
’n Man (23) van Brackenfell was nie van plan om kanse te vat met sy lewe toe vier gewapende rowers verlede Donderdag sy bakkie omsingel het naby die R300- brug op Ou Paarlweg nie.
Die man, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het soos oudergewoonte op dié plek aan die rand van die pad gestop om sy werkers op te tel.
“Ek staan elke dag dieselfde tyd daar, so voor 06:00, en wag vir my werkers. Ek dink die ouens moes my roetine vir dae dopgehou het voor die rooftog,” het hy Maandagaand aan TygerBurger vertel.
“Terwyl ek sit en wag, het ek gehoor iemand klop skielik aan albei my vensters, wat toe was. Toe ek opkyk, het ek die vier mans gesien – twee aan elke kant van die kar, wat met gewere aan die vensters getik het,” sê hy.
Van daar het alles soos ’n rolprent in stadige aksie afgespeel.
“Dit was eintlik vinnig verby, maar het soos ’n ewigheid gevoel. Die man aan die passasierskant het my gevra om die deur oop te maak en ek het dit dadelik gedoen. Ek wou nie kanse vat nie... sou hy skiet of sou hy nie? Was dit ’n gelaaide geweer of nie?
Ek het aan al die dinge gedink, maar het gedoen wat hulle vra. Die man het altwee my selfone en my beursie gegryp.
“Die ou aan die ander kant het iets gesê van my karsleutel, maar nog voor ek die deur kon oopmaak, het die ander een vir hom gegil dat hulle moet gaan. Ek dink daar was seker karre in my rigting op pad,” sê hy.
“Net so vinnig soos hulle verskyn het, het hulle weer in die pad af verdwyn. Die vier mans was almal in swart geklee met swart beanies op – drie bruin mans en een wit man. Maar meer as dit kan ek nie onthou nie.
“Dit het my nogal geruk en ek was vir dae lank baie ontsteld, maar ’n mens moet maar seker aangaan.
“Een ding is seker, ek staan nie meer op daardie selfde plek en wag vir my werkers nie en sal van nou af my roetine gereeld verander. Ek het nooit besef dat ek moontlik dopgehou word nie,” sê hy.
Die saak is nie by die Brackenfell-polisie aangemeld nie.