.

Pandemie lei tot ‘ongewone’ misdaadsyfers

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
’n Toename in misdaad by banke is die afgelope jaar gesien.Foto: Unsplash/Nick Pampoukidis

Die getal kitsbanke in die land wat met plofstof opgeblaas is, het verlede jaar, vergeleke met die vorige jaar, met 20% – van 178 tot 214 –gestyg.

Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) se nuutste misdaadsyfers vir die bankbedryf toon dat die eerste jaar van die pandemie tot ongewone misdaadsyfers gevolg gehad het.

“Die pandemie, tesame met die inperkings, het ’n merkbare uitwerking op finansiële misdaad gehad,” sê Nischal Mewalall, uitvoerende hoof van Sabric.

“Dit het nuwe geleenthede vir misdadigers geskep en ’n wesenlike invloed op die aantal gevalle van misdaad gehad.”

Mewalall sê ’n toename is gesien in misdaad wat banke en hul kliënte raak.

Kubermisdaad laat wiel

Voorvalle van kubermisdaad het met 33%, van 26 567 tot 35 307 gevalle, gestyg. Dit is onder meer toegeskryf aan die reuse-verskuiwing van verbruikers van fisieke na aanlyn winkels.

Die geldelike verlies weens dié misdaad het met R1,2 miljoen tot R309,5 miljoen gestyg.

“Verbruikers het meer aanlyn inkopies en betalings op apps gedoen, en daarmee saam het misdadigers hul pogings om persoonlike inligting te steel en hulle op digitale en aanlyn platforms te besteel, verskerp.”

Een manier is deur bedrieglike e-posse wat persoonlike beskermende toerusting soos maskers, ontsmettingsmiddels en entstowwe te koop aanbied. Die skakels in die e-posse het mense gelei na webtuistes waar hul bankbesonderhede gevra is en sonder hul magtiging gebruik is.

Volgens Sabric het die grootskaalse verskuiwing van personeel om van hul huis af te werk ook ongekende kwesbaarheid ten opsigte van die netwerke van maatskappye geskep.

Gevalle van SIM-kaartbedrog het van 11 646 tot 22 285 amper verdubbel. Dit is wanneer skelms ’n SIM-kaart in jou naam uitneem en jou eenmalige PIN vir transaksies bekom.

Kredietkaartbedrog duik

Hoewel kredietkaartbedrog met 27% gedaal het, het debietkaartbedrog met 22% gestyg.

Die meeste bedrog met bankkaarte word vanuit Nigerië, Luxemburg, Ierland, Brittanje, Duitsland, Indië, Indonesië, Australië, die VSA en Kanada gepleeg.

Transitorooftogte neem toe

Transitorooftogte het met 22%, van 244 tot 297 gevalle, toegeneem.

Weens die groter sigbare teenwoordigheid van die polisie het dié gevalle tydens die eerste streng inperking drasties gedaal, maar weer gestyg nadat die inperkings gelig is.

Gauteng bly die provinsie waar die meeste van dié voorvalle plaasvind, gevolg deur die Oos-Kaap. In dié tydperk het een transitorooftog in die Noord-Kaap plaasgevind, wat ’n styging van 100% van die vorige jaar is.

Kontantrooftogte styg

Gevalle waar kontant by poskantore, banktakke en kitsbanke geroof is, het met 42% gestyg van 194 tot 275.

Die roof van kontant by poskantore verteenwoordig die meeste gevalle. Misdadigers het hulle in sommige gevalle as staatsamptenare voorgedoen en aangevoer hulle kom doen inspeksies rakende Covid-19. Só is daar toegang tot die poskantore verkry. Die misdadigers het ook skootrekenaars, bankkaarte en voertuigregistrasiedokumente gesteel.

Minder kitsbanke opgeblaas

In geheel het aanvalle op kitsbanke met 9% gedaal. Volgens Sabric het die misdadigers die hoeveelheid plofstof aangepas. Die gevalle van kitsbanke wat met ’n slypmasjien oopgesny is, het met 44% gedaal.

Kliënte steeds ’n teiken

Die roof van kliënte het met 24%, tot 864 gevalle, gedaal. Dié daling word toegeskryf aan polisiëring wat tydens die inperkings sigbaarder was.

Die grootste onderafdeling van die misdaad, wat rooftogte behels nadat iemand ’n banktak verlaat het, het met 33%, tot 490 gevalle, gedaal.

Rooftogte net voordat iemand geld by ’n kitsbank kan deponeer, het met 107% gestyg, en die verlies met 43%.

Nellie Brand-Jonker
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
14.81
+0.4%
Rand - Pond
20.41
-0.1%
Rand - Euro
17.27
+0.2%
Rand - Aus dollar
11.11
-0.2%
Rand - Jen
0.13
+0.2%
Goud
1,800.01
+0.4%
Silwer
24.38
+0.2%
Palladium
2,059.50
+1.8%
Platinum
1,042.36
-0.1%
Brent-ruolie
85.53
+1.1%
Top-40
60,580
+0.0%
Alle aandele
67,172
+0.0%
Hulpbronne 10
63,244
+0.2%
Industriële 25
86,436
-0.4%
Finansiële 15
13,915
+1.0%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy
Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos