.

Hulp uit elke oord bring hoop vir ’n nuwe begin

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Brandhulp
Sondag (03/10) het vyf vragte met bale geskenkte veevoer, meestal van die Vrystaat, in die Kimberley-omgewing aangekom om boere wat deur die brande geraak is, by te staan.

Net soos inwoners van Kimberley ’n paar maande gelede geweier het dat dié stad soos dorpe en stede in KwaZulu-Natal en Gauteng geplunder word, het die gemeenskap aan die einde van September saamgestaan om boere te help om verwoestende brande te blus en verdere hulp te verleen.

Van die vele gemeenskaps­lede wat gehelp het, is Linja Allen, Marie Byleveldt, Adriaan Gerber, Mariana Coetzee, Hermus Venter, Kevin Harding en Piet Niewenhuys.

Binne ’n dag het hulle die Orion-boerebrandfonds gestig, en twee dae later het hulle R338 000 met behulp van Burre Burger se droogtehulp-projek ingesamel. Met dié geld is ’n vliegtuig gehuur om brande te blus en verkenning oor moontlike brandgevare te doen.

Benewens ’n skenking van R115 000 het Burger ook voerskenkings gestuur en raad gegee om voerskenkings te bestuur.

Kim Fly Charters en Louw van Reenen het hul dienste en vliegtuig gratis beskikbaar gestel.

Volgens Coetzee het Daan Liversage, ’n geoktrooieerde rekenmeester, saam met hulle die oorblywende geld getel nadat die brande geblus is.

“Ons het dié geld met GWK se hulp in koepons beskikbaar gemaak waarmee boere noodsaaklike infrastruktuur en voer kan koop. Brandstof is ook gekoop vir vragmotors wat voerskenkings in Kroonstad en Klerksdorp gaan haal het. Boere van oor die land heen het gratis voer beskikbaar gemaak.

“Die dankbaarheid in ’n boer se stem is ongelooflik. Die hulp is dalk nie in geldwaarde baie nie, maar dit bring hoop vir ’n nuwe begin. Kevin het sy fisieke hulp aan boere gebied om infrastruktuur te vervang en vragte af te lewer.”

Sommige mense in die groep het mekaar nie voorheen geken nie.

Volgens van die boere wat 98% van hul weiding en tientalle stuks wild verloor het, is hul grootste behoefte aan voer, vloeibare minerale en vitamiene en probiotika vir die wild wat nou voer moet vreet waaraan hul ingewande nie gewoond is nie. Houtsparre, heiningpale, plastiek waterpype en watertenks is ook nodig.

Volgens Allen het hulle reeds besluit om ’n vliegtuig te huur toe die brande ontstaan het.

“Dit was ongelooflik hoe mense van elke gemeenskap dadelik geld geskenk het. Van R50 tot groot bedrae, en elke sent het getel.”

Die grootste oorweging was om ’n spuitvliegtuig per uur te huur om water te spuit. Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley het water geskenk, en die Lughawens­maatskappy van Suid-Afrika het sy aanloopbaan en brandkrane beskikbaar gemaak. Sakemanne het geld vir vlugte of landingsgeld geskenk, en die Pro Man-lugspuitdiens van Jan Kempdorp het een uur van sy vliegtyd geborg.

Die geldinsameling sal voortgaan sodat toekomstige rampe beter bestuur kan word.

Gerber, wat weens die aanvanklike streng Covid-19-inperking in 2020 sy loopbaan moes prysgee, het sy ondervinding as produksiebestuurder van konserttoere ingespan om hulp te verleen. Hy was een van die administreerders op die WhatsApp-groep waarin mense hulp aangebied en versoek het. Sy taak was om hulp so gou moontlik na die regte plek te stuur.

Onlangs het hy ook ’n aparte groep gestig vir mense met ’n vuurvegter op hul bakkie wat in die toekoms dadelik betrokke kan raak sou brande êrens ontstaan; ’n soort burgerlike brandweer-organisasie wat vinnig kan ontplooi.

“My hoop is dat almal met vuurvegters ook ’n radio in hul bakkie kan hê waarop ons met mekaar op een golflengte kan kommunikeer. Een van die groot probleme met die brande was dat selfoonsein in die veld swak was.”

Hy wil dié groep brandbestryders apart hou van die groep wat kos en water aanbied. Dié groep moet op sy beurt na die regte plekke gestuur word met kos en water terwyl die noodsaaklike brand-inligting na die brandslaners gestuur word.

Volgens Zandisile Luphahla, woordvoerder van die departement van landbou en omgewingsake, sal 150 bale voer van die Ritchie-voerbank en 150 ton veevoer van die Vaalharts-voerbank versprei word.

“Ons werk nou saam met die departement van samewerkende regering om ’n opname oor die skade te doen. Die inligting sal in ’n verslag vervat word om ’n rampverklaring te bekom. Dit sal hulle in staat stel om geld by die regering te bekom. Die brand het ernstige skade aan toerisme en landboubedrywe berokken. Ons wil verseker dat die skade so ver moontlik beperk word. Ons sal ook meer veldtogte begin om mense van brandgevare bewus te maak.”

Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
15.06
-0.1%
Rand - Pond
20.68
-0.1%
Rand - Euro
17.47
-0.1%
Rand - Aus dollar
11.30
+0.0%
Rand - Jen
0.13
-0.3%
Goud
1,800.27
+0.2%
Silwer
24.05
-0.0%
Palladium
1,978.50
+0.7%
Platinum
1,016.00
+0.4%
Brent-ruolie
84.58
-2.1%
Top-40
60,874
0.0%
Alle aandele
67,475
0.0%
Hulpbronne 10
63,082
0.0%
Industriële 25
87,253
0.0%
Finansiële 15
14,054
0.0%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos