
Jan (JT) Basson en John Woest sal van 30 Oktober tot 30 November 2023 amptelik verhoor word vir die moord op ’n vrugtesmous, wat verlede jaar met ’n haelgeweer op die Sonstraal-pad doodgeskiet is.
Basson en Woest het verlede Vrydag tydens ’n voorverhoor in die Kaapstadse-hooggeregshof hul tweede verskyning gemaak.
’n Dagblad berig die staatsaanklaer, Louis Friester-Sampson, wat vir Kepler Uys ingestaan het, het gesê ’n verhoordatum vir Oktober volgende jaar is bevestig, maar as gevolg van ’n versoek aan die staat deur die beskuldigdes se prokureur om meer inligting te bekom, sal die saak vir ’n derde voorverhoor uitgestel moet word.
Die moordsaak is in Augustus vanjaar van die Paarl-landdroshof na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas.
Basson (65) word van aanranding, die rig van ’n vuurwapen, poging tot moord en moord aangekla, en Woest (68) van poging tot moord en moord.
Volgens die klagstaat het Basson glo vir Arnold Coetzee op 30 November 2021 aangerand deur hom met sy oop hand teen die bors te slaan. Luidens die klagstaat het Basson, blykbaar sonder rede, ook ’n vuurwapen op hom gerig.
Albei word daarvan aangekla dat hulle op 30 November 2021 op die Sonstraal-brug oor die N1 naby Paarl ’n poging aangewend het om Coetzee te vermoor deur skote op hom te skiet.
Hulle is kort daarna – in Desember 2021 – op borgtog vrygelaat nadat hulle in verband met Chatwell Rogers (40) se skietdood in hegtenis geneem is. Rogers is na bewering met ’n haelgeweer in die rug geskiet toe hy glo weggehardloop het.
Die saak is tot 3 Maart 2023 vir ’n voorverhoor uitgestel.