
’n Skrywer, digter en aktivis van Kuilsrivier is verlede week vir haar bydrae tot die kunste vereer.
Dr. Diana Ferrus (69) is verlede week by die 13de en jaarlikse kykNET Fiesta-toekennings in die kategorie Legende vereer.
Dié glansgeleentheid is op Donderdag 9 Maart by The Waterfront Lookout in Kaapstad gehou en is deur talle bekendes bygewoon, insluitendr Tinarie van Wyk-Loots, Elsabé Zietsman en Lee-Ann van Rooi.
Ander bekendes wat Fiesta-toekennings oorhandig het, was Dawid Minnaar, Cintaine Schutte, Lynelle Kenned, Irshaad Ally en Nicola Hanekom.
Diana, ’n voormalige administrateur by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), is met ’n staande ovasie toegejuig. Haar lofprysing is deur haar jare lange vriendin Madge du Preez behartig.
Du Preez is ook die stigter van The Sunflower Seeds Project in die Paarl, ’n organisasie sonder winsbejag.
Storieverteller en aktivis
“Daar is so baie om oor hierdie ikoon te sê en ek glo almal van ons wat vanaand hier teenwoordig is, is bewus van wie sy is, wat sy doen en al die vele toekennings wat sy reeds oor die jare ontvang het.
“Haar eerste verhaal, Die kind, word in 1994 in Die Suid-Afrikaan gepubliseer. Sy het sedertdien gedigte en kortverhale in verskeie bundels gepubliseer. Diana is egter meer bekend vir haar gedig wat aan Sarah Baartman opgedra is.
“Ferrus se gedig ‘I’ve come to take you home’, het die Franse regering aangemoedig om Sarah Baartman se oorskot na Suid-Afrika te laat terugkeer. Hierdie gedig is in Frans vertaal en vorm deel van die wetgewing wat die terugkeer van Sarah Baartman moontlik gemaak het,” sê Du Preez.
Ferrus het ’n BA-graad en BA-honneursgraad aan die UWK behaal. Sy lei steeds skryfskole dwarsoor die provinsie.
Sy is ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging, Bush Poets, Women in Xchains en die Mengelmoes Digters.
Lede van die laasgenoemde groep het ook die verrigtinge verlede week bygewoon.
Nadine Lottering, een van dié lede, het Ferrus ook geprys vir haar toegewydheid teenoor die groep. Volgens haar is die lede van dwarsoor die provinsie.
“In 2012 word sy vereer met die Mboko-toekenning vir digkuns. In Maart 2020 ontvang sy die Vryheid tot die Dorp-toekenning in Worcester tydens die viering van haar geboortedorp se 200ste bestaansjaar. Haar gedig vir haar dorp word ook tydens hierdie seremonie deur die burgemeester, Antoinette Steyn, onthul. In dieselfde jaar tree sy op as fasiliteerder namens die Pearson/Dudu Xaba-skryfprojek, waartydens sy 10 skrywers deur middel van aanlyn klasse oplei om kortverhale van 3 000 woorde elk te skryf. Dit lei tot ’n publikasie wat bekend staan as ‘Woorde wat vry maak’.
“Hierdie ikoon is ’n ware strydvegter vir Afrikaans en dit kom sterk na vore in haar gedig ‘Kom ons praat weer Afrikaans’.
“Dit is dus glad nie verbasend nie dat sy in 2022 deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) in haar tuisdorp vereer is vir haar bydrae tot die bemagtiging van Afrikaans,” sê Du Preez.
13 kategorieë by Fiesta
Lindi Herbst, publisiteit-spesialis: kykNET-kanale, sê daar is toekennings in altesame 13 kategorieë uitgedeel en die skrywer, digter en aktivis Ferrus, en die musiekmaestro prof. Herbert van der Spuy is albei vir hul lewensbydrae tot die kunste vereer.
Suidooster se Jawaahier Petersen en Fraksie se Melt Sieberhagen was die seremoniemeesters.
Schalk Joubert, Ramon Alexander en Babalwa Mentjies het vir die musiekvermaak gesorg.
Die wenners in die onderskeie kategorieë is:
- Beste spel in ’n hoofrol: Sandra Prinsloo vir Die moeder (US Woordfees);
- Beste spel in ’n ondersteunende rol: Carlo Daniels vir Ek, Anna van Wyk(KKNK);
- Beste regie: Christiaan Olwagen vir Die moeder(US Woordfees);
- Beste teaterontwerp: Gideon Lombard vir die klankbaan en ontwerp van Karatara (KKNK, SOF);
- Beste nuutgeskepte Afrikaanse teks, verwerking of vertaling: Adriaan Havenga vir Iewers in die grys (US Woordfees);
- Beste prestasie in klassieke musiek: Handel at home (US Woordfees, KKNK);
- Beste prestasie in visuele kuns: Pitika Ntuli vir Azibuyele Emasiswene/Terugkeer na die bron (Vrystaat);
- Beste musiekgedrewe produksie: Prima Donna(KKNK);
- Beste bydrae tot ’n musiekgedrewe produksie: “The Ancient Voices” (Nomapostile Nyiti en Lungiswa Plaatjies) vir Die oerkluts kwyt(KKNK, SOF, Aardklop);
- Beste feesproduksie: Die moeder (US Woordfees);
- Beste opkomende kunstenaar: Adriaan Havenga: teks vir Iewers in die grys en sy spel en teks vir Om skoon te wees (Woordfees en KKNK).
Die toekennings is nie vanjaar regstreeks uitgesaai nie, maar Fiësta se program op Vrydag 24 Maart sal daaraan gewy word.