.

Eetplek kry ’n hupstoot

akkreditasie
Bertus Basson, Misi Overturf, Adele en Nate Smith. FOTO: misi overturf creative
Bertus Basson, Misi Overturf, Adele en Nate Smith. FOTO: misi overturf creative

Deur die pandemie se golwe, vlakke van inperking en regulasies, moes baie ondernemings spartel en spook, en planne maak en kreatief dink om kop bo water te probeer hou.

Een plaaslike onderneming wat moedig om oorlewing baklei het, het danksy die televisiewerklikheidsreeks In die sop ’n welkome hupstoot gekry.

In dié reeks neem die sjef Bertus Basson en binneontwerper Misi Overturf eetplekke onder hande. Die episode waarin DNA Café and Eatery by Langverwachtplein in Kuilsrivier verskyn, is verlede week op kykNET uitgesaai.

Dié eetplek, voorheen The Daily Coffee Café, is op 1 Oktober 2016 deur die egpaar Nate en Adelé Smith saam met Adelé se broer, Dugard Cloete (bekend as Duke), geopen.

Om ’n restaurant te besit was ’n droom wat Adelé met haar broer gedeel het. Sy is dankbaar hy kon dit tog verwesenlik.

Duke (38), wat ooglopend fiks en gesond was, is skaars ses weke later, op 19 November 2016, skielik tydens ’n veldwedloop weens ’n aneurisme oorlede.

DNA verwys na Duke, Nate en Adelé. In ’n emosionele oomblik tydens die episode wys Basson daarop dat daar ook vir Duke ’n voorskoot teen die muur hang.

Adelé sê Duke se glimlag kon ’n vertrek ophelder. Sy laaste WhatsApp status: “Move. Win. Never Stop”, het vir hulle ’n nalatenskap en mantra geword om na te streef – wat daaraan herinner om “nooit op te gee nie, altyd te leer en vorentoe te gaan, selfs al is dit babatreetjies op ’n slag.”

Tydens die streng inperking in Maart 2020 het Adelé aan TygerBurger gesê hul onderneming is in ernstige moeilikheid want “geen verkope of omset beteken geen geld om personeel, verskaffers en huur te betaal nie.”

Sy was bekommerd oor hul werknemers en hul afhanklikes. Aanlyn is versoeke gerig om 23 werknemers tydens die streng inperking te ondersteun.

Hulle het begin kyk na moontlikhede soos wegneemetes en ander alternatiewe – “afhangend van wat tydens die inperking en daarna toegelaat sou word,” het sy destyds gesê.

In terugblik sê Adelé nou dit was ’n tyd van groot onsekerheid. Sy het voorheen ’n konsultasie-onderneming bedryf, wat ook tot stilstand gekom het. Sy en Nate het in 2019 ook die franchise van The Daily Coffee Café by Willowbridge bekom. “Dit was nog nie ’n jaar oud nie, toe ons moes toemaak.” Hulle moes dit verkoop.

Hulle het by die Restaurant Association of South Africa (Rafa) se Facebook-groep aangesluit vir ondersteuning.

“Niemand het geweet hoe om met die ‘stilstand’ om te gaan nie. Die rekeninge het aanhou kom – munisipale tariewe, belasting ... die berg skuld, trauma en angstigheid het net groter en groter geword.”

Adelé sê ingewikkelde handelsbeperkinge, ook op drankverkope, het dit haas onmoontlik gemaak om winsgewend te wees en regeringshulp was nie maklik toeganklik nie.

“Die Ters-hulplyn (tydelike verligtings-skema) was oorweldig deur oproepe. Selfs nadat jy ’n paar uur aangehou het, was die stelsel van lyn af of daar een of ander verskoning.”

Adelé sê Nate sou 02:00 in die nag sit en probeer om hul werknemers se aansoeke aanlyn in te kry.

“Ons het WhatsApp-boodskappe gekry van ons werknemers wat sê hulle is honger, of gaan uitgesit word omdat hulle nie hul huur kan betaal nie – met foto’s van hul kinders by – om te pleit vir hulp. Dit was hartverskeurend, en ons was in dieselfde boot.”

Vir kleinsake-ondernemings wat nie prokureurs kon bekostig nie, was dit ’n moeilike administratiewe proses, sê sy.

“Veral met geen inkomste, en dit terwyl ons allerhande maniere probeer vind het om lewe in ’n sukkelende onderneming te blaas. Dit was hel, elke dag.”

Boonop is Nate se ma tydens die eerste inperking oorlede en hul kinders moes by aanlyn skoolgaan aanpas. Adelé het in 2020 ook teruggekeer na ’n voltydse pos.

Gereelde klante het hulle gehelp om elektroniese koopbewyse vir hul werknemers te verskaf. “Ons almal het geleer om elke sent te rek totdat ek en Nate nie meer ’n sent gehad het nie.”

Hulle was so diep in die rooi dat haar ouers moes uithelp met van hul aftreegeld, sê sy.

In die moeilike tyd het hulle baie van hulself en oor verhoudings geleer.

“Die inperking het of die ergste, of die beste uit mense na vore gebring.”

Dikwels moes die pad vorentoe heroorweeg word. As “swart besigheidseienaars” kon hulle ‘‘’n klein bedrag’’ befondsing kry, en een keer het hulle met ’n radio-kompetisie kontant gewen.

“Ons het met ’n potjiekos weeksaandete-spyskaart begin en baie wortelkoeke en verjaardagkoeke verkoop. Ek en Nate het self kos gemaak en etes afgelewer.”

Om terug te ploeg in die gemeenskap, was nog altyd belangrik, sê Adelé. Hul “Frontline Fridays”-inisiatief om koffie aan dokters en verpleegpersoneel te verskaf tydens die pandemie, was ’n “no brainer” sê sy .

“Ons het nie inkomste gehad nie, maar het besef ons het 75 kg se koffie, en wie benodig koffie tydens ’n pandemie?”

Die gesondheidswerkers wat lang ure moes werk, was ’n maklike keuse, sê sy.

Met die gemeenskap se hulp kon hulle dit vir langer as twee jaar aan die gang hou.

Nate Smith vee hul ou spyskaartbord skoon om plek te maak vir die nuwe een.
Die nuwe spyskaart fokus op plaaslike kos (“Cape Soul Food”) en elke Sondag is daar koesisters.
Die nuwe spyskaart op die ou bord wat behou is as die hart van die restaurant.
Bertus Basson, Misi Overturf, Adele en Nate Smith. FOTO: misi overturf creative

“Reeds voor die pandemie sou ons geleenthede hou, hetsy vir kanker (Nate is ’n kanker-oorlewende), of in samewerking met klante en inwoners ten bate van die ouetehuis in Sarepta, of vir bewusmaking rondom maatskaplike sake of vrouebemagtiging,” sê sy. 

Kuns is nog ’n passie. Sedert 2017 is “Expression Sessions”, waar kunstenaars gratis kon optree, by hul koffiewinkel aangebied op die laaste Sondag van elke maand. Dit is iets wat nou weer kan voortgaan. 

Dat hul koffiewinkel nou met ’n nuwe baadjie kan spog, sê Adelé, het begin by ’n slapelose nag ‘‘met oneindige bekommernisse” toe sy op Facebook deur “The Lockdown Recipe Storytelling Book” (nou “Food Fairies”) geblaai het. Dit is ’n geslote groep wat deur Ingrid Jones begin is tydens die inperking en gaan oor “komvandaan kos”, sê sy.

Sy het Errieda du Toit se inskrywing wat deelnemers soek vir In die sop gesien en 02:00 in die oggend ’n opstel geskryf met die hoop op ’n “restaurant-evolusie”, soos kyk-NET dit noem.

Adelé sê hulle het die eerste reeks van die program gekyk en kon met baie vereenselwig.

“Ons het so baie geleer deur net te kyk. Dit was ’n lewensboei wat hoop gebied het.” 

Hul ou koffiewinkel se deure is einde November vir ’n paar dae gesluit vir die omskepping en verfilming.

Sedert die episode verlede week uitgesaai is, was hulle baie besig, sê Nate. Maar dit is ’n goeie probleem om te hê, gee hy toe. 

besig om te laai... Regstreeks
United States of America 310/5
Scotland 206/10
Rand - Dollar
15.57
+1.0%
Rand - Pond
19.66
+0.2%
Rand - Euro
16.71
+0.1%
Rand - Aus dollar
11.15
+0.1%
Rand - Jen
0.12
+0.2%
Goud
1,853.66
0.0%
Silwer
22.12
0.0%
Palladium
2,076.50
0.0%
Platinum
956.50
0.0%
Brent-ruolie
119.43
+1.7%
Top-40
63,883
+1.4%
Alle aandele
70,486
+1.4%
Hulpbronne 10
76,948
+0.6%
Industriële 25
76,115
+1.3%
Finansiële 15
16,257
+2.5%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos