
Die eerste twee beskuldigdes wat van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery van bykans R500 miljoen aangekla word oor die boukontrak van die omstrede psigiatriese hospitaal in Kimberley, is Dinsdag 23 Mei in die landdroshof in die stad op borgtog vrygelaat.
Hul volgende verskyning op 11 Julie sal wees wanneer hulle saam met ’n beskuldigde wat tans ’n vonnis in die Upington-gevangenis uitdien, in die beskuldigdebank sal skuif.
Patience Mokhali (65), voormalige provinsiale departementshoof van die departement van openbare werke en paaie, het saam met Tshegolekae Motaung (59) en sy maatskappy, Babareki Consulting Engineers, verskyn nadat hulle vroeër die oggend in hegtenis geneem is.
Mokhali, wat ook van oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aangekla word, was departementshoof toe John Block, voormalige ANC-leier, die LUR vir die departement was.
Block dien tans ’n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf uit nadat hy aan korrupsie skuldig bevind is. Hy het sy invloed gebruik om huurkontrakte vir staatsgeboue teen onbehoorlike bedrae aan die Trifecta-maatskappy toe te ken.
Adv. Boitumelo Sediti, aanklaer, het aan die hof gesê daar is nog een beskuldigde, wat tans ’n vonnis in ’n gevangenis uitdien en nie kon verskyn nie. Hy is glo besig om verder te studeer en moet toetse aflê. Die betrokke beskuldigde sal op 11 Julie saam met sy vermeende meelopers in die hof verskyn.
Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder, sê die bewering is dat die betrokke departement tesame met die departement van gesondheid in 2003 die kontrak van R290 miljoen aangegaan het om die hospitaal te bou. Die geboue moes glo na die konstruksie gesloop word, en die kontrakteur is R420 miljoen betaal sonder dat enige werk gedoen is.
“Die kontrakteur was bankrot. Hy was nie bevoeg om die dienste te lewe nie. Geen wetlike aankoopvereistes is gevolg nie. Die werk is gestaak en die gebouekompleks onvoltooid. Dit kos steeds geld om te onderhou.”
Die boukoste het oor meer as tien jaar byna R2 miljard beloop, en opposisiepartye het oor die jare heen optrede geëis.
Mokhali is afgetree en woon in Kimberley. Sy het gesondheidsprobleme en ly aan probleme met haar geheue. Sy is borgtog van R10 000, en Motaung, borgtog van R50 000 toegestaan. Motaung bly in Johannesburg en het sy eie maatskappy.