Die moordsaak van Chanel du Toit van Franschhoek is verlede Vrydag weer in die Kaapse streekhof voortgesit. Die saak draal al vir meer as 12 jaar in die hof.
Chanel se man, Johan du Toit, word daarvan beskuldig dat hy haar in Julie 2010 verwurg het in hul kothuis op die Dieu Donné-wynlandgoed. Daar word beweer dat Johan op ’n jagtog na Laingsburg gegaan het nadat hy sy vrou vermoor het. Hy het toe sy ma gekontak, wat ook op die wynlandgoed woon, en gevra of sy nie wil gaan kyk waarom Chanel so stil is nie, want hy kry haar nie in die hande nie. Die 28-jarige se bebloede en naakte liggaam is deur haar skoonma ontdek. Johan is kort daarna in hegtenis geneem vir die moord op Chanel.
Die saak was die afgelope jare op die Paarl-streekhof se hofrol, maar is onlangs na die Kaapse streekhof oorgeplaas. Die saak word aangehoor deur landdros Joe Magele. Aangesien hy ’n afloslanddros is, is daar dus nie ’n beskikbare hofsaal vir hom in die Paarl nie. Die Kaapse streekhof het genoeg kapasiteit en het vir hom ’n hofsaal aangebied.
Die staatsaanklaer, Enslin Orange, het Vrydag tydens die hofverrigtinge vir nog tyd gevra sodat hy en advokaat William Booth, wat Du Toit verteenwoordig, kan voorberei vir slotbetoë.
Die versoek is toegestaan en die verhoor word op 24 Januarie 2023 voortgesit vir slotbetoë. Du Toit en die forensiese deskundige David Klatzow het al in die saak getuig.
* The murder case of Chanel du Toit from Franschhoek resumed last Friday in the Cape Town Regional Court. The case has been running in court for the past 12 years.