
Die meeste van dié kinders is weggooikinders.
Maar by die Helen Bishop ortopediese nasorg- en rehabilitasiesentrum in Kimberley het hulle ’n tuiste, en personeel versorg en ondersteun elkeen van die 65 inwoners met fisieke en verstandelike gestremdhede, met liefde en deernis.
“Elke kind hier het ’n hartseerstorie, en dit is nie mooi storietjies nie,” vertel Barbara van Eetveld, vir byna 30 jaar die matrone en bestuurder van Helen Bishop.
Noord-Kaapse kinders, van babas tot 18-jariges, word ingeneem, en kinders wat van kleins af in Helen Bishop woon, bly meestal aan wanneer hulle 18 jaar oud word.
“Want waarheen moet hulle gaan?” vra Van Eetveld.
Die meeste se ouers besoek hulle nooit nie, of doen nie navraag oor die kind se welstand nie. Op 18-jarige ouderdom word die huislike omstandighede deur maatskaplike werkers ondersoek vir geskiktheid om die kind daar te plaas. In die meeste gevalle is dit nie geskik om heeltydse en spesiale sorg vir die kind te bied nie.
Soms word van die ouer kinders gekeur om inwoners by die Sally Aucamp-tehuis vir volwassenes met fisieke gestremdhede te word, sou daar ’n plek beskikbaar wees.
Maar nêrens anders in die Noord-Kaap kan dié jongmense met multi-gestremdhede gehuisves word nie.
Die omstandighede waaruit talle kom, is haglik. By van die huise gebruik alkoholis-ouers die kinders se toelae om drank te koop. Van die meisietjies wat hier geplaas word, is verkrag, meestal deur familielede.
’n Meisie van De Aar is in haar ouerhuis in ’n hoek gevind waar sy sitgemaak is, met ’n doek om haar gesig sodat die kakkerlakke nie in haar mond, neus en oë klim nie.
Kinders word hier geplaas ná verwysing van ’n hospitaal, kliniek, dokters, maatskaplike werkers; soms vanuit die gemeenskap. Noord-Kaapse kinders, van so ver soos van Upington, Carnarvon, en elders in die verre Namakwaland woon hier.
Serebrale gestremdhede, insluitend spina bifida, is by die meeste diagnoseer, en in talle gevalle is daar nie ’n hoë lewensverwagting nie.
Een van die inwonertjies was twee weke oud toe sy in Helen Bishop geplaas is. Medici het gesê weens die ernstige aard van haar gestremdhede sal sy nie lank leef nie. Sy word binnekort ses jaar oud.
“Sy is dierbaar, met haar bolletjie brein buite haar kop, een ogie, geen neusie en erge toestand van ’n gesplete verhemelte,” sê Van Eetveld.
Enkele van die inwoners kan sonder hulpmiddels beweeg. Van hulle is ook blind of doof, of albei.
’n Handjievol van die kinders kan skool bywoon, en is leerlinge by die Jannie Brink- of die Elizabeth Conradie-skool (Elcon). Hulle word deur Elton Oliphant, ’n drywer van Helen Bishop, na en van die skool vervoer. Die meeste van die kinders kan egter nooit skoolgaan nie.
‘Jou kop bly hier’
Altesaam 44 permanente personeellede bied 24 uur, sewe dae per week, sorg aan dié kinders in die seuns-, meisies- en babasaal.
“Al is ’n mens by jou eie huis, is jou kop hier. Jy wonder altyd hoe dit met die kinders gaan,” sê Martha Molaolwa, vier jaar reeds ’n verpleegster hier.
Die kinders word elke dag in ondersteuningstoele geplaas wat shona-buggies genoem word. Weens hul gestremdhede kan die kinders nie die stoele self laat beweeg nie.
Die shona-buggies is geweldig duur, en van dit al erg verweer, maar planne word gemaak om dit so funksioneel as moontlik te hou.
Benjamin Bishop (22) is by Helen Bishop geplaas toe hy vyf dae oud was, en het skoolonderrig by Elcon ontvang. In Maart het hy aan die nasionale kampioenskap van die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Liggaamlik Gestremdes in die gewigoptel-nommer deelgeneem.
Hy lewer ’n bydrae deur onder meer met fisioterapie-sessies te help en om die kinders in hul shona-buggies te skuif.
Ook McDonald Vries, sedert 2008 ’n inwoner, help met die kinders, en sing en dans graag vir hulle. Hy kon aanvanklik nie loop nie, maar te danke aan rehabilitasie het hy dit baasgeraak, en is as ’n fisioterapeut-assistent aangestel.
Wanneer dit ’n lekker dag is, moet almal uitgaan om son en vars lug te kry, vertel Van Eetveld.
Elke dag het ’n vaste roetine, waarvan drie etes per dag ’n deel vorm. In die kombuis, met Leony Soois as toesighouer, en Vivienne van Wyk as assistent, word ontbyt, middag- en aandete voorberei, met ’n voedsame “smoothie” om 10:00.
Terwyl ontbyt en aandete kleiner etes is, bestaan middagete uit vleis, stysel, en ’n groen en geel groentesoort.
Die meeste van die kinders kan hul kos net in verpulpte vorm inneem, en sommiges kry dit fyngemaak. Enkeles kry voeding deur voedingspypies wat in die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal direk in die maag geplaas word.
Dié pypies veroorsaak frustrasie, want die regte “peg” na aanleiding van “percutaneous endoscopic gastrostomy” met voorgeskrewe koppelstukke, is glo nie in voorraad by die hospitaal nie, en kateterpypies sonder hegstukke word gebruik.
Etenstye is ’n besige tyd. Die kinders word in hul shona-buggies na die eetsaal verskuif waar elke beskikbare personeellid help om hulle te voer.
Twee personeellede is nodig om een kind te bad, en snags is vier aan diens, asook sekuriteitsbeamptes.
Hand-oor-hand leer elkeen
Die kinders se dae word gevul met besoeke aan onder meer die “klaskamer” met sy “snooze room”, en die fisioterapie-afdeling.
Wendy Swarts is reeds vir vyf jaar in die klaskamer betrokke, met Hester Ramosie wat haar al vir twee-en-’n-half jaar bystaan.
“As die kind klaar is, is daar soveel blydskap,” vertel Swarts. Die wat kan, word geleer om te tel en kleure te onderskei, selfs te brei.
Vir ontspanning en sensoriese stimulasie word die “snooze room” besoek waar die kind op ’n matras neergelê word, met gekleurde liggies wat oor die mure en plafon beweeg.
Raamwerke waaraan onder meer linte of toutjies geknoop is, word oor die kind staangemaak en met die hulp van Swarts of Ramosie se hand kan die kind aan die verskillende teksture voel. ’n Kind kan ook op die musiekplatform neergelê word waaronder luidsprekers gekoppel is.
Klassieke musiek word gespeel en die kind voel die vibrasie van die musiek. Swarts sê vir die meeste is dit geweldig ontspannend, terwyl enkeles niks daarvan hou nie.
Omdat van die kinders doof of blind is, of albei, bied die “snooze room” soortgelyke aktiwiteite wat ook hulle sensories kan stimuleer.
“Dit is wonderlik om te sien hoe hulle reageer, hoe hulle ‘sien’ of ‘hoor’ ,” sê Swarts.
In die middae help hulle die leerlinge van Elcon en Jannie Brink met huiswerk.
Elke kind moet minstens een maal per maand ’n besoek by die speelkamer en “snooze room” aflê.
“Hierdie is nie ’n werk nie; dit is ’n passie,” sê Swarts.
Naomi Pillay en Sylvia van Wyk is die fisioterapeute. Hidroterapie word ook gedoen, hoewel die groot borrelbad buite werking is, met geen kundige wat dit glo kan herstel nie.
Van die kinders behoort eersdaags weer op Biscuit, die huis se mak perd, te begin perdry. Van Eetveld se worshond, Rolo, is baie gewild by die kinders, en poue op die terrein bring ook plesier.
Susan Matroos is die maatskaplike werker, en haar pos word deur die departement van maatskaplike ontwikkeling subsidieer. Matroos is verantwoordelik vir die skakeling tussen die eksterne maatskaplike werkers, plasing en uitplasing van kinders, bywoning van kinderhowe, hantering van probleme en terapeutiese dienste, bystand aan personeel, skoolplasings, en aansoeke van identiteitskaarte en later Sassa-toelaes.
Ubuntu toe en nou
Volgens ’n inskrywing in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal van 9 Januarie 1988, het Bernard William Franklin-Bishop grootliks tot die oprigting van Helen Bishop bygedra.
Hy het besef dat geen sorg vir sulke kinders in die Noord-Kaap bestaan nie.
Franklin-Bishop is in 1903 in Kaapstad gebore, en binne ’n jaar nadat hy sy mediese studies aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het, het hy na Kimberley verhuis. Hy was ’n lid van die stadsraad en vanaf 1946 tot 1951 die voorsitter van die Cape Society of Cripple Care.
Met die ondersteuning van ’n groep vroue is geld ingesamel om die tehuis te bou, wat in 1948 geopen is. Harry Oppenheimer sr. het die hoeksteen gelê, ’n komitee is gestig en toe reeds was dit vir kinders van alle rasse beskikbaar.
Franklin-Bishop het later die tweede plastiese chirurg in Suid-Afrika geword.
Behalwe oudpresident Nelson Mandela wat die tehuis in 1994 besoek het, was Julius Malema, leier van die Economic Freedom Fighters (EFF), nog die enigste politikus sedert die begin van die demokratiese Suid-Afrika wat hier besoek afgelê het.
“Hy het sonder fanfare gekom en gegaan,” onthou Van Eetveld.
“Die meeste ouers van kinders met hierdie gestremdhede is nie opgelei om na die kind om te sien nie, en het sentrums soos die nodig. Personeel by die sentrum beoefen ubuntu in hul uitreik na die kinders. Hulle is bereid om hul tyd met familie op te gee om na die kinders om te sien,” het Malema gesê. Hy het opgemerk dat geld eerder op sulke organisasies bestee moet word, as op feeste met gratis alkohol.
Die afgelope jare benadeel struwelinge in die Noord-Kaapse departement van gesondheid die werking by Helen Bishop – ’n nie-winsgewende organisasie – op verskeie vlakke: Vanaf die mediese sorg wat die kinders benodig, tot die betaling van personeellede en die uitbetaling van subsidies.
Vroeër is tot 97% staatshulp ontvang; dit het drasties verander en Helen Bishop moet geldinsamelings doen om die potte vir 65 inwoners aan die kook te hou.
Die departement van sosiale ontwikkeling betaal wel hul subsidies aan die 34 kinders wat deur ’n hofbevel hier geplaas is.
De Beers het nog altyd bydraes gegee wat vir onderhoud en verbeteringe gebruik is; nou moet dit vir lopende uitgawes gebruik word. Die maandelikse diensterekening moet onder meer betaal word, wat soms ’n groot uitdaging is.
Hulle is bevoorreg om per geleentheid kosprodukte van ’n winkelgroep te ontvang, wat hulle so goed moontlik gebruik.
“Ons het altyd doeke nodig. Net omtrent tien inwoners dra nie doeke nie. Ons het nie geld vir wegdoenbare doeke nie en gebruik doeke van handdoekstof. Die meeste daarvan is nou gedaan, en ons maak doeke van handdoeke wat deur ’n hotelgroep aan ons geskenk word.
“Dié wat wil kritiseer, moet ’n beter idee gee,” sê Van Eetveld.
Sy vertel goeie en skraal tye vir skenkings kom en gaan.
“Ons gee uit waarvan ons te veel het – ons glo aan ontvang met die een hand, maar gee met die ander.”
- Besoek die huis by Church-weg 34 in Utility, Kimberley, of skakel 053-831-2447.