
Die vrou wie vanoggend (Maandag 30 Januarie) uit die Bergrivier in Paarl gehaal is, is “nog baie lewendig”. Dit volgens ’n reddingswerker wat op die toneel was.
Paarl Post het vroeër berig dat die liggaam van ’n vrou vroeg Maandagoggend deur reddingswerkers naby die keerwal in die Bergrivier verwyder is. Daar was aanvanklik berig dat die vrou glo verdrink het, maar ’n betroubare bron het Maandagmiddag bevestig dat die vrou nog lewe.
“Met die ambulans se aankoms op die toneel was sy al uit die rivier verwyder en was sy nog by haar bewussyn. Ons het haar in die ambulans behandel op pad hospitaal toe,” vertel die reddingswerker.
Sy is na die Paarl-hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Bystanders op die toneel sê dat die vrou, wie se identiteit nog nie aan Paarl Post bekend is nie, glo om 10:00 self vanaf die trappies by die keerwal tot in die water gegaan het.
Brian Alley, die eienaar van ’n bekende gastehuis aan die oewer van Bergrivier, sê dat hy nog die een oomblik die vrou die water sien inloop het.
“Ek het haar self sien inklim en het by myself gedink dat iets nie lekker is nie. Ek het toe die gastehuis binnegegaan en my werkers gevra om haar dop te hou.
“Slegs ’n paar minute later sien ek en my werkers hoe die vrou by die rivier afdryf. Dit het gelyk asof haar een arm nog beweeg het.”
Alley het hierna verbygangers langs die rivier geroep om bystand te lewer. Die vrou was toe reeds sowat 600 m vanaf die keerwal.
Hy sê hoewel meeste bystanders huiwerig was, was daar een man wat braaf genoeg was om in die rivier te spring en die vrou tot op die oewer gebring het.
“Intussen het ek die voorval by wetstoepassing aangemeld wat toe die polisie en nooddienste na die toneel ontbied het.”
Alley bestuur sy gastehuis aan die oewer van Bergrivier vir die afgelope 18 jaar en sê “ek het al minstens 28 mense sien sterf hier in die rivier!
“Ek het ook al hope briewe en pleidooie aan owerhede gerig om behoorlike omheining by die keerwal van die rivier aan te bring,” vertel Alley moedeloos.
Paarl-polisie se woordvoerder, kapt. Louise du Plessis, sê aangesien die vrou nog lewe, sal die insident verder deur nooddienste hanteer word.