
Die hartseer tyding van die skielike afsterwe van die bekende Paarlse dokter Johann Slabbert het Dinsdagoggend menige inwoner geroer.
Die boodskappe van medelye op sosiale media skets ’n prentjie van nie net ’n goeie geneesheer nie, maar ook iemand wat diep spore in die harte van mense getrap het.
Slabbert was nie net ’n oudleerder van die Hoërskool Paarl Gimnasium nie, maar was die skool se hoofseun in 1972 asook die kaptein van die skool se eerste rugbyspan.
Buiten sy liefde en passie vir die mediese wêreld was Slabbert ook ’n kranige fietsryer en het hy saam met sy seun, dr. Lochner Slabbert, die gewilde Kaapstad-fietstoer die afgelope Sondag voltooi.
Dr. Willie van Zyl, ’n jare lange vriend, het aan Paarl Post gesê hy ken Slabbert reeds sedert 1973.
“Dit is met groot hartseer dat ek van Johann Slabbert, wat ek sedert 1973 ken, afskeid neem. Ek was 10 jaar ’n vennoot van hom. Hy was daardie bedaarde, goeie geneesheer wat altyd net die beste vir sy pasiënte wou doen. Hy het my met al my foute geakkommodeer en was altyd gemoedelik en vriendelik. Johann het as algemene praktisyn uitgestaan en het ook ekstra kwalifikasies in narkose en ginekologie en verloskunde gehad. As gemeenskapsentoesias was hy ’n gebore Paarliet en toegewyde Gimmie,” het Van Zyl gesê.
Slabbert het nie net by die Medicross in die Paarl (onder andere) gewerk nie, maar was ook ’n bekende dokter by die Mediclinic Paarl.
“Ons betreur ’n spesiale man se afsterwe. Ek sal dr. Slabbert altyd vir sy warm glimlag, vaderlike advies en omgee-hart onthou,” het dr. Anneri Wasserfall, bestuurder van die Wasserfall en vennote-dokterspraktyk by Mediclinic se noodsentrum, gesê. Sy het sowat 12 jaar saam met Slabbert gewerk.
Die Gimmies se oudstudentebond (OSB) het Dinsdag ook hul medelye met Slabbert se afsterwe op dié groep se Facebook-blad gedeel.
“Ons harte gaan uit na die Slabbert-familie. Mag ons Hemelse Vader hulle in hierdie moeilike tyd vertroos.
“Johann was ook ’n lewenslid van die OSB. Sy liefde vir Gim is eindeloos bewys deur sy gewilligheid om enige tyd mediese bystand aan die Gim-familie te verskaf. Ons eer sy nagedagtenis,” lui die inskrywing op Facebook.
Nóg ’n inskrywing op Facebook het vertel van dr. Slabbert se toegewydheid.
“Die Slabberts stap al ’n lang pad met die mense van die Paarl. Dr. Johann se pa, ou Oom Slabbert, was ons huisdokter. Hy het ons as kinders in die lewe help bring. So het dr. Johann oorgeneem toe sy pa die dag [oorlede is] en so het hy ons huisdokter gebly. Jy kon hom twee-uur in die oggend wakker bel en hy sou in sy kar klim en kom help – sonder om [te] skroom.”
Na wat verneem word laat dr. Johann Slabbert sy vrou, kinders en kleinkinders agter.
Die Slabbert-gesin kon teen druktyd nie bereik word nie.