Beter paaie wink vir NK

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Noord-Kaapse paaie van sowat 950 km is tot nasionale paaie verklaar. Dit sluit die berugte R31-roete tussen Kimberley en Kuruman in.

Dié besluit wat op 2 November in die Staatskoerant aangekondig is, word verwelkom omdat dit ’n regstreekse uitwerking op die ekonomiese ontwikkeling van die provinsie sal hê.

Dit is ook in ooreenstemming met die plan vir ekonomiese ontwikkeling en herstel vir die provinsie, sê Abraham Vosloo, LUR vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Noord-Kaap.

Dit is veral goeie nuus vir die beplanning van die ontwikkeling van die Noord-Kaapse nywerheidsdeurgang, wat die Namakwa- Spesiale Ekonomiese Sone, die Upington-nywerheids­park, die Kathu-nywerheidspark en die Boegoebaai-hawe en -groen­waterstofontwikkeling insluit.

Boonop sal dit tot beter ekonomiese geleenthede in die landbou- en die toerismesektor lei, sê Vosloo.

’n Geweldige toename in mynbou rondom Postmasburg, Kathu en Kuruman het in die afgelope jare toenemende vragverkeer na die hawe in die Nelson Mandelabaai-metro tot gevolg.

Vanaf Kimberley strek nasionale paaie oor Bloemfontein, Colesberg en Cradock, of oor Hopetown, Britstown, De Aar, Hanover en Cradock na Gqeberha.

Die berugte R31 van Kimberley na Daniëlskuil, Kuruman en Santoy tot by McCarthy’s Rest is tot ’n nasionale pad verklaar.

Na raming beweeg meer as 2 000 vragmotors per dag langs dié besige roete, met ongelukke wat gereeld voorkom.

Die R385 vanaf die afdraai na Daniëlskuil oor Postmasburg tot waar dit by die N14 aansluit, is ook tot ’n nasionale pad verklaar.

Nog twee roetes wat tot nasionale paaie verklaar is, is die R382 vanaf die Alexanderbaai-lughawe oor Port Nolloth tot by Steinkopf en die R58 vanaf Colesberg tot by Norvalspont.

Dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse leier van die VF Plus, sê die aankondiging is waarskynlik die gevolg van herhaalde vertoë oor oorlaaide vragmotors op die roetes.

“Omdat nasionale paaie oor die algemeen beter as provinsiale paaie in stand gehou word, verwelkom die VF Plus die aankondiging.”

Hy sê nog so ’n pad is die R369 vanaf die aansluiting met die N12 by Hopetown, oor Orania tot by die aansluiting van die R48 na Koffiefontein en dan Bloemfontein. Nog ’n trajek is die R389 van die aansluiting met die N1 by Hanover tot by die R48 by Philips­town.

Dit is deel van die berugte ertsroete, waar die swak padoppervlak reeds tot ongelukke en sterftes gelei het.

“In dié stadium is dit nog onbekend wat van die trajek tussen die twee nuwe nasionale paaie oor Petrusville tot by Philipstown gaan word. Daardie deel van die roete is in dieselfde swak toestand.

“Vragmotors verkies soms om by Hopetown af te draai en oor Orania, Petrusville en Philipstown by die nasionale pad op Hanover aan te sluit. Dié roete is nie vir sulke swaar verkeer bedoel nie.”

Boshoff sê die verswakkende toestand van die pad en herhaalde lewensverlies is deur die VF Plus aangemeld, onder meer in die parlement.

“Gemeenskapsorganisasies al langs die roete, asook munisipale owerhede, het herhaaldelik met die provinsiale owerheid geskakel.

“Beter wetstoepassing en meer gereelde padonderhoud is telkens versoek.”

Hy sê dit is nog onduidelik wat die nuwe status in die praktyk gaan beteken.

“Tog skep dit hoop dat die paaie binnekort sal verbeter.”

Die tydlyn oor wanneer hierdie paaie verbeter gaan word, is nog nie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) ontvang nie.

Rand - Dollar
17.21
-0.1%
Rand - Pond
21.32
+0.1%
Rand - Euro
18.70
+0.1%
Rand - Aus dollar
12.24
-0.0%
Rand - Jen
0.13
-0.4%
Platinum
1,016.00
+1.2%
Palladium
1,617.34
-3.0%
Goud
1,929.54
+0.0%
Silwer
23.58
-1.4%
Brent-ruolie
87.47
+1.5%
Top-40
74,766
+0.4%
Alle aandele
80,791
+0.4%
Hulpbronne 10
77,871
-0.4%
Industriële 25
103,872
+0.7%
Finansiële 15
16,281
+0.6%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos