
Plafonne wat op pasiënte en personeellede inval en “onverskrokke tikkoppe” wat sonder moeite toegang tot die Keimoes-hospitaal kry, is van die enkele klagtes oor dié hospitaal wat die ronde doen.
Die hospitaal het blykbaar vir jare reeds nie meer omheining nie en die nooddeur langs die vrouesaal is glo met “cardboard” toegemaak, wat vrye toegang vir misdadigers en dwelmverslaafdes bied.
Behalwe dat dié vrye toegang die pasiënte se veiligheid in gevaar stel, veroorsaak dit ook dat diefstal uit die hospitaal byna ongehinderd kan plaasvind. Die hospitaal is aan die kant van die dorp geleë, met ’n wye oop stuk veld rondom die gebou.
’n Ingeligte, wat anoniem wil bly, sê dat die hospitaal bykans nie breekware of beddegoed oorhet nie.
“Onlangs, toe daar nie geld vir brandstof vir die kragopwekker was nie, moes personeel uit hul eie sak kerse koop om tydens beurtkrag te gebruik,” sê die ingeligte.
“Ek het die toestand reeds in 2021 by die openbare beskermer aangemeld,” sê Patrick du Plessis van Warmsand, ’n gemeenskapsleier en werknemer by die hospitaal.
Hy sê hy “het reeds tot op provinsiale vlak” gepraat, met korrespondensie aan die hospitaalbestuur en departement, sonder sukses.
“Ek kan nie langer stilbly nie, want ons mense gaan dood hier,” sê hy.
Volgens Du Plessis en ander ingeligtes is daar vele klagtes om aan te meld, soos ook die tekort aan mediese personeel. Soms is daar slegs twee of drie mense aan diens. Behalwe dat hulle na die hospitaalpasiënte moet omsien, is die buitepasiënte ook hul verantwoordelikheid, met soms tot twee vroue wat gelyktydig geboorte moet gee.
Van die betrokkenes by die hospitaal wat na bewering lang vingers het, word nie vasgevat nie en sommige kantore is vuil, met asblikke wat gedurig “oorloop” van wegneemete-houers. Teëls aan die mure val ook glo af.
Nog ’n inwoner, wat anoniem wil bly, vertel van ’n voorval waar twee “tikkoppe” in die helder daglig verby sekuriteit by ontvangs gestap het, hulself in ’n stoorkamer met voorraad gehelp het, en weer terug verby sekuriteit gestap het – sonder om voorgekeer te word.
In mediaberigte van 2019 word geskryf van die vervalle struktuur, deure wat oopstaan en rommel wat ophoop, met enkele personeellede wat probeer om alles staande te hou.
“Hierdie hospitaal was vlekkeloos. Dit wat nou hier aangaan, is totaal onaanvaarbaar,” sê ’n inwoner.
- Die Noord-Kaapse departement van gesondheid is met meer as een geleentheid vir kommentaar genader, maar teen druktyd is geen terugvoering ontvang nie.