.

Drieling ná lang stryd

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bo is Madené en Zelke en onder is Amiah.
Bo is Madené en Zelke en onder is Amiah.

Ná sewe jaar van trane op die bitter pad van onvrugbaarheid het ’n egpaar van Brackenfell net voor Kersfees ’n drieling in die wêreld verwelkom.

Die identiese tweeling, Madené en Zelke, en enkelbaba Amiah is op 21 Desember in Panorama- hospitaal op 30 weke vir Simon en Merwede van Tonder gebore; vir die Van Tonders “drie wonderwerk-babatjies”.

Die paartjie is in 2015 getroud en het soos die meeste ander paartjies gedink swangerskap sal vinnig volg.

Maar polisistiese ovariumsindroom, wat ovulasie baie moeilik maak, is kort daarna by Merwede gediagnoseer.

Ná ses maande van probeer het hulle met hormoonbehandeling begin.

“Ons het oor die volgende paar jaar deur drie dokters, vier inseminasies, ’n operasie en ontelbare hormoonbehandelings gegaan. In 2019, ná die vierde onsuksesvolle inseminasie, het ek deur ’n diep depressie gegaan en ons het besluit om geen behandeling vir ’n jaar te ondergaan nie en net mekaar te geniet,” sê Merwede.

In 2020 het die paartjie besluit om die Tygerberg-hospitaal te besoek om met in vitro-bevrugting te begin.

“Die voordeel van Tygerberg is dat die proses hier minder as die helfte kos as by ’n private praktyk, maar die waglys is bitter lank. Ons het ’n jaar gewag om met die proses te begin,” sê Simon. 

“Ons was versigtig optimisties en realisties oor in vitro-bevrugting, maar ons was rustig. Deur al die hormooninspuitings en hospitaalbesoeke was die proses net soveel meer moeiteloos as al die vorige kere se behandelings.

“Ons het elke klein mylpaal gevier, die dag toe die dokter nege follikels (eiersakkies) uithaal, die dag toe die dokter twee baie goeie gehalte embrio’s terugplant . . . en toe die dag van die swangerskaptoets,” sê Merwede. 

Toe sy vir die eerste keer in sewe jaar daai twee strepies op die swangerskaptoets sien, was sy oorstelp van vreugde.

“Ek het ontelbare swangerskaptoetse in die sewe jaar gedoen en nog nooit twee strepies ervaar nie. Ek het so lank daaroor gedroom en ons reaksies in my kop oor en oor gespeel. Maar dit was niks soos ek my voorgestel het nie; toe ek daai positiewe toets sien, was daar geen trane nie, net ’n uitbundige lag uit my maag. Dit het heeltemal onwerklik gevoel en ek het omtrent honderd keer seker gemaak dat ek wel ’n positief sien.”

Maar die werklikheid het eers ingeskop toe die Van Tonders met die eerste skandering uitgevind het daar is meer as een baba.

“Daar was twee embrio’s wat geheg het, ’n tweeling, wonderlik! Maar toe, op agt weke gaan ons vir nog ’n skandering en die dokter moet baie fyn kyk; eers laat weet hy die tweede baba is baie groter en toe dat daar drie is. 

“Simon se gesig het spierwit geraak en die dokter was sprakeloos. Al wat hy kon sê, is ‘I don’t know how this happened’.”  

Soos die tyd aangestap het, het die egpaar gewoond geraak aan die idee van ’n drieling en die opgewondenheid het gegroei.

“Ons het ook besef dat drie babas saam met baie finansiële uitgawes kom, maar ons weet en vertrou dat die Here voorsiening sal maak op die pad vorentoe,” sê Simon.

Merwede het ’n goeie swangerskap ervaar met die gewone naarheid in die eerste trimester en moegheid in die tweede trimester.

“Die derde semester was bietjie moeiliker. Hoe meer hulle gegroei het en die spasie beperk geraak het, so het my ongemak en pyn vermeerder. 

“Ek kon die laaste rukkie van my swangerskap skaars eet en het amper niks geslaap nie. Die pyn in my ribbes en rug was baie erg.”

Op dertig weke het haar dokter egter opgemerk dat daar tweeling-transfusie-sindroom by die identiese tweeling voorkom. Dit is wanneer tweelinge ongelyke hoeveelhede van die plasenta se bloedtoevoer deel, wat daartoe lei dat die twee fetusse teen verskillende tempo’s groei. 

“Dit kan baie gevaarlik wees, so ek het dadelik ingegaan vir ’n keisersnit.”

Amiah het 1,4 kg en die tweeling – Zelke 890 g en Madené 1,2 kg geweeg.

Hulle is tans in die neonatale waaksaal waar hulle goed aansterk. 

“Hulle is af van suurstof af en kry net borsmelk en ekstra-kilojoule-voeding. Hulle tel elke dag geleidelik gewig op. Hulle behoort teen middel Februarie huis toe te kan kom,” sê Merwede. 

Die Van Tonders hoop dat hul storie ander paartjies wat deur onvrugbaarheid gaan sal hoop gee.

“Ons weet die journey kan lank en baie alleen voel, maar hoop dat ons storie ander sal inspireer en sal help,” sê Simon. 

besig om te laai... Regstreeks
Sri Lanka 220/5
Zimbabwe 302/8
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
15.48
-0.6%
Rand - Pond
21.02
-0.2%
Rand - Euro
17.56
-0.1%
Rand - Aus dollar
11.13
-0.3%
Rand - Jen
0.14
-0.7%
Goud
1,819.78
+0.0%
Silwer
23.61
+2.5%
Palladium
1,910.50
+1.7%
Platinum
991.50
+1.5%
Brent-ruolie
86.48
+0.5%
Top-40
68,282
-0.9%
Alle aandele
74,956
-0.8%
Hulpbronne 10
74,510
-0.3%
Industriële 25
94,294
-1.3%
Finansiële 15
15,338
-1.0%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos