
Saligheid gaan lt.kol. Dolf Lourens, wie se puik speurwerk ook die lof van die Noord-Kaapse regterpresident in ’n opspraakwekkende verhoor verdien het, met sy aftrede omgeef.
Ná 42 jaar in die polisie lê hy die tuig neer. Hy bly egter ’n speurder in sy wese, ’n man wat nie kan dink aan ’n saak wat hy nie opgelos het nie.
Perfeksionis van aard.
“Hardegat ja, moeilik, ja, maar ek het ’n klein hart,” sê hy.
“Iemand wat vir oorlewendes antwoorde oor ’n geliefde se moord kon gee.”
’n Polisieman wat verdagtes van bo ’n plafon of tussen hangkaste kon uitsnuffel, of slagoffers wat onder dik lae beton versteek is.
Hy was aan die Valke verbonde toe hy in Augustus 2016 as die ondersoekbeampte aangestel is om die dubbele moord van Johannes Baaitjie (DA-kandidaat) en sy vennoot, Jeffrey Shuping Nouse, te ondersoek.
Hy het om 11:00 die opdrag gekry, dadelik na Postmasburg en Groenwater (waar die lyke gevind is) vertrek om die eerste leidrade te vind, gou na Kimberley terugkeer vir ’n lasbrief om selfoonstate van die diensverskaffer te bekom en daardie nag weer terug na Daniëlskuil gery om sy eerste verdagte aan te keer.
Die vyf beskuldigdes is in 2020 almal deur regterpresident Pule Tlaletsi aan moord skuldig bevind. In sy uitspraak het die regter bevind Lourens is ’n ervare en gesoute speurder wie se deeglike en hoogaangeskrewe ondersoek, wat ’n magdom van selfoongetuienis ingesluit het, van hom ’n geloofwaardige getuie en deskundige maak.
“Onwrikbaar onder kruisondervraging,” het die regter bevind.
“Ek het selfoongetuienis al in 1995 as ’n waardevolle speurtegniek gesien,” sê Lourens.
“Voor selfone het ons heelwat van beriggewers en handseine gebruik gemaak om misdadigers op te spoor. Die koms van digitale tegnologie het alles verander.
“Ek ontleed ’n verdagte se selfoonstate om te sien met wie hy baie kontak maak. Dan kontak ek daardie mense, soms onder ’n skuilnaam, om meer oor die verdagte en hul verbintenis uit te vra. In baie gevalle werk hulle saam om die persoon aan te keer. Indien hulle betrokke was, word hulle soms staatsgetuies wat teen hul makkers getuig.”
Eenmaal het Lourens gesien die verdagte in ’n saak van gewapende roof het ’n sekere nommer herhaaldelik van sy selfoon gebel.
“Dit blyk toe dit is ’n jong meisie, iemand op wie die verdagte skynbaar verlief was. Met haar hulp is die verdagte oortuig om haar in ’n dorp in Gauteng by ’n taxi-staanplek te ontmoet, waar ons op hom toegeslaan het. Deur middel van die selfoonontleding kon ons hom en sy makkers boonop op die tyd en plek van die beweerde misdade plaas.”
Selfoonontleding kan jou ook kwytskeld wanneer jy onskuldig by ’n misdaad betrek word, vertel Lourens.
“Dink net as twee mense saamspan en beweer jy was saam met hulle op ’n sekere tyd en plek toe die misdaad gepleeg is. Dit is moeilik om jouself teen twee getuies te verdedig.
“Wanneer jy met selfoontoringopvangs kan bewys dat die twee getuies se selfone nie saam op dieselfde plek en tyd was soos hulle beweer nie, en jy nog minder, kan jy jou onskuld daardeur bewys.”
Hoewel hy na ’n rustiger lewe uitsien, het hy steeds ’n passie vir speurwerk.
“Ek gaan my vernuf vir prokureurs aanbied wat hul kliënte in strafsake moet verdedig,” sê Lourens.