.

Kliënte hou vas aan Bobby (85), die Baai se ‘fiksheidsbaas’

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die storie van die Baai se Bobby Ferreira, sy gimnasium en sy jarelange kliënte is een wat die verhaal vertel van volgehoue toewyding, respek en onverwoesbare vriendskap. Mariska Spoormaker vertel meer.

Sit jouself in die prentjie: jy is 83, jy wil finaal aftree en jou kliënte sê aikôna, jy is te kosbaar vir ons.

Dìt in ’n neutedop, is wat gebeur het met Bobby Ferreira, die Baai se geliefde fiksheidsinstrukteur wat langer as 50 jaar die Bobby Ferreira-gimnasium in Newtonpark bedryf het.

Vandag, as 85-jarige, is hy steeds elke Woensdag fiksheidsinstrukteur vir die manne wat hom in hul midde wil hou.

Einde 2019, só vertel Bobby, het hy gedink hy gaan nou maar bietjie rus en sy Newtonpark-gimnasium sluit. Hy het sy besluit toe ook aan sy kliënte oorgedra, maar hul reaksie was dat iemand soos hy nóóit van die Baai se fiksheidstoneel mag of kan verdwyn nie.

“Ons moet die Bobby Ferreira-legacy laat voortleef,” het Andrew Jensen, een van die kliënte, teenoor Oom Bobby opgemerk.

Die oplossing was basies: neem die “laste” van die ekonomiese bedryf van ’n gimnasium oor by Oom Bobby. Nooit weer sal hy homself weer oor boekhouding, instandhoudingswerk, huur, belasting, water en ligte hoef te kwel nie. Maar, behou hom as jarelange vriend en deurlopende fiksheidsinstrukteur.

Die nuwe perseel vir die “nuwe” Bobby Ferreira-gimnasium is nou in die ou General Motors se hoofkantoor in Kempstonweg. Al die ou oefenapparate van die “ou” Bobby Ferreira-gimnasium in Newtonpark, is by oom Bobby oorgekoop en word steeds gebruik.

Elke Woensdag is hy steeds sy ou kliënte se fiksheidsinstrukteur. En hy hoef nie self te ry na die gimnasium in Kempstonweg nie, want sy gimnasium-vriende het Uber-vervoer in plek gekry.

Hierdie soort positiewe nuus in ’n tyd van pandemie, onsekerheid en soms woedende uitbarstings, maak dat ’n mens uitry soontoe op ’n Woensdag om ’n klein gedeelte van die groter goeie prentjie te kan beleef.

“Is dit nie wonderlik nie?”

Netjies uitgevat met skoene blink gepolitoer soos altyd, maak Oom Bobby die deur na die nuwe gimnasium oop en sê amper dadelik: “Kom ek gaan wys jou die verskillende vertrekke met die verskillende apparate.”

In die een vertrek staan die oefenfietse, in ’n ander hang die slaansakke, in die volgende groot vertrek die oefenmat en in ’n ander weer al die ander oefenapparate.

Die kleedkamer het ’n groot stort bygekry en naby die voordeur na die gimnasium is ’n sauna ingebou.

“Die ruimte is maklik dubbeld wat dit in Newtonpark was. Is dit alles nie wonderlik nie?” sê-vra oom Bobby op sy ernstige manier. Hy het net voor ons afspraak gou ’n paar opdrukke op een van die apparate gedoen. “’n Mens moet nie vorm verloor nie. Dis maar beter dat jy jou fiksheid behou.”

Hy gaan wys vir die verslaggewer hoe dit reg gedoen moet word. ’n Hele paar keer. Roetine vir hom, maar moeilikheid vir mense maklik 60 jaar jonger as hy wie se maagspiere nie só sterk is nie.

Andrew Jensen staan nie so oopmond en kyk na Oom Bobby soos die verslaggewer nie. Al jare lank volg hy Oom Bobby se fiksheidvoorbeeld, hy weet waartoe hierdie besonderse man in staat is.

“Bobby is ’n baie belangrike deel van ons lewens, sy kennis, aandag en toewyding is fenominaal. Ons is baie trots op die nuwe 'ou' Bobby Ferreira-gimnasium.”

“Ons het goeie vriende geword.”

En niemand trek finansiële voordeel uit die gimnasium, voeg Oom Bobby by. “Ons is baie dankbaar vir Garry McWilliams wat die reëlings getref het dat die gimnasium in hierdie ou General Motors-gebou voortgesit kan word.”

Die BMI Groep, wat die ou General Motors se industriële park oorgekoop het, het goedgunstiglik die ruimte vir die gimnasium beskikbaar gestel, verduidelik Garry McWilliams, ook een van Oom Bobby se jarelange kliënte.

“Bobby het só baie van ons oor die jare help fiks hou en baie van ons het ook goeie vriende geword, danksy ons betrokkenheid by sy gimnasium.”

Dit is juis hierdie groep van vriende wat besluit het om die Bobby Ferreira-gimnasium te laat voortleef toe Oom Bobby begin voel het dit is tyd om finaal uit te tree.

Net voor 2020 se streng pandemie-inperkings is die gimnasium al verskuif na (nogal!) die ou kantoorsuite van General Motors se besturende direkteur. Maar, voor die skuif het Garry sy gimnasium-vriende en Oom Bobby gevra om eers te kom kyk of dié ruimte geskik sal wees vir ’n gimna- sium.

“Almal het dit die groen lig gegee, waarna al die apparate en groot oefenmat van die gimnasium in Netwonpark hiernatoe gebring is. Bobby se gym leef voort, en genadiglik kan ons weer ons oefen-kameraderie geniet,” sê Garry.

Reggie Ward, nóg ’n jarelange kliënt, raak bewoë wanneer hy oor Oom Bobby praat. “Ek het hom so kom kry in die gym. Ek het in die laat tagtigs aangesluit by die gym en Bobby het saam met ons so oud geraak. Hy doen nog sy sit-ups, hy is nog baie besig.

“Bobby het ’n groot rol in my lewe gespeel. Ek het byvoorbeeld nou Covid gehad en ek glo dit is Bobby se oefeninge wat my deur drie weke in die hospitaal gebring het. Nog een van ons lede was in die intensiewe sorg-eenheid vir vyftig dae, en hy het ook deurgekom.”

Oom Bobby, ’n junior Springbokstoeier in sy jonger jare, staan kierts-regop met sy kenmerkende ernstige gesigsuitdrukking en luister. Maar is dit nie maar tyd vir iemand van 85 om bietjie stil te sit by die huis nie?

“Ag nee wat, met die situasie op die oomblik kry ek oorgenoeg rus in. Ek kan nie so stilsit by die huis nie, ek moet aan die gang bly. En ek oefen nog, ek doen baie sit-ups, ek wil nie met ’n boepmagie rondloop nie.”

Andrew Jensen oefen op een van die handgemaakte apparate wat uit Bobby Ferreira se Newtonpark-gimnasium na die nuwe Bobby Ferreira gimnasium in Kempstonweg oorgeplaas is.
Oom Bobby was ’n junior Springbokstoeier in sy jonger jare.

besig om te laai... Regstreeks
South Africa A 297/10 & 212/10
India A 276/10 & 76/2
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
15.89
+0.3%
Rand - Pond
21.10
+0.4%
Rand - Euro
17.95
+0.3%
Rand - Aus dollar
11.22
+0.7%
Rand - Jen
0.14
+0.4%
Goud
1,774.50
+0.4%
Silwer
22.41
+0.1%
Palladium
1,847.50
+3.5%
Platinum
949.00
+0.9%
Brent-ruolie
69.67
+1.2%
Top-40
64,616
+0.1%
Alle aandele
71,100
+0.1%
Hulpbronne 10
67,242
-0.5%
Industriële 25
93,879
+0.2%
Finansiële 15
14,001
+0.8%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos