
Leerlinge en onderwysers aan die Laerskool Eureka in Kimberley het verlede week by twee plaaslike deskundiges meer oor roofvoëls geleer en hoe hulle tot die bewaring van veral bedreigde spesies kan bydra.
Ronelle Visagie, veldwerk-koördineerder van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT), en Julius Koen, ’n meestervalkenier van Kimberley wat soos Visagie ook roofvoëls rehabiliteer, het leerlinge oor hul werk met roofvoëlbewaring vertel.
Visagie, wat by Kraankuil woon, reis oor die Noord-Kaap heen om inligting oor roofvoëls te versamel, beseerde voëls te red en bewustheid onder boere en ander belanghebbendes te bevorder.
Koen, wat ’n permit het om met valke te jag en beseerde voëls te rehabiliteer, leer hulle om te jag sodat hulle weer vrygelaat kan word.
Soos Visagie is hy by verwante projekte betrokke, onder meer om aasvoëlkuikens in neste te tel, te ring en vlerkplaatjies aan te bring. Die inligting word in navorsing gebruik.
Visagie en Koen steun op dr. Donovan Smith, veearts van die Kimberley Veterinary Clinic, en sy personeel, wat nie skroom om beseerde voëls te behandel en te versorg nie.
Hul praatjie, wat deur al die leerlinge bygewoon is, is deur onderwyser Sandra Wallace gereël, wat ook die koördineerder van die leerlingraad is.
Wallace sê die leerlingraad samel onder meer geld en produkte in wat aan die Kimberley Veterinary Clinic en die DBV geskenk word.
“Die skool het die praatjies gereël nadat ek gesien het hoe Donovan roofvoëls vrywillig behandel. Ons skool wil ook ’n bydrae tot natuurbewaring lewer.
“Die praatjies was uiters interessant en leersaam. Julius se Harris-valk wat voor op die verhoog gesit het, het baie aandag getrek. Die kinders het dae lank gepraat oor wat hulle geleer het.
“Ná die pandemie het ons lewe eng geraak.
“Ek dink sommige kinders kom nie meer so baie in die natuur nie. Ek hoop die praatjie het hulle geïnspireer om meer te doen om ons bedreigde voëls te help bewaar. Dit is wonderlik dat mense wat, soos Julius, afgetree is, steeds ’n reuse-bydrae lewer.”
Visagie sê die grootste bedreigings vir roofvoëls is die uitplaas van gif in karkasse om probleemdiere uit wis. Ander diere soos roofvoëls wat daaraan vreet, vrek ook daarvan.
Slagysters kap roofvoëls se bene af. Ander bedreigings is die vernietiging van habitat, soos wanneer bome waarin neste is, afgekap word.
Roofvoëls verdrink ook in damme waaruit hulle nie kan ontsnap nie. Van die oplossings is om ’n paal teen die wal te sit sodat die voël kan uitklim. Nog ’n bedreiging is mense wat diere doodmaak om hul liggaamsdele in die muti-handel te verkoop.
“Mense moenie voëls en hul habitat versteur nie. Motoriste moet stadiger ry sodat hulle roofvoëls nie doodry nie.
“Roofvoëls kan ook vrek of beseer word wanneer hulle met kragdrade en kampdrade bots, of kan op onveilige kragpale doodgeskok word.”
Sy het die leerlinge gevra om haar te kontak wanneer hulle op voëls afkom wat doodgeskok is.