.

Swemmers gestrand

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Die Karen Muir-swembad in die dae toe dit nog oop was en swemklubs galas kon aanbied. Foto’s: Verskaf
Die water van die Karen Muir-swembad het groen geword voordat die swembad leeggemaak is.

Swemklubs in die Noord-Kaap is gestrand gelaat nadat die swembad in Kimberley wat op Olimpiese peil is, genoem na die beroemde boorling en wêreldkampioen­swemmer Karin Muir, vir ’n onbepaalde tyd toegemaak is.

Volgens die Sol Plaatje-munisipaliteit is die swembad-kompleks weens foutiewe pompe en arbeidsgeskille gesluit.

Karen Muir, in Kimberley gebore en getoë, het tussen 1965 en 1969 altesaam 18 wêreldrekords opgestel. Weens internasionale sportboikotte teen Suid-Afrika kon sy egter nooit aan ’n Olimpiese Spele deelneem nie. Op 11 jaar oud het sy haar Springbok-kleure verwerf. Op 10 Augustus 1965, toe 12 jaar oud, het sy die jongste mens geword om ’n sportwêreldrekord in enige dissipline te breek, in ’n tyd van 1 minuut 08.7 sekondes in die 100 m-rugslag-nommer in Engeland.

Brian Hermanus, voormalige LUR vir sport, kuns en kultuur, het ook in dié swembad geoefen. Hy en Shreef Abass, nog ’n bobaas­swemmer, is in 1972 genooi om in Londen verder te oefen nadat hulle die swemtye van David Wilkie, Olimpiese kampioen, kon ewenaar. Hermanus en kie kon weens apartheid nooit aan internasionale byeenkomste deelneem nie. As LUR was sy leuse dat ’n kind wat sport beoefen, uit die howe sal bly.

Verona Burger, president van Noord-Kaap Swem, sê hulle is deur die sluiting platgeslaan.

“Dit is die enigste 50 m-swembad in die provinsie. Swem Suid-Afrika erken ook net swemtye wat in dié swembad opgestel word. Altesaam 11 swemklubs van oor die provinsie heen – van Upington en Prieska tot Hartswater – neem gereeld hier deel. Interklub- en interprovinsiale byeenkomste word ook hier gehou.

“Vanweë die Covid-19-beperkings het Swem Suid-Afrika dié swembad goedgekeur vir byeenkomste wat gewoonlik oor die land heen gehou word. Swemmers kan die tye wat hulle hier opstel met nasionale en internasionale tye vergelyk.”

Ek kon nie glo dat die werkers die een week die swembad volgemaak het, net om dit ’n week later leeg te maak nie.
Verona Burger

“Al ons toerusting word by die swembad toegesluit. Die eerste byeenkoms van die seisoen is verlede Saterdag skielik afgestel, en die afgelope naweek s’n ook. Ons kry nooit ’n rekening van die munisipaliteit nie, maar ons gebruik ons eie geld om die verwaarloosde geriewe in stand te hou.”

Sy sê hulle koop chemikalieë en het al lekkende toilette herstel. Net enkele pompe is in werking. Tydens die inperking is die skadunette waaronder die tydhouers sit, gesteel.

“Swemafrigters en menseredders wat ’n bestaan rondom swem­aktiwiteite maak, is nou sonder ’n inkomste. Die klubs het geld by byeenkomste geïn om toerusting te koop. Kimberley se inwoners kan ook nie meer vir pret en plesier op snikhete dae gaan swem nie. Dit was ook ’n inkomste vir die munisipaliteit.”

Volgens haar kry sy nie reguit antwoorde by die owerhede oor hoe om die probleme op te los nie.

“Ons is selfs bereid om die bestuur van die swembad oor te neem, solank ons kinders en volwasse swemmers kan oefen en aan byeenkomste deelneem.”

Sello Matsie, munisipale woordvoerder, sê die swembad se water het groen geword omdat munisipale werkers nie die pomp wil aanskakel nie.

“Hulle is ontevrede oor toelae wat nie betaal is nie, en voel onveilig om sonder toestemming in die pompkamer te gaan. Weens geldelike redes is die aanstelling van menseredders, wat net in die somer werk, nog nie goedgekeur nie. Toestemming kan dalk teen Desember verleen word.

“Een swemklub het aangebied om hul eie menseredders vir byeenkomste te bring, maar ons het nie die skedule betyds ontvang nie. Verlede week se gala is afgelas omdat ons nie betaling ontvang het nie. Ons het dus nie bewyse dat hulle belang stel om die swembad te gebruik nie.”

Volgens Conrad Fortune, woord­voerder vir die departement van sport, kuns en kultuur, is sport en ontspanning ’n integrale deel van die persoonlike groei en ontwik­keling van jongmense.

“Dit is die regering se oogmerk dat die meerderheid Suid-Afrikaners teen 2030 fisiek aktief sal wees en vetsug verminder word,” sê Fortune.

“Gemeenskapswembaddens is belangrik vir sportklubs se voortbestaan. Ons gaan met die munisipaliteit praat. Sport is belangrik vir transformasie en ’n manier om jong talent te ontgin.”

Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
14.81
+0.3%
Rand - Pond
20.41
-0.1%
Rand - Euro
17.27
+0.2%
Rand - Aus dollar
11.11
-0.3%
Rand - Jen
0.13
+0.0%
Goud
1,800.87
+0.4%
Silwer
24.38
+0.2%
Palladium
2,048.50
+1.3%
Platinum
1,043.86
+0.0%
Brent-ruolie
85.53
+1.1%
Top-40
60,580
+0.1%
Alle aandele
67,172
+0.1%
Hulpbronne 10
63,244
+0.5%
Industriële 25
86,436
-0.5%
Finansiële 15
13,915
+0.8%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy
Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos