
’n Volle 21 jaar nadat ’n dogtertjie doodgebore is, vier ’n gesin van Welgemoed haar verjaarsdag soos gewoonlik – deur ’n partytjie van ’n ander soort te hou.
Die Grobbelaars, Anda, haar man Len en hul kinders, Lané (24) en Andelé (18), gaan op 1 Augustus oudergewoonte vir Anelda (Bibi) eer deur ’n engelpartytjie te hou. By hierdie partytjies, wat hulle al sedert 2007 hou, gee hulle vir ’n gekose welwillendheidsorganisasie goedere wat hulle ingesamel het.
“Dit gee vir my ’n geleentheid om ’n verskil in ander mense se lewens te maak,” sê Anda. “En dit gee waarde aan die feit dat sy gebore en toe dood is. Sy was deel van jou lewe. ’n Mens moet dit vier; dit erken.”
Die gesin het vanjaar die organisasie Hannah’s Place of Safety in Mitchells Plein gekies, nadat hulle vir jare goedere tydens die partytjie aan die Choc-stigting vir kinders met kanker geskenk het.
Anda sê al rede vir die verandering is omdat ’n eks-kollega daar werk en sy só van die plek se behoeftes te hore gekom het.
Hannah’s House is ’n plek van veiligheid vir mishandelde en afgeskeepte baba’s, wat daar bly totdat hulle in pleegsorg geplaas kan word.
Die Grobbelaars het destyds die engelpartytjies begin nadat Choc by Lané se skool gepraat het. Sy was toe om en by agt jaar oud en toe sy vir die verteenwoordiger van Choc vertel wat met haar sussie gebeur het, het dié haar aangeraai om so ’n partytjie te hou om Bibi se lewe te vier.
Die begin
Sodoende het die Grobbelaars al deur die jare klomp goed geskenk – meestal deur vriende, kennisse en kollegas te kontak.
Bibi se storie het nie net die partytjies geïnspireer nie, maar Anda het ook ’n boek oor hul verhaal geskryf, wat internasionaal gepubliseer is.
Die boek Bibi’s Story vertel hoe die gesin hul traumatiese gevoelens ná Bibi se dood verwerk het en hoop om ander mense met soortgelyke probleme te help. Die boek is op Amazon.com beskikbaar.
Anda is ook ’n motiveringspreker wat ander help om hul hartseer te verwerk.
“Ek het die geleentheid om vir hulle te leer om van hierdie ongelooflike donker swart gat tot ’n plek van lig en hoop te kom.”
- Kontak Anda by 083 461 8134 om by te dra of om die boek te koop.