Mense stroom na Kaapstad op soek na ’n beter lewe en beter geleenthede, maar saam met dit kom groot begrotingsuitdagings vir die plaaslike regering.
Die uitdagings rondom prioriteite vir infrastruktuurontwikkeling in Wyk 8 is saamgevat op ’n grondeienaarskonferensie, wat onlangs in Brackenfell gehou is.
Daar het huiseienaars die geleentheid gekry om hul insette te lewer vir Wyk 8 se beplanning, wat gedeeltes van Brackenfell en Kuilsrivier insluit.
Die verslag is saamgevat deur dr. Johan van Baalen, wat ook die konferensie gefasiliteer het.
Van Baalen is ’n kundige op die gebied van aanspreeklikheid en plaaslike regering.
Volgens hom is die bekostigbaarheid van stygende tariewe en belasting ’n algemene verskynsel in die samelewing vandag – iets wat huiseienaars baie kommer besorg.
Christiaan Hoon, Wes-Kaapse jeugleier van die Vryheidsfront Plus, meen niks word aan verkeersopeenhoping gedoen nie.
“Verkeersvloei word nie behoorlik beplan voordat nuwe ontwikkelings goedgekeur word nie.
“Infrastruktuur moet bybly, veral met die groeiende bevolking. Inwoners se stemme moet gehoor word,” sê hy.
Bennie Harmse steun die punt. Hy sê verkeersvolumes word nie akkuraat gemeet voor ontwikkeling plaasvind nie.
“Toeganklikheid tot paaie moet gepaard gaan met hoëdigtheid ontwikkeling, wat tans stadswyd plaasvind.
“Daar word nie genoeg gedoen om verkeer te verlig nie. Daar is orals verkeersbottelnekke,” sê Harmse.
Hy voeg by dat inwoners nie die opbrengste sien van die stygende eiendomsbelasting nie.
“Ek self het R500 000 in my huis belê vir aanbouings en daarom is my belasting verhoog, maar ek sien nie enigiets in my straat verander nie.”
Voldoende openbare vervoer
Carol Beerwinkel is van mening dat ’n voldoende openbare vervoerstelsel in die noordelike voorstede baie daartoe sal bydra om die probleem op te los.
“Almal wat hier bly, moet hul eie motor hê omdat daar nie MyCity-busse hier ry nie. Dis hoekom daar so baie verkeer is,” sê sy.
Op sy beurt het Zander Rau van VDM-ontwikkelaars, wat verantwoordelik was vir Brackengate 2, gesê ontwikkelingsbydraes word in fyn detail vir ontwikkelaars bereken om infrastruktuur soos paaie te bou, wat eers voltooi moet word voor ontwikkeling kan begin.
Volgens hom is sowat R50 miljoen deur ontwikkelaars oor die afgelope sewe jaar tot infrastruktuur in die wyk bygedra.
Voorbeelde hiervan, sê hy, is die beplande verbetering van die Bottelarypad tussen Saxdownweg en Cecil Morgan-rylaan, wat in Oktober vanjaar begin.
Volgens Marian Nieuwoudt, wykraadslid, is inwoners se insette in wyksplanne belangrik vir toekomstige infrastruktuurbeplanning.