Terwyl sakelui en aktiviste dreig om veral die padonderhoud by die Sol Plaatje-munisipaliteit oor te neem, het 'n moedelose inwoner verlede naweek foto’s van sy motor vir versekeringsdoeleindes geneem waar dit by ’n diep slaggat in die stad glo soveel skade opgedoen het dat dit afgeskryf gaan word.
Aristotle- en Landbouweg word gereeld deur motoriste en vragmotorbestuurders gebruik, maar is vol slaggate en lekkende water. In Aristotle-weg vloei water uit lekkende pype oor die padoppervlak en slaggate ontstaan wat dan boonop onsigbaar vir motoriste is.
Hoewel sekere slaggate in Landbouweg reeds herstel is, was daar die laaste naweek in April ’n diep gat waar die pad weggespoel is. Motoriste is verplig om op die padskouer te ry, terwyl vragmotorbestuurders stadig deur die gat kan ry. Aan die kant van die pad is die diep vloedwatersloot oop, sonder bedekking.
“Hy het deur ’n gat gery en toe met die motor se neus teen ’n stuk van die pad vasgery wat baie hoog staan. Die voorkant en buffer, voorwiele, en verkoeler is beskadig en die enjinkap kan nie meer toemaak nie. Ek is seker die onderstel is ook gebuig. Kyk net hoeveel stukke van karre lê hier rond. Hier was al baie mense wat groot skade opgedoen het,” vertel die inwoner.
Tumelo Mosikare, bestuurder van die Sol Plaatje Belastingbetalersunie (Sopu), sê die munisipaliteit herstel die pad net tydelik.
“Daar is geen heeltydse herstelwerk nie en nuwe slaggate vorm aanhoudend. Hulle sny ’n gat in die pad om ’n klein gat te herstel, en dan vorm groter gate waar hulle die pad gesny het. Uiteindelik word dit ’n groot gemors. Hulle moet die dienste van ingenieurs bekom en die paaie oorbou. As Sopu die onderhoud oorneem, kan ons daadwerklik die herstelwerk ordentlik doen. Dit help nie meer om by die munisipaliteit te kla nie. Ons moet onsself help, want die stadsraad gee nie meer ’n duit om nie.”
Sharon Steyn, uitvoerende hoof van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci), sê hulle wil die padonderhoud by die munisipaliteit oorneem.
“Toe Kagisho Sonyoni, uitvoerende burgemeester, verlede week eindelik by ons vergadering opdaag, het hy nie vrae oor padonderhoud bevredigend beantwoord nie. Hy het die vakante pos van munisipale bestuurder as verskoning vir swak onderhoudswerk gebruik, maar dié moes al lankal aangestel gewees het.
“Ons gaan weer met die premier en die burgemeester probeer vergader. Sakelui wil graag sekere gedeeltes van die infrastruktuur se onderhoud oorneem. Die paaie is lewensgevaarlik en net viertrekvoertuie kan op sekere paaie ry. Sakelui sal herstelwerk doen en dit van die owerheid terugeis, want die huidige kontrakteurs doen swak werk en vermors boumateriaal.
“Intussen moet sakeondernemings die gevolge van die pandemie oorkom, beurtkrag deurstaan en die voorgestelde elektrisiteitsprysverhogings buffer, om nie eens van die ander probleme soos rioollekkasies te praat nie.
“Die munisipaliteit moet besef inwoners en sakelui betaal hul salarisse. Ons is keelvol.”
Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê hulle het aanvanklik nie besef Landbouweg behoort aan die munisipaliteit en nie aan die departement van paaie en openbare werke nie.
“Daar was in die verlede ’n misverstand oor watter departement die pad besit en onderhoud moet doen. Munisipale werkers het in die laaste weke slaggate herstel, maar dit tydelik gestaak om elders te gaan werk vir die Wildeklawer-skolesporttoernooi.
“Ons sal die slaggate teen die einde van vandeesweek herstel. Dit is net tydelike herstelwerk, want ons gaan die padoppervlak in Julie met plaveisel bedek wat meer duursaam is. Die pad is nie oorspronklik gebou om swaar voertuie te dra nie.”
Sy sê munisipale personeel vermoed ’n lekkende klep veroorsaak die watermassa in Aristotle-laan.
“Ons vermoed die klep is op De Beers se grond en sal dadelik ondersoek instel en herstelwerk doen. Die plan is om die klep te verskuif na ’n plek waar ons dit makliker kan bereik en herstel.”