Inwoners van Franschhoek is in rep en roer om die dorp se eerste vierdaagse kamermusiekfees aan die einde van Februarie aan te bied, wat beloof om ’n geleentheid van wêreldgehalte te wees.
Die Franschhoek-kamermusiekfees duur van 24 tot 27 Februarie.
“Ons betrek die hele dorp sodat dit ook ’n viering van die visuele kunste, Méthode Cap Classique, uitsoek-wyne en voortreflike kos sal wees, wat die musiekfees sal aanvul, sê Alisha Erasmus, die feeskoördineerder.
Die anker van die fees is die tien amptelike kamermusiekkonserte wat deur musici van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes uitgevoer sal word. Verskeie bykomende uitvoerings (musiek en die visuele kunste) asook spesiale etes en MCC-proeë word beplan.
’n Blaadjie word wel geneem uit die suksesvolle benadering en inkoop kenmerkend van die kamermusiekfeeste van die Napavallei in Kalifornië in die VSA en die Lugano-fees in Switzerland. Die plaaslike egtheid van Franschhoek se eie en unieke styl en aanbieding is egter die dryfveer van die fees.
Die fees is die geesteskind van Nic en Ferda Barrow, die eienaars van die Le Lude-landgoed, terwyl die Rupert-musiekstigting, onder voorsitterskap van Hanneli Rupert-Koegelenberg, ’n onmiddellike stigtersborg was. Die eiendomsgroep Pam Golding (Paarl) is ook ’n borg.
Die amptelike konserte sal hoofsaaklik in die NG kerk plaasvind, met die kamermusieksaal van die ou wynkelder van die La Motte-landgoed wat ook gasheer sal wees. Impromptu en kleiner konserte en optredes sal in die kelders van Le Lude, verskeie landgoedere, restaurante en gastehuise plaasvind. Dit sal gepaard gaan met MCC-proeë en spesialiteit-kookkuns wat voor of ná van die spesiale konserte sal plaasvind.
Die musiekkurator van die fees is die bekende tjellis Peter Martens, die artistieke direkteur van die bekroonde Universiteit Stellenbosch Camerata.
Die kunsdoyenne Ilse Schermers Griesel (eienaar van IS Art) is die fees se kurator van visuele kuns. Die feeskunstenaar is Jan Vermeiren, wat die amptelike visuele beeld ontwerp het.
Die wyn-kurator, bekende skrywer en fynproewer Emile Joubert, sê verskeie proeë vir uitsoek-MCC asook ander kultivars sal daagliks aangebied word.. Kaartjies is reeds te koop. Besoek www.fcmf.co.za vir inligting.