
Die Ruyterwacht Safety Parent Watch het verlede Dinsdag sy 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders by die Ruyterwacth-seniorklub begin met die fokus op geweld teen ouer mense.
“Ons wil bewusmaking skep gedurende die 16 dae van aktivisme om mense in te lig dat hulle nie moet stilbly oor huishoudelike geweld nie,” sê Alletta Lottering, stigter van die Ruyterwacht Parent Safety Watch.
“Bewusmaking oor die mishandeling van bejaardes en dat die bejaardes na vore moet kom, is baie belangrik, want baie van ons bejaardes word mishandel deur hul kleinkinders, hul familielede en kinders,” vertel Lottering.
Een van die temas by hierdie program was “hands off our elderly”. Dit was om ’n poging aan te wend om ouer mense in te lig dat daar hulp is as hulle hulp benodig.
Misbruik en mishandeling
Die 16 dae van aktivisme beteken baie, veral noudat daar so baie misbruik en mishandeling voorkom, veral huishoudelike geweld en “battering”, sê sy.
Lottering vertel dat sy ook insit met die slagofferondersteuning in die traumakamer by die Elsiesrivier-polisiekantoor. “Huishoudelike geweld is een van die grootste uitdagings in ons gemeenskappe. Dit beteken hierdie 16 dae moet eintlik elke dag wees, want hierdie 16 dae van aktivisme wat net een keer per jaar plaasvind, is nie genoeg nie,” sê Lottering.
Bewusmakingspraatjies
Volgens AO Esmarelda Flandorp van die Elsiesrivier-polisie lewer sy gereeld bewusmakingspraatjies in samewerking met die Ruyterwacht Parent Safety Watch.
Vir Flandorp was dit belangrik om die ouer mense in te lig dat hulle deel uitmaak van die kwesbare groep mense, net soos met die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld, kinders, vroue, gestremdes en die LGBTQIA+-gemeenskap.
“Ons ontvang ’n redelike aantal klagtes van bejaardes, veral oor huishoudelike geskille en familielede wat bejaardes mishandel en uitbuit,” vertel Flandorp.
Kwesbare mense
“Daarom wil ons tot hulle deurdring dat hulle ingesluit is onder die kwesbares. Kwesbare mense is mense wat nie hulself kan verdedig nie.”
Lottering verduidelik baie van ons jeug en skoolkinders is getraumatiseer en kom uit gebroke huise. Baie kom uit gemeenskappe waar bendeoorloë plaasvind, waar kinders ondervinding het oor hoe ’n vuurwapen gebruik word om iemand dood te skiet.
“Baie kinders moes al hardloop vir hul lewens as gevolg van bendeoorloë. Baie van hulle is getraumatiseer, want in die huis self is daar huishoudelike mishandeling en dit is hoekom daar in die skole so baie kinders geboelie word, want ons kinders is getraumatiseer,” sy.
“Ek wil graag hê dat hierdie boodskap sterk uitgaan – dat 16 dae van aktivisme elke dag moet plaasvind, want geslagsgebaseerde geweld en huishoudelike geweld in ons gemeenskappe vererger,” verduidelik Lottering.
Saam met kinders op die paaie
Die Safety Parent Watch-patrolleerders is met die kinders op die paaie.
“Baie van ons kinders bunk skool, baie van die kinders het belangstelling verloor in hul lewens en dit baie keer oor die omstandighede by hul huis.
“Soms gaan dit oor die samesyn, waar daar geweld plaasvind. Baie kinders is swak, nie almal is sterk nie, maar die Safety Parents is daar om die kinders te bemoedig en te sê, ‘the future is yours and the future is in your hands’ ” sê sy.