
“Eer jou vader en jou moeder en jou dae sal verleng word,” sê ouma Katriena Green van Raaswater naby Upington nadat sy op 10 Januarie 114 jaar oud geword het.
Dié riglyn uit die Bybel is ouma Katriena se geheim vir ’n lang lewe, sê Rochelle Visagie, haar agterkleinkind.
“Julle jong mense wat stoute goete aanvang soos om te drink of rook, sal nie oud word nie,” is glo wat Ouma Katriena altyd aan die jongspan sê.
Ouma Katriena is Vrydag (13/01) deur Rochelle en dié se twee broers, Heinrich en André, op ’n vleisbraai trakteer, maar dit was nie al nie.
Rochelle sê raadslede van die Raaswater-woonbuurt het vir ouma Katriena ’n koek gebak en Saterdagoggend ’n kerkdiens vir haar by die huis gehou wat inwoners van die buurt bygewoon het.
Rochelle versorg haar oumagrootjie heeltyds en sê sy beleef nog goeie gesondheid.
“Sy doen nog alles vir haarself en stap selfs ook nog alleen na die sitkamer, waar sy gereeld by ons sal kom sit en gesels.”
Rochelle moet soms net in die aande ’n hand verleen as ouma Katriena haar nodig het.
“Haar sig is nog baie goed, maar weens Ouma se ouderdom en die plooitjies wat oor haar ore vou, kan sy nie altyd lekker hoor nie.”
Daarvoor het Rochelle ’n oplossing.
“As ek wil hê sy moet hoor, vee ek net die plooitjies terug en dan hoor Ouma my baie mooi.”
Rochelle sê ouma Katriena is nog so aan die gang dat sy maklik 135 jaar oud gaan word. Om ’n lang lewe te geniet is glo ook nie vreemd in die familie nie. Ouma Katriena se twee susters het onderskeidelik 105 en 100 jaar oud geword en haar broer is dood op 99, sê Rochelle.
Ouma Katriena is op 10 Januarie 1909 in Bitterfontein in die Namakwaland gebore.
Ná die sterfte van haar bejaarde pa het sy na Upington getrek om haar by haar man aan te sluit en woon sedertdien daar. Rochelle is nie seker in watter jaar dit was nie.
Rochelle sê haar grootjie se stories is so interessant dat dit haar al menigmaal na haar selfoon laat gryp en op Google gaan navorsing doen het oor die gebeure.
Rochelle sê sy voel geseënd om haar oumagrootjie in haar lewe te hê.
“Ek het niks meer nodig nie. Ek het reeds my seën ontvang. Dit is die grootste eer om te weet ek kan na so ’n grootmens omsien en te weet dat sy my ouma is.”