Gewelddadige misdaad is aan die toeneem in Noorder-Paarl, ná twee messteekvoorvalle binne twee weke drie slagoffers in die omgewing beseer en getraumatiseer gelaat het.
Presies ’n week voor Tielman Germishuys en sy seun deur ’n verdagte in hul koshuis aangeval is, is ’n ander man in Noorder-Paarl met ’n mes gesteek.
Die woordvoerder van Paarl-polisie, kapt. Louise du Plessis, sê hulle ondersoek nog ’n messteekvoorval toe ’n man na bewering in die vroeë oggendure van Woensdag 16 November ’n verdagte agterna gesit het.
“Die verdagte het na bewering by ’n voertuig op die klaers se perseel in Kerkstraat, Noorder-Paarl ingebreek.
“Daar word beweer dat die klaer die verdagte omstreeks 03:00 op ’n fiets uit die erf sien vlug het. Hy het die verdagte agtervolg en hom op ’n oop stuk veld voorgekeer.”
’n Onderonsie het toe plaasgevind en die verdagte het die klaer met ’n mes gesteek.
“Die slagoffer is met veelvuldige steekwonde in die hospitaal opgeneem. ’n Saak van poging tot moord is geopen.
“Die Paarl-polisie wil graag die publiek waarsku om nie ’n verdagte op hul eie te probeer aankeer of agterna te sit nie, weens die risiko om deur die oortreder aangeval te word.”
Die publiek word versoek om van buurtwag-netwerke, noodnommers van sekuriteitsfirmas en die polisie se noodlyn by 08600 10111 gebruik te maak.