Spesiale geskenk van die Togryersmuseum in Ceres: ’n swingel met ’n koperplaatjie. Foto’s: Verskaf

Die belewing van die nostalgie van weleer en nuwe lewe wat in historiese feite geblaas is.

Dít is deel van die waarde van iets soos die Vergete Grootpad-ekspedisie, sê Bertdene Laubscher, bestuurder van die Togryersmuseum in Ceres.

Sy was in die groep wat die span van die Vergete Grootpad-ekspedisie onlangs by hul eindpunt by Karoopoort in die Koue Bokkeveld verwelkom het.

“So iets hou die geskiedenis lewend en iets soos ’n ou roete wat met verloop van tyd staties geword het, herleef.

“Dit wys ook dat herdenkings belangrik is en as jy kyk na die belangstelling wat die ekspedisie deurgaans geprikkel het, wys dit mense wil graag die nostalgie van weleer beleef,” sê Laubscher.

Maar die stof van dié ekspedisie het nog skaars gaan lê of planne vir ’n volgende een laat Piet Coetzer van die Senekal-omgewing se oë blink.

Praat het opgeraak en die Karoo se stilte en natuurskoon het oorheers.
Piet Coetzer

“Ons was hartseer toe ons die eindpunt bereik het,” sê Coetzer en voeg by hulle is dankbaar dat geen teenspoed hulle getref het nie. 

Vierwielwa en perde 

Coetzer en sy span het op 12 Oktober met ’n vierwielwa en ses perde van Hopetown af na Karoopoort naby Ceres vertrek en onder meer Strydenburg, Vosburg, Loxton, Fraserburg en Sutherland aangedoen. Op 4 November het Coetzer, Shattie van Huyssteen, Gerhard Bosch en Klasie Lombard, asook die agterryers Small Mafa Motsani en Kantoor Mohapi – én Kai die worshond – die eindpunt bereik.

Met Minister, Kado, Kommandant, Karnet, Anette en Rakker, die ses swart perde van die Vreugde-Vlaamperdstoetery, het hulle so ver moontlik op die spoor van die Gibson-broers se perdekoetsroete tydens die diamantstormloop na Kimberley in die 1870’s gery. 

Te danke aan vorige koerantberigte oor die ekspedisie, wat toe nog in die beplanningsfase was, het Raymond Gibson, ’n agterkleinseun van een van die Gibson-broers, met Coetzer-hulle kontak gemaak.

Benewens waardevolle inligting, is ’n nuwe vriendskap ook gesmee en Gibson en sy vrou, Gerda, het die ekspedisie vir die eerste 100 km vergesel en hulle aan die einde weer daarby aangesluit. Tydens die tydsame tog op hoofsaaklik grondpaaie, het die gasvryheid en liefde van die plattelandse inwoners uitgestaan. “Ek het klein en stil voor my medemens en Skepper geword,” sê Coetzer. 

Tot in Australië

Langs die roete het hulle telkens mense ontmoet wat ’n blywende indruk gemaak het. So was hul aankoms in Sutherland ’n hoendervel-oomblik toe hulle met die gebeier van die kerkklokke verwelkom is.

Coetzer voel geëerd dat hul ekspedisie soveel belangstelling gekry het.“Is dit die liefde vir perde? Geskiedenis? Romantiek? Nuuskierigheid?” vra hy. 

Vir die duur van die ekspedisie is ’n WhatsApp-groep gestig waarvan die ledetal daagliks gegroei het. Op dié groep het Coetzer-hulle dag tot dag terugvoering geplaas. Stemboodskappe en video’s is per geleentheid geplaas, en met die geklop van perdepote en die disselboom op die agtergrond kon groeplede die tog in hul gedagtes meemaak. Slegs op enkele dae kon dit nie gebeur nie weens ’n gebrek aan selfoonsein. 

Die vordering van die ekspedisie is van oral gevolg: Kimberley, Boshof, die Wes-Rand, Wes-Kaap, Senekal, Clocolan, Hennenman, Rayton, Barrydale, Swaziland, KwaZulu-Natal, en selfs uit die Midde-Ooste, Engeland en Australië.

Op 13 Oktober laat weet Coetzer: “Pragtige Karoo. Verskriklike mooi uitsig,” en op 16 Oktober: “Lekker koud, selfs ek het ’n langbroek aan vanoggend,” en later: “Ek sê vir julle die wind en son en koue het ons gelooi vandag.”

Op 23 Oktober het die koue steeds nie in die Loxton-omgewing gewyk nie, en Coetzer laat weet: “Dit is koud. Die perde het jassies aan.”

Mieliemeel tot hoefysters

Allerhande statistieke is ook ná die ekspedisie met die groep gedeel: Hulle het 38 kg mieliemeel gebruik; 27 verlore perdehoefysters is vervang (so vier hoefysters het die volle 700 km gedoen); 635 hoefysterspykers is gebruik (dit is byna ’n spyker per kilometer wat afgelê is); hulle het 28 keer ingespan; die perde het elkeen elke 10 km tien tot 15 liter water gedrink; die perde het twee keer weggeloop; toe die perde fikser geword het, het hulle vier bale lusern per nag gevreet; en 30 sakke brandhout is gebruik. 

Terugvoering van lede op die groep sluit in:“Dit was ’n goeie tog met nostalgie en die hede vervleg”; “Dit het vir ons kultuurhistoriese waarde gehad. Ons het julle elke dag met belangstelling gevolg. Ek wonder of julle weet hoeveel vreugde julle verskaf het”; “Dankie dat ek kon saamry”; “Dankie vir die opwinding in ’n vaal wêreld wat julle gebring het”; en “Ek glo die Gibson-voorsate sit met groot glimlagte daar Bo. Julle het ‘vergete’ weer ‘onthou’ gemaak!”

Nog ’n ekspedisie

Coetzer sê die beplanning tot dusver is om in Oktober volgende jaar met agt perde en ’n wa met hout-en-ysterwiele na Tarkastad in die Oos-Kaap te ry, maar heelwat word nog vir die wa benodig. “Ek soek nog spaarwiele vir my wa. Indien iemand het wat net rondstaan, laat weet my,” sê Coetzer. 

Besoek die Facebookblad Vergete Grootpad 2021 vir nog foto’s en video’s. 

besig om te laai... Regstreeks
Afghanistan 254/5
Netherlands 142/3
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
15.31
-0.3%
Rand - Pond
20.61
-0.1%
Rand - Euro
17.26
+0.2%
Rand - Aus dollar
10.91
-0.1%
Rand - Jen
0.13
-0.3%
Goud
1,840.98
-0.1%
Silwer
23.74
-1.0%
Palladium
2,154.09
+0.3%
Platinum
1,017.50
-1.5%
Brent-ruolie
86.27
-1.9%
Top-40
66,079
+0.7%
Alle aandele
72,589
+0.6%
Hulpbronne 10
72,851
+1.9%
Industriële 25
90,637
-0.4%
Finansiële 15
14,797
+0.6%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos