
Die besluit verlede week van die Sol Plaatje- munisipale raad in Kimberley om die skorsing van die waarnemende direkteur van infrastruktuur op te hef nadat hy deur die munisipale bestuurder tydelik uit sy amp ontslaan is, voorspel niks goeds vir inwoners nie.
Só sê Tumelo Mosikare, projekbestuurder van die Sol Plaatje-belastingbetalersunie (Sopu), wat meen dit spruit uit faksiegevegte.
Tapelo Matlala, munisipale bestuurder, het Pethole Sithole, waarnemende direkteur van infrastruktuur, onlangs geskors weens beweringe van nepotisme. Hy het na bewering as bestuurder van plaaslike ekonomiese ontwikkeling iemand sonder die vereiste kwalifikasies in die toerisme-afdeling aangestel.
Sithole se aanstelling as waarnemende direkteur is maande gelede deur die ANC-meerderheid op ’n raadsvergadering bekragtig, ongeag hewige teenkanting uit opposisiegeledere.
Opposisiepartye voer aan die aanstelling het te make met trogvreters wie se oë gerig is op die toelae van meer as R2 miljard van die nasionale regering om die infrastruktuur op te knap.
“Die ANC-meerderheid wat Sithole ondersteun, is skynbaar nie ten gunste van die munisipale bestuurder nie. Ek vermoed hulle wil van hom ontslae raak,” sê Mosikare.
“Eers dan sal die herstelwerk van die waterpypleidingnetwerk voortgaan, wat skielik uitgestel is.
“Indien die munisipale bestuurder Desember verdagte kontrakte aangegaan het soos beweer word, hoekom word dit nou eers op die betrokke tydstip opgehaal?
“Die munisipale bestuurder moet homself meer sigbaar en hoorbaar maak as hy sy pos wil behou. Hy moet hom toespits op dienslewering en spertye stel en werkers aan die werk kry. Hy moet sy plan aan die belastingbetalers verduidelik.”
Die stad het ’n waterverlies van 65%.
“Twee dekades gelede het ons waterverliese van 40% gehad. Hoe langer ons die herstelwerk uitstel, hoe slegter vir die stad.
“Die munisipaliteit betaal duur vir water wat hy nie kan herverkoop nie.
“Die swak infrastruktuur het niks met veroudering te make nie, dit is te wyte aan swak bestuur, politiekery en faksiegevegte. Teen die einde van elke geldjaar is ons swakker daaraan toe as die vorige een.
“Politici moet besef as die stad groei en ontwikkel, hulle ook baat sal vind, maar hulle wil vandag aan die trog vreet.”
Burgers moet hul eie regte en verantwoordelikhede begryp.
“Jy moet weet wat die begroting en die geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) behels. Jy moet jou raadslid gereeld uitvra hoe hy of sy dit benader. As jy nie met hulle saamstem nie, stem jy nie vir hulle nie en eis regstelling.
“Ons kieserskorps is nie ingelig nie. Dit is verblydend om te hoor dat oudleerlinge van ’n plaaslike skool beplan om lesings vir leerlinge te hou. Ons jeug besef nie wat hul stem beteken en ten opsigte van hul eie toekoms nie.
“Mense moet met hul gewete stem en gedurig druk op raadslede toepas.”