
Diewe het verlede week in slegs een dag drie motors en ’n motorfiets in Durbanville en Bellville gesteel.
Die Durbanville-polisie het inwoners in reaksie daarop aangeraai om bykomende maatreëls te tref om die veiligheid van hul voertuie te verseker.
“Parkeer jou voertuie in ’n veilige gebied; laat ’n alarm en opsporingstelsel installeer,” het kapt. Marchell Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, gesê.
“Dieselfde metodes van motordiefstal gebeur ook elders, in ander buurte. Geen voertuie is nog opgespoor nie,” het hy gesê.
Verlede Maandag tussen 08:00 en 10:00 is ’n 2008 Toyota Corolla-stasiewa in Twiststraat in O’Kennedyville in Rosenpark in Bellville uit ’n kampusparkeerterrein gesteel.
Dieselfde dag tussen 08:20 en 11:00 is ’n silwer VW Polo in Bella Rosastraat in Rosenpark gesteel – ook by ’n kampusparkeerterrein.
Ook op Maandag tussen 06:40 en 14:00 is ’n blou Yamaha-motorfiets by die Hoërskool Durbanville in Langenhovenstraat gesteel.
Die volgende oggend tussen 07:50 en 12:10 is ’n Honda Jazz-voertuig in Tulipstraat in Amanda Glen in Durbanville gesteel.
Rhode het inwoners gevra om verdagte aktiwiteite by die Durbanville-polisie by 021 970 3800 of 10111 aan te meld.