
Op Vrydag 19 Mei is ’n heerlike koek-en-tee-oggend by die Andanté-aftreeoord gehou om ’n groot bondel winterwarmte – hoofsaaklik musse en serpe – aan die Hanna Charity and Empowerment Foundation te oorhandig.
Die aktrise Hanna Grobler, wat die organisasie in 2008 begin het, en haar vriendin, Lochlene Viljoen, wat haar help met sopkombuis-aankope, was aangenaam verras om ook ’n skenking van droë kos, wat die breiers en ander inwoners die oggend saamgebring het, in ontvangs te neem.
Hanna, wat deesdae in Stellenbosch woon, het vertel sy het in ’n pastorie grootgeword en die koek-en-tee het haar sommer baie welkom laat voel.
Sy het nooit regtig besluit om ’n liefdadigheidsorganisasie te begin nie, maar liefdadigheid was van kleins af deel van haar lewe.
Haar pa is ’n omgeemens en haar ma ’n nie-praktiserende maatskaplike werker.
Van laerskooldae sou sy haar ma vra of hulle iets kan gee as sy sou oplet daar is ’n kind wat iets kort.
“Die Here het net my oë oopgemaak vir behoefte.”
Hanna sê kinders moet geleer word om behoefte raak te sien.
“Ons is afgestomp, want daar is so baie armoede om ons dat ons dit nie meer raaksien nie, of ons is geïrriteerd of te bang weens misdaad.”
Mense is geneig om ander te veroordeel, maar dit is nie vir ons om te oordeel nie, sê sy. “Ons moet onvoorwaardelik gee – liefde.”
Sy het verwys na Andanté se oudste inwoner, Tannie Petro Brand (101), wat gesê het haar geheim om so oud te word is dat sy baie lag.
“Nie almal het iets om te gee nie maar dit is ’n wonderlike geskenk om net vir iemand te glimlag, want dit sê ‘jy’s oukei’.’’
Hanna het vertel haar toneelspeel het eintlik begin toe sy op hoërskool vrywillige diens by ’n geriatriese sentrum met demensie- en alzheimers-lyers verrig het. “Ek sou wees wie hulle gedink het ek is.”
Ná skool het sy drama gaan swot op Stellenbosch, waar sy ’n straatkindbediening begin het.
“Ek kon dit nie hanteer om al die kindertjies op straat te sien wat ek weet gangsters gaan word nie.”
Een dag het sy ’n nuwe meisie op straat gesien en die kind in haar koshuiskamer laat oorslaap voor sy haar huis toe sou neem of maatskaplike hulp sou kry.
“Toe skors hulle my uit die koshuis.”
Hanna sê toe hulle haar pa bel oor die oortreding, het hy gesê hy is trots op haar. Sy kon aanbly, maar het self besluit om te gaan.
“Ek het vir hulle gesê as dit ’n wit kind was, sou hulle nie dieselfde gereageer het nie.”
Hanna sê sy het drama gestudeer vir die kunsdeel, maar die Here het vir haar rolle gegee as aktrise, wat haar Gauteng toe geneem het.
Sy het gehoor van Danville en is soontoe met ’n motor vol klere en kos. By die eerste deur waar sy aangeklop het, het die vrou gesê: “Moet net nie Elandspoort toe gaan nie, want daai mense is baie sleg.”
Hanna sê sy het dadelik geweet sy moet soontoe gaan.
Daar het sy ’n verskriklike arm vrou, wat toe ’n alkoholis en strawwe roker was, ontmoet. Sy sou sameroeper vir die sopkombuis, wat vandag nog bestaan, word.
“Tien jaar daarna het sy baie jonger gelyk,” sê Hanna.
Dit is waar haar organisasie begin het.
Stap ’n pad
Van daar het sy net gegaan soos wat die Here haar gelei het, sê Hanna. In ’n stadium het sy en Karlien van Jaarsveld vir kleuters op ’n sypaadjie klas gegee.
Vandag bedryf haar organisasie landwyd ses kleuterskole, wat geen fooi vra nie. Daar is ook klerebanke, biblioteke, “womanhood”-groepe waar vroue vaardighede aanleer, ‘‘motherhood”-groepe waar behoeftiges geleer word van babasorg, en “brotherhood” vir die pa’s, vertel Hanna.
”Baie mense het die benadering, gee eerder ’n visstok as vis, maar het jy al probeer visvang as jy honger is?
“Gee eers die vis, stap ’n pad met mense; gee 50 visse, gee 10 jaar lank visse en die persoon begin jou vertrou. Dan sê jy, ‘sien, ek gee om, kom ek help jou en ek leer jou om vis te vang’.”
Vandag het haar organisasie areabestuurders wat ’n pad saam met mense loop, sê sy. Hulle kry geen ondersteuning van die regering nie en is 100% afhanklik van donasies.
As almal sal vra wat hulle kan doen, sal die wêreld ’n beter plek wees, sê Hanna.
Liefdadigheidswerk het haar geleer dat elke oomblik belangrik is en dat mense nie gesond kan word as hulle nie hulself of ander werklik kan vergewe nie.
”Ek kan nie die werk doen sonder God se vreugde in my hart nie.”
Jeanette Terblanche, wat die oggend gereël het, het almal wat betrokke was bedank vir die breiwerk en kospakkies wat hulle gebring het.
Sy sê die breiers kom gereeld Woensdae bymekaar en meeste koop self wol aan.