Nog ’n voorspelbare Suid-Afrikaanse Februarie is verby – weerstoestande en die 2 518,33 gemiddelde moorde die afgelope drie maande uitgesluit. Soos altyd was daar gans te veel opgewondenheid en voorspellings in afwagting op die Staatsrede, Valentynsdagviering en die begroting.
Daar was niks nuuts in aanloop tot die onderskeie datums nie; op die dag self ook niks en agterna het ook pure niks tot die algemene welsyn van die nasie bygedra nie. Dus ook, soos al die baie jare voor 2023, weer net woorde in die wind.
Die enigstes wat by Februarie se jaarlikse drie hoogtepunte gebaat het, was die sakeondernemings en organisasies waar aankope gedoen is om uitvoering te gee aan die eise van die spesifieke dag. Die uitgawes vir die staats- en begrotingsrede het alles weer uit die reeds bankrot staatskas gekom en sekerlik het alles nie ’n veilige landingsplek gehad nie.
Die meeste wat Valentynsdag gevier het, het geen idee wat die oorsprong en rede daarvoor is nie en soos voorheen het sommige ook weer belaglikhede aangevang en aan die groot klok gehang vir oe’s en aa’s van die res van die wêreld. Baie se kredietkaarte het ook nog meer pyn en lyding bygekry – álles tog so voorspelbaar.
Die enigste nuwigheid in die tradisionele Februarie-gebeurtenisse is dat dit afgesluit het met rakke vol allerhande Paas-goetertjies en dingetjies wat Maart aan die hardloop gesit het met Paasfees, wat eers oor ’n maand is. Die uitstallings is mooitjies langs en tussenin die reste van Valentynstjoklits en dinge – alles teen ’n spesiale prys.
Die regtige groot andersheid in die eendersheid van die Februarie is André de Ruyter se verwagte afdanking of gedwonge vroegtydige uittrede by Eskom. Selfs dít was eintlik ook maar die gewone optrede van die ANC-mafia gedurende elke maand die afgelope baie jare. Indien iemand ’n geluid maak of iets doen waarvan jy nie hou nie, raak jy óf wettig, maar meermale onwettig, en onregverdig ontslae van die pyn in jou agterkant.
Dié wat met hul lewe daarvan afkom, is besonder gelukkig, maar veilig vir hóé lank? Skurke het niks te vrees van Die Hoed aan bewind van die oorgrote meerderheid blinde en dowe polisie nie – diesulkes wat so mooi vertoon met hul skraal lywe in hul effe te klein erg styfpassende uniforms; almal atleties gebou en super-fiks om gemaklik die skurke in te hardloop en aan te keer. En dié wat per voertuig daar is, se bestuursvernuf is ’n raps duskant dié van Lewis Hamilton. So?
Met al die woelinge in die donkerte van die donker tye in Suid-Afrika, geskep deur mense met donker denke en ongevoelige harte, is ek nou waar my skoonma op ’n tyd in haar lewe was toe sy gesê het “my kind, om hier uit te hou, moet ’n mens moed soos ’n bees hê”. Ek ken nie beeste nie, maar sy het Engels grootgeword in die Oos-Kaap, in die tyd toe hul vervoermiddels nog ossewaens was, dus het ’n mens nie van haar opinie verskil nie.
Van geen hulp vir my aanbevole “beesmoed” is die absoluut verfrissende nuus wat elke dag – selfs op oorsese nuuskanale – verkondig word oor ons land se kundigheid om te steel én te verwoes én te verniel én te minag. Om oral te hoor en te sien hoe die gemors waarin ons is, elke dag groter word, is nie goed vir ’n denkende en lojale Suid-Afrikaner nie.
Vir die res maak dit nie saak nie, want soos Adrien sê: “As ’n mens mos niks weet nie, is alles mos goed”. En so is alles mos goed vir miljoene suurstofdiewe in ons land.
Hoedat dit gekom het dat ek myself nou in ’n Kilimanjaro-grootte mismoed in geskryf het, weet slim ekke nie. Dis nie asof ek nie gedurende die wonderlike onderhandelingsproses, waarvoor ek nie gestem het nie, nie besef het dat die regering van die dag ons op ’n gevaarlike pad laat inrangeer nie. As gebore optimis het ek egter gehoop dit sal nie wees nie en geglo daaruit sal iets baie goeds gebore word. Nou sit ek ook, soos dié wat oortuig was dis die roete op pad Lotus-land toe, in Dingesstraat. En wie kom toe daar? Buiten politici en hul kaders ook dié wat niks het om te verloor nie en dus nie omgee om op gewelddadige wyse te vat van dié wat wel het nie.
Omdat dit net Hester en ek hier in die huis op die bult is – saam met my kinders se wegloopkat – is die gesprekke eensydig. Ek alleen bepaal dus hoedat ek die lewe gaan leef en wat ek gaan doen met die duisternis rondom my, en besef dat ek nie net ter wille van my selfbehoud nie, maar ook ter wille van ander vir wie ek verantwoordelik is om ’n rigtingwyser te wees, na die Bybelse “beter en uitnemender weg” moet kyk.
Ek onthou my skoonma se ander sêding: “Ek ken donker môres, my kind, maar die lig kom altyd weer”.