’n Vrou (53) wat pas ná ’n operasie in die Mediclinic Gariep in Kimberley na bewering deur ’n manlike verpleër in die herstelkamer betas is, het Vrydag (17/06) haar eerste sessie berading gekry.
Sy het reeds ’n klag by die polisie ingedien ná die voorval van seksuele aanranding wat verlede Dinsdagaand omstreeks 19:00 gebeur het.
“Dit was skokkend en verskriklik,” vertel sy.
“Ek het ’n klein prosedure ondergaan en het nie volle narkose gekry nie.
“Die operasie sou om 18:00 gedoen word, maar dit is vertraag. Nadat die operasie eindelik gedoen is, het ek in die herstelkamer in my teaterjurk gelê. Ek het skielik iemand se hand by my private deel gevoel. Ek het my oë oopgemaak en die verpleër gesien. Dit was net ek en hy in die herstelkamer.
“Ek het sy hand weggeklap en gevra wat hy doen. Sy antwoord was dat ek nie moet bekommer nie, ek sou niks onthou nie. Sekondes daarna het ’n ander verpleër ingekom.”
Die vrou sê sy was by haar volle positiewe, maar het niks teenoor die ander verpleegpersoneel laat blyk toe sy na die saal teruggeneem is nie.
Sy het haar dokter die volgende dag in kennis gestel toe hy saalronde doen. Hy het dadelik die matrones en verpleegpersoneel ingelig en oor die voorval uitgevra.
Die hospitaalbestuurder het om verskoning gevra en gevra of sy berading benodig.
“Ek het die bestuurder na die verpleër se naam en van gevra, wat dit nie wou gee nie. Later die dag, nadat ek ontslaan is, het my broer my in ’n rolstoel na die hospitaalbestuurder se kantoor gestoot, waar ek op die naam en van aangedring het. Hy het net een naam gegee. Ek het ’n prokureur gespreek en my verklaring by die polisie ingedien.”
Die vrou wonder of sy die verpleër se eerste slagoffer is.
“Die voorval moet onder ander mense se aandag gebring word. Ek soek antwoorde en optrede. Dit is onaanvaarbaar en baie traumaties, veral as jy pas ’n pynlike prosedure ondergaan het,” sê sy.
Denise Coetzee, pasiënt-ervaringbestuurder, sê hulle is van die voorval bewus.
“Die verpleër is dadelik geskors en die pasiënt is aangeraai om ’n strafregtelike klag in te dien. Ons sal ons volle samewerking in die ondersoek gee.”
Sers. Dikeledi Gopane, polisiewoordvoerder, sê die eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksoortredings (GKS) ondersoek die saak.
Nog geen inhegtenisneming is gedoen nie.