.

iPads afgelewer by die Laerskool Kalkfontein

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kaylin Hufke, gr.6-leerder wat in September as wenner van Growsmart se geletterdheidskompetisie aangekondig is hier by die iPads en ander toerusting wat die Laerskool Kalkfontein danksy haar prestasie ontvang het.
Kaylin Hufke, gr.6-leerder wat in September as wenner van Growsmart se geletterdheidskompetisie aangekondig is hier by die iPads en ander toerusting wat die Laerskool Kalkfontein danksy haar prestasie ontvang het.

Daar was verlede Dinsdag, 15 November groot opgewondenheid by die Laerskool Kalkfontein toe iPads en ander bykomstighede ter waarde van R350 000 aan die skool oorhandig is.

Dit het gekom na die goeie nuus wat die skool in September ontvang het toe Kaylin Hufke, ’n gr. 6-leerder, as wenner in die afdeling vir geletterdheid in die jaarlikse Growsmart-kompetisie aangewys is.

Die Growsmart-kompetisies, ’n inisiatief van die eiendomsmaatskappy Growthpoint, wat sedert 2010 in samewerking met die provinsiale onderwysdepartement aangebied word, is aanvanklik in die Wes-Kaap begin om laerskoolleerders se geletterdheid en wiskunde te verbeter.

Die skool neem al sedert 2015 deel, maar Kaylin is hul eerste wenner.

Ondersteuning

Die prys wat die skool ontvang, is ’n mobiele “iPad lab”, verskaf deur iSchoolAfrica, wat sedert 2014 by Growsmart betrokke is.

Erna Schnautz, grondslagfase-programbestuurder van iSchoolAfrica, sê die nie-regeringsorganisasie bring net die beste tegnologie na skole. Meer as 340 skole is landwyd by hul programme betrokke.

Die mobiele “iPad lab” bestaan uit 20 iPads met vooraf gelaaide toepassings wat aansluit by die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum. Die toerusting sluit ook projektors en oorfone in.

Schnautz sê dit is nie ’n geval van “drop and go” nie.

Ondersteuning sal oor die volgende twee jaar aan die skool gebied word.

Fasiliteerders word aan die skool toegewys om die onderwysers op te lei sodat hulle self die tegnologie in die klaskamer in werking kan stel.

“Die kurrikulum bestaan uit 10 opleidingsessies. Ons modules sluit syfervaardighede, geletterdheid, asook ’n bietjie lewensvaardighede in,” sê Schnautz. Modules kan ook toeganklik gemaak word vir leerders met spesiale behoeftes.

“Ons stel die hele program in werking. Die fasiliteerder sal ook soggens hier wees om as mentor op te tree of hulp te verleen in die klaskamer. Dit is ’n holistiese program. Reg aan die begin doen ons ’n toets om die basiese vaardigheidsvlak te bepaal en ná ses tot agt maande word dit weer getoets om vordering te meet.”

Die gr. R- en gr. 7-klasse van Kalkfontein sal volgende jaar die eerstes wees om die iSchoolAfrica-program te gebruik.

Schnautz sê om volhoubaarheid te verseker, moet twee “iPad-kampioene” by die skool aangewys word.

“Dit is onderwysers wat die program gaan bestuur. Hulle sal bykomende opleiding ontvang en ook nuwe onderwysers oplei. Dit is baie belangrik, want ná twee jaar as ons die skool verlaat, moet hulle verseker dat die program voortgaan.”

Probleme hanteer

Schnautz sê hulle het ’n stelsel (multiple device management system) in plek om oorsig te hou oor die toerusting vanuit iSmartAfrica se hoofkantoor in Sandton.

“Ons tegniese raadgewer sal ook die ‘iPad-kampioene’ oplei. Die skool het ’n profiel en ons tegnikus sal iPads op die profiel kan byvoeg of verwyder vanuit ons hoofkantoor.”

Die tegnici kan enige probleme hanteer wat opduik, opgraderings van die iPads doen, asook sien of dit in gebruik is of gelaai is.

Die belangrikste is dat hulle ten alle tye kan sien waar die iPads is. “As jy ’n iPad wegdra, kan ons jou volg.”

Schnautz sê saam met die opgewondenheid met die oorhandiging van die toerusting is dikwels ook bekommernis omdat nie almal vol selfvertroue is as dit by tegnologie kom nie.

“Onderwysers is ook besig en mag dink, waar gaan hulle die tyd kry om dit in die klaskamer te gebruik? Ontspan, as jy ’n slimfoon kan gebruik, kan jy ’n iPad gebruik.”

Sy sê hul opleiding gaan eintlik nie oor tegnologie nie.

“Ek kan jou binne vyf minute wys hoe om ’n iPad te gebruik, maar ons fokus is integrasie met die kurrikulum. Hoe gebruik ek hierdie gereedskap om dit wat ek doen, te verbeter – veral syfervaardighede en geletterdheid.”

Die leerders hoef nie na ’n ander vertrek te gaan nie, want die iPads kom na die klaskamer toe.

“Met die iPads in jou klas, kan jy aangaan met die kurrikulum soos altyd. Die iPad pas by jou les in; die les hoef nie aan te pas vir die iPad nie.

“Julle gaan nie eens agterkom julle is besig met skoolwerk nie.”

Schnautz sê by van die skole het hulle terugvoer ontvang dat leerders minder afwesig is. “Hulle wil skool toe kom om die iPads te gebruik. Neem eienaarskap van die program, kyk na die toerusting en geniet dit.”

Opvoeding verander lewens

Jewel Harris, stigter van Growsmart, het Kaylin vir haar prestasie geprys.

Kaylin, wie se huistaal Afrikaans is, het die Engelse spelkompetisie gewen.

Harris het ook erkenning gegee aan Natalie Buffels, Kaylin se klasonderwyser, wat as haar mentor opgetree het. Onderwysers maak ’n verskil in kinders se lewens en die prys wat Kaylin vir die skool gewen het, is ook “lewensveranderend’’, sê Harris.

Sy het gewys op die uitdagings van die Kalkfontein-gemeenskap wat die skool bedien.

“Ten spyte van al die uitdagings wat enigeen mag hê – die lewe is vol uitdagings en onvoorspelbaar – het julle die geleentheid van onderrig, om enigiets te kan word – glo dit, weet dit, studeer, leer en gebruik hierdie prys. Dit ontsluit ’n hele nuwe wêreld vir julle.”

Harris het gevra dat die skool Kaylin sal ondersteun ter voorbereiding vir haar deelname aan die Afrika- “Spelling Bee”-kompetisie in Malawi in Desember.

“Sy gaan Growsmart, die Laerskool Kalkfontein en Suid-Afrika verteenwoordig. Help haar en leer saam met haar om al die woorde te kan spel.”

Growsmart borg Kaylin se reis-en-verblyfkoste.

Die toekoms is digitaal

Allan van Niekerk, skoolhoof, sê die skool se leerders het sedert 2015 aan verskeie afdelings van die Growsmart-program en kompetisies deelgeneem.

“In 2019 het drie leerders na die halfeindronde van die geletterdheidskompetisie deurgedring. Vanjaar het die formaat (digitaal) in ons guns verander, want hier in Kalkfontein het ons reeds in 2006 ons rekenaarsentrum bekendgestel.”

Van Niekerk sê dit was ’n aanpassing vir die leerders en die mentors om aan die aanlyn platform gewoond te raak, maar dat baie tyd en moeite ingesit is.

”Hoewel daar persoonlike omstandighede was, kon Kaylin bo dit uitstyg,” sê hy.

“Deur die kompetisie te wen het daar vir haar deure oopgegaan.”

Al is daar ’n tekort aan positiewe rolmodelle in die gemeenskap, moet die leerders gebruik maak van die geleenthede wat aan hulle gebied word, sê Van Niekerk.

“Vandag is dit Kaylin, môre kan dit jy wees. Die wat bereid en in staat is om hul beste te doen, kan hulself uit omstandighede presteer. Moenie laat omstandighede jou terughou nie.”

Deel van Van Niekerk se visie is om die skool ten volle te digitaliseer. Hulle het reeds ’n aantal iPads ontvang (vir gr.1 tot 3) as deel van ’n projek en het ook 40 tabletrekenaars in ’n kompetisie van Heart FM-radiostasie gewen.

“Kalkfontein het verlede jaar reeds met robotika en kodering begin,” sê Van Niekerk.

“Ons sal ten volle gebruik maak van hierdie prys. Dis ’n mite dat Kalkfontein se leerders nie kan nie. Hierdie leerders weet hoe.”

En, skerts Van Niekerk: “Hulle weet ook wanneer om kanse te waag.”

besig om te laai... Regstreeks
Australia 164/3
West Indies 0
besig om te laai... Regstreeks
Nepal 29/3
Scotland 0
besig om te laai... Regstreeks
Easterns 26/2
South Western Districts 0/0
besig om te laai... Regstreeks
Northern Cape 0
KwaZulu-Natal Inland 0
Rand - Dollar
17.17
-0.1%
Rand - Pond
20.93
+0.1%
Rand - Euro
18.06
-0.2%
Rand - Aus dollar
11.54
+0.0%
Rand - Jen
0.13
+0.1%
Goud
1,783.59
-0.1%
Silwer
22.72
+0.0%
Palladium
1,862.50
+0.5%
Platinum
1,010.50
+0.4%
Brent-ruolie
77.17
-2.8%
Top-40
67,822
-0.1%
Alle aandele
74,035
+0.0%
Hulpbronne 10
72,368
-1.1%
Industriële 25
91,496
+0.8%
Finansiële 15
15,543
-0.5%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos