.

KYK | Baaise woonhuis omskep in rugby-museum

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Johan Bothma by ’n klein gedeelte van sy gróót rugby-uitstalling wat amper sy hele huis, selfs die badkamer, vul.
Johan Bothma by ’n klein gedeelte van sy gróót rugby-uitstalling wat amper sy hele huis, selfs die badkamer, vul.
Foto's: Mariska Spoormaker

Vir sowat drie weke lank, spog die Baai al die afgelope 20 jaar met ’n tydelike rugby-museum waar jy nog selfs Spiekeries kan hoor uitsaai. Mariska Spoormaker het gaan inloer.


Spiekeries is dood. Lank lewe Spiekeries: in Johan Bothma van Rowallanpark se huis.

Skaars verby die sement-olifant met EP Kings op sy slurp geskryf, hoor ’n mens al dié legendariese rugbykommentator, Gerhard “Spiekeries” Viviers, uitsaai dat dit bars. Dieper in die huis klink Laurika Rauch se liedjie "Stuur Groete aan Mannetjies Roux" (die vlieënde Springbok) op.

Esther Bothma skuif die sydeur na die televisiekamer oop. Net die groot televisieskerm en die stoele teen die muur is nog “oop.” Verder is dit net rugby waar jy kyk: truie, plakkate, pette, serpe, boeke, vlae en baniere.

Selfs in die kombuis is dit net rugby waar jy kyk. Johan Bothma se vrou Esther sê sy kook nie wanneer hulle huis in ’n rugbymuseum omskep word nie.

Trouens, amper die hele huis behalwe die slaapkamers is oortrek van rugby-items. Selfs die badkamer en kombuis. “Ek kook nie juis wanneer die huis ’n rugbymuseum is nie,” antwoord Esther nog voor ek daaroor kon vra.

Johan verander hul huis elke jaar vir so drie weke lank in ’n rugbymuseum. Al minstens twintig jaar lank. “En dit is goed so, want rugby is sy groot passie,” sê Esther.

Luister ’n mens na Johan, word dit gou duidelik dat sy rugby-passie van jongs af vlamgevat het danksy radio rugby-uitsendings en plak-albums, want in die wêreld waar hy grootgeword het, was daar nie rugby-wedstryde om na te gaan kyk nie.

’n Gedeelte van oom Johan Boesman se rugby-versameling wat aan Johan Bothma geskenk is.

Spiekeries en plakboeke

“My pa het geboer in die Baviaanskloof. Ons huis was naby my oom, en Saterdagmiddae het ons daar gaan kuier. En as ons nou so vér aankom na sy huis toe, dan hoor ek daar is iets op die radio wat hard praat. Maar op daardie stadium het ek nie geweet dit is rugby nie.

“Eers toe ons in 1969 na my pa se dood Fullerton toe getrek het, het my belangstelling in rugby begin groei, al was ons maar iets soos 12 kinders in die plaasskooltjie. Daar was die Terblanche-tweeling wat saam met my in standerd drie (Graad 5) was en hulle het rugby-plakboeke gehad. Ek het toe ook met rugby-plakboeke begin.”

Op 29 Augustus 1970 het Johan sy eerste volwaardige rugby-wedstryd in oortreffende trap beleef. Dit was toe die Springbokke die derde toets teen die All Blacks in die Baai se Boet Erasmus-stadion gespeel het.

“Tot voor dit het ek nog nie eers ‘n skool rugbywedstryd gesien nie. Oom Jannie Rautenbach van Fullerton my saamgenooi na dié toetswedstryd. Nou voor dit was die grootste getal mense wat ek in my lewe bymekaar gesien het, so veertig, vyftig mense by die Baviaanskloof se kerkbasaar - en hier is nou iets soos veertig duisend mense bymekaar in die Boet Erasmus!

“En soos hulle opgehardloop het, kon ek dadelik sien – daar is Frik du Preez, daar is Dawie de Villiers die kaptein, Jan Ellis, ek sien Piet Visagie, ek sien Gert Muller en dit deur die rugby wat ek deur my plakboeke en Gerhard Viviers leer ken het. Ek kry nog steeds hoendervleis wanneer ek terugdink aan die gevoel wat ek op daardie dag beleef het.”

Terug op die Karoodorpie Fullerton het Johan met nuwe ywer aan sy rugby-plakboeke begin werk. “Agterna het ek briewe begin skryf aan die Springbokke en baie het vir my terug geskryf. Hulle het ook foto’s en ander goed vir my gestuur.”

Johan Bothma en sy vrou Esther in hul rugby-sitkamer.
Net die televisie in die tv-kamer is nog oop . . . en dit is sodat opnames van ou wedstryde, wat ook deel is van die uitstalling, uitgesaai kan word.

Selfs Dok Danie Craven het ’n ondertekende foto van hom aan Johan gestuur.

Daar is veral twee manne wat Johan se rugbyversameling tot groter hoogtes help neem het. Die een is Oom Boesman Fourie van Jansenville en die ander Basil Kenyon, Springbok rugbykaptein in 1951.

“Oom Boesman is my swaer se pa. Na sy dood het ek al sy boeke, toetskaartjies en programme gekry.”

Basil Kenyon het in persoon ’n klomp foto’s vir Johan gebring.

“Eendag toe bel hy my hier by die huis en hy sê hy kom kyk ’n wedstryd tussen Transvaal en die OP in die Baai, ek moet hom na die wedstryd in Somerstrand ontmoet. En toe oorhandig hy al sy foto’s aan my. Ook die Vaderland-voorbladberig ‘Ongeluk tref kaptein van toerspan.’ ’n Oogbesering wat hy gedurende die Tweede Wêreldoorlog opgedoen het, het vererger tydens die rugbytoer deur Brittanje.”

Die uitpak

En elke keer, die afgelope 20 jaar al, wanneer daar ’n rugbytoer is – soos die afgelope toetswedstryde tussen Suid-Afrika en Wallis – dan maak Johan die gróót kas met sy reuse-rugbyversameling oop, pak dit uit, besluit watter tema word waar in sy huis uitgestal, hang dit op en sit dit in plek en dan word rugby-vriende oorgenooi vir die amptelike opening.

“Ek sê altyd: as ek mense nooi om te kom kyk en hulle kry nie hoendervleis soos met Spiekeries se kommentaar of gepaste rugby liedjies nie, dan was my uitstalling nie ’n sukses nie.”

Daarna bly die uitstalling so drie weke lank vir belangstellendes om te kom kyk. Só was dit ook voor die Wallis/Springbok-rugbytoer en as ’n mens tel, is daar al drie weke sedert die opening verby. Maar sy uitstalling, met Spiekeries meeste aan die woord - is nog nie weggepak nie.

“Die All Blacks speel 6 en 13 Augustus hier. Ek verander die tema net ’n bietjie. Maar ná die All Blacks…ja, dan word alles weer weggepak. As ek ná ’n ruk weer die kas oopmaak en ek kyk na my rugby-goete, dan voel dit asof die boeke en prente met my praat, ek hoor Spiekeries se stem...dit is hoe rugby in my bloed is.”

Johan se rugby-versameling, kortliks saamgevat, kom op die volgende neer: nagenoeg 100 rugbyhoedjies, 100 truie, honderde rugbyprente soos wat in Huisgenoot en ander tydskrifte was, talle hiervan gelamineer, plakboeke vir Afrika, ’n koffer vol van nóg prente, rugbykaartjies van so ver terug as 1949, 1951, 1953, en 1955, programme strek vanaf 1949 se All Black toer na Suid-Afrika, dan ook van 1953, 1955, 1958, ens. en dan nog ou OP-programme van die vyftigs.

“Wat my verskillend maak van die werklike groot versamelaars, is dat ek my versameling jaarliks uitstal en dan skep ek ’n atmosfeer dat selfs ek hoendervleis kry.

“Nou die dag toe ons Laurika Rauch se lied 'Stuur Groete aan Mannetjies Roux' speel, moes ek my trane keer.”

Dié fraai OP-olifant by die voordeur sê jou hier kom ’n ding.

Rand - Dollar
16.20
+0.3%
Rand - Pond
19.66
+0.8%
Rand - Euro
16.62
+0.9%
Rand - Aus dollar
11.54
-0.0%
Rand - Jen
0.12
+0.6%
Goud
1,800.50
+0.6%
Silwer
20.80
+2.4%
Palladium
2,224.00
-2.9%
Platinum
966.20
+0.5%
Brent-ruolie
99.60
+2.2%
Top-40
63,996
-1.0%
Alle aandele
70,731
-0.8%
Hulpbronne 10
64,048
-2.8%
Industriële 25
86,577
-0.6%
Finansiële 15
16,059
+0.6%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos