Om opnuut klem te lê op die Afrika in Afrika(ans) gaan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se viering van Afrikadag op Woensdag 25 Mei op die wedersydse invloed tussen Afrikatale en Afrikaans fokus.
Die monument bied vanjaar in die lig van vorige suksesvolle vierings gratis toegang aan almal en musiek om so veel besoekers moontlik te lok. Aangesien vanjaar se amptelike Afrika Unie-tema vir Afrikamaand, “Die jaar van voeding” is, sal die ATM tipiese kosresepte van al die Afrikalande op sy sosialemediaplatforms plaas.
Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, wil die monument met hierdie viering mense bewus maak van Afrikaans as ’n Afrikataal, die taal se Afrika-wortels (saam met haar Europese en Oosterse erfenisse) sowel as die diversiteit van die Afrikaanssprekende gemeenskap. “Ons beskou die monument nie net as ’n baken van hoop vir die ontwikkeling van Afrikaans nie, maar vir alle Afrikatale.”
Om 12:00 op die dag sal die Afrika-Unie se amptelike lied gespeel en die amptelike vlag gehys word om die verrigtinge te begin. Daarna volg ’n gratis begeleide toer van die monument, wat op die taal se Afrika-wortels en Afrikaans se invloed op ander Afrikatale sal fokus. Tussen 13:00 en 14:00 sal ’n Marimba-groep hul betowerende Afrikaliedere opvoer.
Neem ’n piekniekmandjie (of bestel een by die ATM Koffiehuis by 082 216 2510) en laat die kinders in die speelparke speel.
Vir meer inligting oor al die ander geleenthede by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.