
Voorstede in TygerBurger se verspreidingsgebied moes verlede week opruim nadat drie dae van aanhoudende reën groot dele onder water gelaat het.
Paaie in voorstede soos Delft, Bishop Lavis en Bonteheuwel was onbegaanbaar.
In video’s wat op sosiale media gedeel is, kon gesien word hoe mense in die strate swem, terwyl ander weer op tuisgemaakte bootjies die water aandurf. Iemand het selfs in ’n opblaasswembad die water aangedurf.
So erg was dit dat sommige busse ompaaie moes neem om by hul bestemmings uit te kom.
Angus McKenzie, raadslid vir Bonteheuwel, sê baie paaie in die omgewing was oorstroom. “Ek wil weer ’n beroep doen op inwoners om nie vullis in die stormwater-afvoerpype te gooi nie. Omdat daar vullis in die pype is, kan reënwater nie wegspoel nie en dit veroorsaak die oorstromings. Die meeste van die oorstromings kan voorkom word,” sê McKenzie.
Quinton Adams, ook bekend as die Shackbuilder, sê hy en sy span is besig om in informele nedersettings met opruimingswerk te help. “Dit is elke jaar dieselfde storie as die storms kom. Mense se huise oorstroom en hulle kry van nêrens af hulp nie. Ek en my span stap met ons waterstewels en skep emmers vol water uit mense se huise. In sommige gevalle is dit so erg dat mense se hele huis verskuif moes word,” sê Adams.
Adams sê dit is hartseer om te sien hoe veral kinders in die nat toestande sukkel.
“Dit is nie meer net ’n geval van mense se oorstroomde huise red nie, maar daar is regtig ’n menslike tragedie. Ons het ook nou al komberse en mussies begin uitdeel. Die Food Fairies-organisasie help ons ook met skenkings,” sê Adams.