Die polisie in Augrabies het Maandagoggend (31/10) ses vermeende gewapende rowers ná ’n jaagtog en skietery aangekeer nadat hulle glo ’n winkel beroof het.
Een van die vermeende rowers het die winkel met ’n vuurwapen binnegegaan en die kassier van ’n onvermelde bedrag geld en sigarette beroof, sê lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.
’n Polisievoertuig wat die omgewing patrolleer het, het die rower opgemerk toe hy saam met vyf ander mans in ’n Toyota-sportnutsvoertuig gespring en weggejaag het. Die polisie het die voertuig agternagesit en die rowers het op die polisievoertuig geskiet.
Ivan van As, ’n inwoner van Augrabies, sê hy het die voertuie gesien verbyjaag en dadelik boere in die omgewing verwittig, wat die polisie bygestaan het.
Die voertuig het tot stilstand gekom en die verdagtes het te voet naby die N14 in die rigting van Pofadder die veld in gevlug. Die hoofwegpatrollie, Springbok en Upington se honde-eenhede, Upington se openbare-orde-eenheid en plaaslike polisielede is vir bystand opgeroep. Boere in die omgewing het die polisie ook met ’n hommeltuig en ’n ligte vliegtuig te hulp gesnel.
Die ses verdagtes is op verskillende plekke in die omgewing vasgetrek. Die polisie het op drie vuurwapens en ammunisie beslag gelê.
Niemand is in die voorval beseer nie, sê Kock.
Die ses mans, tussen 22 en 30 jaar oud, word aangekla van poging tot moord, sakeroof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens. Daar is ook beslag gelê op die motor waarin hulle gery het. Vier van die verdagtes is buitelandse burgers.