.

Jong man vind sy ma ná dekades

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gerrit van Eeden by sy ma, Sara Prins.FOTO’s: Carina Roux
Gerrit van Eeden by sy ma, Sara Prins.FOTO’s: Carina Roux

’n Ma en seun wie se paadjies meer as drie dekades lank geskei was, is verlede week herenig.

Gerrit van Eeden (36) het jare lank gesoek en aanhou glo dat hy sy ma sou vind.

Verlede week het hy haar uiteindelik met die hulp van die Kuilsrivier-polisie opgespoor.

Gerrit vertel hy en sy broer, wat so twee of wat jaar ouer as hy is, het by pleegouers in Kraaifontein grootgeword.

“My pa het ons van babatjie-tyd in pleegsorg weggegee.”

Gerrit sê hy was 17 toe sy broer hom vertel het “hierdie is nie ons regte ouers nie”.

“Ek was 18 toe ek nou skool klaargemaak het in Kuilsrivier by die Alta du Toit-skool. Toe het ek na my ma-hulle gaan soek.”

Hy vertel dat hy onder meer in Ceres en Worcester gewoon het en wye draaie per bus gery het – tot so ver as Upington, Springbok en Johannesburg.

“Ek het my ma-hulle se name gevat en gesoek.”

Oral het hy mense gevra of hulle dalk sy ouers ken.

Gerrit het verlede jaar in Ceres by die polisie gaan raad vra oor hoe om sy ma op te spoor.

“Toe sê die polisiemense in Ceres my ma se ID, se geboortepapiere, moet ek gaan trek. Toe gaan betaal ek dit daar by die ID-plek in Ceres.

“Toe sê hulle ‘Gerrit, jy gaan ses maande wag om die papiere te kry’.”

Die allerbelangrike “papiere” het Gerrit toe vroeg in die nuwe jaar gekry. Hy het Kaap toe gekom en by sy meisie se familie in Elsiesrivier gebly. Na aanleiding van ’n adres het Gerrit verlede week Maandag sy soektog Kuilsrivier toe geneem.

“Ek het uit Elsies gestap tot in Kuilsrivier. Ek het niks geld en niks kos gehad nie – my maag was dolleeg, maar die Here het my nog steeds gehou,” sê hy.

Mense het hom aangeraai om polisiekantoor toe te gaan. “Ek het my ma en my pa se ID-nommers en name, alles polisiekantoor toe gevat.

“Hulle het my rondgery na die plekke toe waar my ma-hulle gebly het in Kuilsrivier en met die mense gepraat.”

Niemand kon egter sê waar sy ouers hulle bevind nie.

“Toe stuur die polisie my na die speurders toe. Die krag moes 14:00 aangegaan het, toe sê die kaptein – die baas by die speurders – vir my, ‘Gerrit, wees net patient, jy gaan jou ma kry.

“Wag net dat die krag aangaan – sit daar op die bankie’.”

Ek het gesit en gesit. Ek het gedink ek kan nou nie vir hulle ’n stukkie brood vra nie. Toe die krag aangaan, toe help hulle my.’’

Sers. Lindsay Cupido by die speurders span gereeld die polisie se hulpbronne in op soek na verdagtes. Hy vertel hy het Gerrit daar sien sit en aangebied om hom te help. “Toe ons praat, toe kom ek agter Chappies is sy pa – ek ken hom.”

Cupido het in die kantoor rondgevra of iemand weet waar Chappies (Reon van Eeden) is en die ouetehuis in Sarepta gebel. “Hulle ken hom, maar hy is ’n paar jaar gelede oorlede.”

Cupido sê hy het gedink dis dalk die einde van die ondersoek, maar het verder gesoek met die ma se naam en identiteitsnommer. Met insae van ‘n kollega is ’n adres in Wesbank geïdentifiseer.

“Ek het toe vir Gerrit gesê: ‘Kom, ons gaan kyk daar – moontlik is dit jou ma’.”

Gerrit het eers in die kar bly sit terwyl Cupido met die vrou gesels het.

“Die speurder (Cupido) het eers gevra of dit die persoon is. Hy wys toe die papiere vir my ma. Ek het toe nog nie geweet dit is my ma nie. Toe my ma die papier vat, toe gryp sy my en sy druk vir my en soen vir my. Toe sê sy vir my, ‘my seun, ek het al die jare na jou gesoek’,” vertel Gerrit.

Sara Prins het bevestig sy het vir Chappies geken en wou weet of dit haar seun, Gerrit is, sê Cupido.

“Sy het ook geweet sy pa was in die ouetehuis en is reeds oorlede. Sy het ook (’n tatoeërmerk van) die pa se naam (Reon) op haar arm.”

Kroegman

Sara vertel sy het Van Eeden by die destydse De Kuilen-hotel ontmoet. “Ek was kok en hy kroegman. Ons het lank saamgebly en toe die oudste klong gekry.”

Sy sê die hotelbestuurder se vrou het aangeraai dat die ‘’kind afgemaak word.”. (Dit was in die jare tagtig en veelrassige verhoudings ongewens.)

“Ek het gesê ek ken nie sulke goed nie. Anyhow, die kind is gebore.” Hy het haar in die hospitaal besoek en haar die eerste paar jaar bygestaan, vertel sy.

“Tot my klong so groot was’’ – sy beduie kniehoogte. “Ons was nie getroud gewees nie, maar het saamgebly.“

Nie lank nie ná hul tweede seun, Gerrit, se geboorte moes die hotel plek maak vir Shoprite, vertel Sara.

Vir ’n ruk het hulle nog saamgebly, maar is weens verskeie omstandighede later uitmekaar. Sara was werkloos en het met die twee kinders by familie in Sarepta gaan bly.

‘’Toe sê my antie ek moet begin plek soek vir my twee ‘wit kinders’. Ek kan nie daar bly nie, die mense gaan teen my draai.”

Sy en haar tannie het vir Reon gaan besoek. “Ek moes ’n plan maak – waarnatoe moet ek gaan met die kinders? Gerrit was nog ’n babatjie, (hy het) net begin kruip.

“Toe sê hy vir my ek kan die kinders by hom los, dan gaan hy vir ons ’n plek kry.”

Sara sê Reon het aanvanklik die kinders vir ’n vrou gegee wat toe saam met hom by ’n drankwinkel gewerk het.

‘’Die vrou gaan toe Kraaifontein toe met my kinders. En hy sign toe (vir pleegsorg). Hy het hul name ook opgegee sonder my wete, daarom dat hul van Van Eeden is – hul pa se van.”

Sara Prins en Gerrit van Eeden gesels met sers. Lindsay Cupido van Kuilsrivier-polisie wat Gerrit gehelp het om sy ma op te spoor.FOTO: Carina Roux

Sy was eers nie te bekommerd nie, maar het hom later, toe sy ’n beter blyplek gekry het, gevra oor haar kinders.

“Hy het gesê, ‘nee, ek kan niks sê oor die kinders nie, die kinders het sy van – ek kan niks doen nie’.”

Sy vertel daar was nog kere wat sy hom gevra het na die adres waar haar kinders is. Sy het ook die vrou vir wie hy aanvanklik die kinders gegee het, raakgeloop, maar sy het haar vertel die kinders is “afgeskryf” en toelaes word uitbetaal vir hul sorg.

“Ek het gesoek en was ook in Eersterivier by die welsyn. Hulle het gesê as ek nie geboortepapiere het nie, kan niks gedoen word aan die saak nie.”

Reon wou nooit vir haar enige detail gee nie, sê Sara.

“Ek het net die een foto van die oudste klong toe hy nog ’n babatjie was – die foto het niks gehelp nie.”

’n Klompie jare gelede het Sara weer vir Reon raakgeloop.

“Toe slaap hy in die bos daar in Kuilsrivier. Ek het gesê ‘Reon, jy kan nie so lewe nie, gaan terug na jou mense in PE – jy het mos familie. Ek kan nie vir jou blyplek gee nie, want ek’s getroud nou’. Hy het gesê die polisie gaan hom help om in die ouetehuis te kom. Daarna het ek hom nooit weer gesien nie,” sê sy.

Sara sê sy is baie bly haar jongste seun het haar gesoek.

“Ek het nie eens ’n foto van hom gehad nie.”

Gerrit bly vir eers by sy ma en haar man. Hy sê elke aand dankie dat hy haar gevind het. “Ek is so bly ek het haar gekry.”

Hy hoop dat sy ouer broer die berig sal sien en na hul ma sal uitreik. “Hy moet sien wat God gedoen het.”

besig om te laai... Regstreeks
India 0
Australia 76/2
Rand - Dollar
17.72
+0.2%
Rand - Pond
21.43
+0.0%
Rand - Euro
19.02
+0.0%
Rand - Aus dollar
12.32
-0.2%
Rand - Jen
0.13
+0.2%
Platinum
976.77
-1.0%
Palladium
1,660.55
+0.4%
Goud
1,878.26
+0.1%
Silwer
22.38
+0.3%
Brent-ruolie
85.09
+1.7%
Top-40
73,968
0.0%
Alle aandele
79,976
0.0%
Hulpbronne 10
74,722
0.0%
Industriële 25
103,851
0.0%
Finansiële 15
16,339
0.0%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos