
’n Man wat Sondag in ’n motorongeluk betrokke was, is ontevrede omdat dit die polisie amper twee ure geneem het om op te daag.
Eddie Gaffley het Sondag sy broer in Blackheath afgelaai, waarna hy huiswaarts wou keer.
Toe hy egter by ’n vierrigtingstop stilhou, het hy ’n harde slag gevoel.
“Ek het ratte verwissel toe ek die slag hoor en voel. Met die impak het my motor teen ’n ander motor voor my gebots. In my truspieël kon ek sien hoe kinders, wat in die minibustaxi (agter my) was, rondval toe die taxi my tref,” sê hy.
Bestuurder besope
Gaffley sê toe hy uit die motor klim en by die taxi kom, het hy gesien die bestuurder was besope.
“Hy was so dronk dat hy skaars op sy bene kon staan, maar hy wou uitklim. Ek het hom terug in die taxi gedwing.
“Daar het ander taxi’s op die toneel verskyn en dit wou voorkom of hulle die bestuurder van die toneel wou wegneem.
“Uiteindelik is al die mense in die taxi deur ’n ander opgelaai, maar nie een van hulle het ’n mediese ondersoek ondergaan nie,” sê Gaffley.
Polisie vat lank
Die ongeluk het omstreeks 15:30 plaasgevind en Gaffley het kort daarna die polisie gebel.
“My broer het hom ook na die toneel gehaas om my by te staan.”
“Aangesien dit ’n maatskappymotor is wat ek bestuur het, het hulle ook twee gewapende wagte gestuur om my te beskerm. Die minute het verbygetik terwyl ons op die polisie gewag het en dit het later amper twee ure geword. Die polisiekantoor is minder as ’n kilometer van die toneel. Ek is bitter teleurgesteld omdat dit nie die soort diens is wat ’n mens van die polisie verwag nie. Wat as die dronkbestuurder weggekom het?” wil Gaffley weet.
Volgens Gaffley het die taxibestuurder later agter die stuurwiel aan die slaap geraak, voor die polisie hom in hegtenis geneem het.
“Ek het net ligte beserings opgedoen, maar die motor is onherstelbaar beskadig. As ek net vinnig moet bereken, beloop die ander motor se skade meer as R40 000.”
Wag nog op kommentaar
Die Mfuleni-polisie het teen druktyd nog nie reageer op navrae deur TygerBurger oor hoekom hulle so lank geneem het om op die toneel te kom nie.