Die Malmesbury-krieketklub het Saterdag op die Parys-krieketveld in Paarl verras toe hy die hoogaangeskrewe Paarl-krieketklub met die kous oor die kop huis toe gestuur het. Die besoekers is onoorwonne, en dit is slegs hul wegwedstryd teen Vredenburg-Saldanha eerskomende Saterdag wat nog tussen hom en die eindstryd van Boland se Premier-T20-liga staan.
Paarl het eerste gekolf, maar moes swoeg vir sy eerstepaaltjievennootskap van 50 lopies deur Darryl Hendricks en Akeem Minnaar. Albei het egter hul paaltjies met swak houe prysgegee en die tuisspan kon nooit herstel teen die akkurate boulwerk van Kurt Julius (4-0-12-2) en Devon Smith (3-0-5-0) nie. Met uitmuntende veldwerk deur die besoekers is die tuisspan tot ’n teleurstellende 111/9 beperk, wat geen uitdaging vir Malmesbury was nie.
Die aanvangskolwer Llewellyn Koopman (60 n.u.n., 7x4, 2x6) was in ’n vernietigende bui en het die meeste van Paarl se boulers gekasty. Hy en sy aanvangsvennoot, Philander van der Westhuizen, het ’n vennootskap van 58 lopies opgebou.
Edrique Cook (4-1-15-3) het in sy tweede skof die hoop vir Paarlse ondersteuners laat opvlam toe hy drie paaltjies in vier balle geneem het.
Julius het egter by Koopman aangesluit vir ’n onoorwonne vierdepaaltjievennootskap van 46 lopies, wat die wind uit die tuisspan se seile gehaal het. Malmesbury (112/4) het dus met ses paaltjies gewen.
Paarl II het sy oorwinning oor Malmesbury II te danke aan ’n netjiese 50-tal deur Keegan Witten. Paarl het 156 in sy toegelate 20 boulbeurte behaal, waarna drie puik paaltjies deur Cullen Heugh die sege beklink het.. Paarl speel Saterdag tuis teen Wellington in die laaste ronde van die T20-kompetisie.