
Saam het hulle reeds 60 sakke sout opgeëet, maar steeds taan die liefde tussen Samuel (79) en Mary (80) Marshall van Belhar nie.
Die Marshalls het onlangs hul sestigste huweliksherdenking gevier en ’n liefdesvlam wat dekades gelede in Crawford ontstaan het, brand nog sterk.
“My pa raak sommer aan die huil as hy na my ma kyk en hy sal altyd vertel hoe lief hy vir haar is,” sê Sharon van Neil, die paartjie se dogter.
Volgens Van Neil is Samuel in die destydse Distrik Ses gebore en Mary in Crawford. “Hulle het mekaar by ’n opelug-kerkdiens in Crawford ontmoet. Albei van hulle was by hul kerk se brigades betrokke en hul liefde het net gegroei. Vier jaar ná die ontmoeting is hulle in die St. Mark’s kerk in Bamfordlaan in Crawford getroud,” sê Van Neil.
Volgens Mary is een van die fondamente van hul huwelik dat sy gedurig bid vir haar man en die kinders.
“Ek is geduldig en nederig. Soms word ’n mens mismoedig, maar as jy die Here dien, dra Hy jou dag vir dag,” sê Mary.
Samuel glo dat ’n mens altyd moet glimlag. “Al woed die storms ook, moet jy glimlag. Uiteindelik gaan dit daaroor dat ek en my vrou lief is vir mekaar, maar belangriker nog dat ons lief is vir die Here,” sê Samuel.
Alles in hul lewens was ook nie altyd net maanskyn en rose nie, want Samuel moes reeds op die ouderdom van 45 uittree weens ’n hartaanval. Hy het intussen drie opehart-operasies ondergaan en is dankbaar dat hy nog lewe. Mary ontvang reeds vir twee jaar dialise vir haar niere, maar by die hospitaal bid sy sommer vir die personeel.
Ses kinders is uit die huwelik gebore.