
Aanhouer wen, en so het Kihara Visser ná sewe probeerslae uiteindelik vanjaar haar droom bewerkstellig om die titel van Junior Mej. Tiener Suid-Afrika te wen.
Die mooi Brackenfell-nooi is op 2 Julie by die eindronde van Pageants SA se 22ste jaarlikse kompetisie in Pretoria gekroon, waar sy ook die toekennings vir beste onderhoud, beste aanddrag, beste model en beste liefdadigheidsambassadeur verower het.
“Ek het elke jaar geleer uit my foute en harder gewerk. As daar een ding is wat ek vir ander jong mense wil leer, is dit dat ’n mens nooit moet moed verloor vir jou drome nie,” sê die gr. 10- leerder van die Hoërskool Brackenfell. Sy sê die oomblik was baie groot en emosioneel vir haar en noudat sy dié titel gewen het, wil sy dit gebruik om ’n rolmodel en voorbeeld vir ander te wees. Om jong kinders te motiveer, lê haar baie na aan die hart.
“As ’n tiener in vandag se tye is daar so baie vorms van boeliery. Ek wil die jeug van vandag leer om ’n stem te kry sodat hulle vir hulself kan opstaan teen ander en ek wil graag vir hulle die boodskap oordra dat hulle genoeg is en belangrik is.”
Sy sal haarself ook toespits om in die volgende 12 maande liefdadigheidswerk in haar gemeenskap te doen om ’n verskil te maak in minderbevoorregtes se lewe.
Sy het haar eie projek, Blessing for the homeless, begin, waardeur sy met die ondersteuning van haar ma, Mariska, kos en toiletbenodigdhede aan straatmense voorsien.
“Ons maak maandeliks pakkies op met waslappe, seep, tandepasta en sanitêre doekies, wat ons vir straatmense in Kraaifontein, Brackenfell en Durbanville gaan uitdeel saam met ’n lekker bakkie sop. In ons laaste uitreik het ons sowat 60 bakkies sop en 40 pakkies uitgedeel,” sê sy.
Sy is ook ’n Water Warrior, ’n organisasie wat hom daarop toespits om water en veevoer in te samel vir areas wat deur droogte geteister word.
Buiten haar liefdadigheidswerk het Kihara ’n liefde vir dans en drama en sy het al selfs op die kassie verskyn in ’n plaaslik vervaardigde produksie.
“Ek is baie dankbaar vir my ma, pa en ouma wat my altyd ondersteun en my modeljuffrouens, van die RVT-modelskool, wat my gehelp het om my droom te bereik. “
“Ek dra my titel met trots en ek wil graag ’n baie positiewe bydrae tot my gemeenskap lewer,” sê sy.